Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Aktueel
Kyk: Suzanne Venter gesels met Pierre van Pletzen
Oubaas: In die Laan gesteek

Pierre van Pletzen kyk na die massiewe boom agter in die erf van die huis waar hulle al 18 jaar lank woon.

“In die aande kom speel die nagapies daar. ’n Klomp van hulle. Dis te mooi,” sê hy en kry ’n sagte glimlag. Dan dink hy.

“Hy was so groot soos ’n bonsai toe ek hom gekry het by Madel (Wilna Snyman wat jare gelede ook te sien was in 7de Laan).

“Sy was by een of ander geleentheid en het dit nogal gekry by Keith Kirsten, toe gee sy dit vir my, want sy het in ’n woonstel gebly en nie plek gehad nie,” sê Pierre in die braai­area van sy en sy vrou, Sandra Vaughn, se huis in ­Pretoria-Oos.

Hulle moet die huis nou verkoop en Sandra is besig om alles reg te kry vir die eiendomsagent wat later kom foto’s neem.

Soos vir sy geliefde 7de Laan-karakter, Oubaas Septimus van Zyl, is ’n woonstel dalk nou ook sy voorland. Dit kom nadat hy net meer as ’n week gelede in die pad gesteek is by die sepie waar hy die afgelope 17 jaar gewerk het. Hy en Sandra moet nou hul rieme dun sny.

Tot en met Donderdag was hy nog in die duister oor hoekom hy skielik die trekpas gekry het.

“Maar toe laat weet my skoonma vandag (Donderdag) sy lees die topbestuur sê dit is omdat Oubaas se intriges uitgeskryf is,” sê hy en vou sy arms.

Dis nou vir jou ’n ding.

Ek is heeltemal fine met mense se persepsies van my as ’n bedonnerde ou man. Hoewel ek eintlik ’n ou softie is. Maar moet my nie verkeerd opvryf nie.

“Onkruid man! Dis absolute nonsens. Om nou die rede vir my afdanking voor die deur van die skrywers te sit, is absoluut lafhartig.

“Oubaas is ’n asset. Jaar ná jaar is hy een van die gewildste karakters. En ek het al soveel idees gegee vir lekker ­interessante storielyne.

“Hoekom kan Oubaas nie vir ’n slag die laken ophang in hul woonstel nadat hy en sy wederhelf, Hilda (Annelisa Weiland) baklei het nie. Dan sit sy vir ’n slag en sukkel aan die een kant en hy eet lekker Kentucky aan die ander kant.

Pierre boks met sy hondjie Virginie op die bank in hulle geliefde huis wat hulle nou moet verkoop nadat hy afgedank is by 7de Laan.Foto’s: Deon Raath

“Of hy kan dominee uitvang wat ’n affair het en dan teen hom draai. Kan jy dink hoe lekker dit kan wees?”

Maar volgens hom is al sy voorstelle gesien as kritiek. Selfs toe hy nog een van die regisseurs was en geregtig was op ’n mening.

“Dit het alles drie, vier jaar terug ­begin toe Danie (Odendaal, die aanvanklike vervaardiger) uitgewerk is,” sê Pierre en voeg by dat hy nie “afgetree” het soos wat almal dink nie.

Nou is dit Oubaas se beurt en op 4 Augustus gaan hy sy laaste gevleuelde woorde spreek voor die kamera.

En nee, hy is nie ’n bedonnerde ou man nie . . .

Dis nou Pierre, nie Oubaas nie.

Maar ná drie jaar van verandering en terugslae in die Laan kan hy op 65 nie langer stilbly en toekyk hoe ’n ding waarvoor hy lief is, opgeneuk word nie.

Die eerste probleme kom van Julie 2014.

“Ek het gevoel iets k*k kom en toe kry ek ’n hartaanval en hoor drie weke later ek gaan oor agt dae nie meer een van die regisseurs van 7de Laan wees nie. Net agt dae kennis,” sê hy en swaai sy wysvinger.

Pierre as jong akteur.

Verlede jaar het hy, Hilda en Matrone (Annelize van der Ryst) gehoor dat hul tonele gesny gaan word en dat hulle op ’n roepgrondslag aangestel is.

Nog ’n keer het sy salaris gekrimp. En toe hoor hy verlede week Oubaas se tyd by 7de Laan is verby – en hy kry geen salaris ná 4 Augustus nie.

Ná die hartaanval het hy ’n stent gekry en hy voel nou baie beter, maar dis steeds baie stresvol. Hy moet praat oor die goed wat gebeur het. Vir sy eie gesondheid. Dit moet uit.

“So, ek is heeltemal fine met mense se persepsies van my as ’n bedonnerde ou man. Hoewel ek eintlik ’n ou softie is. Maar moet my nie verkeerd opvryf nie. Ek raak bedonnerd oor onregverdigheid en het nou lank genoeg gebuk gegaan daaronder,” sê hy en vat ’n sluk van sy Coke.

“Ek is nou al 45 jaar in die bedryf en ek was so naïef toe ek begin het. Maar nie nou meer nie.”

Hy het eintlik heel toevallig gaan drama swot. “Nie dat ek ooit iets anders sou wou doen nie. As daai geen jou beet het, los hy jou nie.

“Ek het vir al twee my kinders (Zetske, aktrise, en Peach, musikant) ook so gesê. Jy gaan nie ryk word nie, maar wel gelukkig wees. As jy hom voel brand, moenie ­teëskop nie.

“Ek het sadly in my 45 jaar in die bedryf baie mense gesien wat skop en dan later in hul lewe baie spyt is.”

Hy het as die jongste van drie seuns in Stilfontein in Wes-Transvaal grootgeword.

Daar was nie geld vir sy twee ouer boeties om te gaan studeer nie, maar sy pa het gesê hy het ’n geldjie vir Pierre wat dit met ope arms aangegryp het.

“Ek gaan toe Potch toe en loop rond op die kampus soos ’n verlore skaap. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het nie ingeskryf vir enige vak nie en gedink dis soos hoërskool. Daar gaan klokke wees wat lui en ’n groot saal en dan gaan ons almal dieselfde klasse loop.

“Ek het nie besef dit vertak nie. Toe sien oom Joggie Jansen, studenteadviseur, my deur sy kantoorvenster en stuur ’n student en sê: Gaan vra daai maer seuntjie wat so verdwaal daar rondloop wat maak hy.”

Toevallig het die dramadosent, prof. Theuns Botha, Joggie minute voordat Pierre by sy kantoor ingestap het, gebel om te sê hy het groot moeilikheid, want daar is 24 meisies wat wil drama swot en net twee mans.

“En hy vra toe hoe gaan hy ’n play kan opvoer met daai konfigurasie. Toe sê hy vir Joggie as hy enige verlore ­skape kry, vul vir hulle dramavakke in,” vertel Pierre terwyl Sandra op die trap sit en luister.

“Daar staan ek toe skaam met my moccasins. Joggie vra wat ek wil word en ek sê ’n speurder. En ek kon tromme speel, maar ek het nie die ­nodige eksamens gedoen nie.”

So beland Pierre toe by die drama­studente.

“Ek sal dit nooit vergeet nie. Die eerste keer toe ek ’n stuk uit een van Tsjechof se toneelstukke op die verhoog moes doen, het ek soos ’n vis in water gevoel.

“Ek het gedink, hey, I can do this, I like it. Die dosente was ook onmiddellik baie positief. Maar kyk, ek het gemompel. En ek moes hard daaraan werk.”

En só het ’n baie suksesvolle loopbaan begin. Pierre was dramahoof by twee streekrade, eers Sukovs en later Truk, waar hy tien jaar lank gewerk het. Hy het jare lank net verhoogwerk gedoen. Sy eerste televisiereeks was Klein jakkalsies teenoor Sybel Coetzee in die vroeë 1980’s.

“Ek kan nie meer my karakter se naam onthou nie. Hans of so iets. Maar wat wel interessant is, is dat Themsie Times die rol van ons huiswerker, Baskalina, vertolk het en ook jare later die rol van my en Hildatjie se huiswerker, ­Maria, in 7de Laan.”

“Wel, ook nie nou meer nie. Sy is reeds lankal uitgewerk. Ek weet ek dwaal nou af, maar in ’n stadium sê die nuwe bestuur by 7de Laan dinge verander nou daar.

“Die fokus is op families. So, daar is byvoorbeeld die Welman-familie en die Meintjies-familie en so aan en ek, Hilda en Matrone behoort nie aan ’n familie nie, al is Oubaas en Hilda getroud,” sê hy en begin lag.

“Nou por Hilda my aan en sê maar gaan vra vir hulle wat dan nou van Marko (Francois Lensley) en Diederik (Hennie Jacobs), wat al twee single is. Toe sê hulle vir my hulle is familie, want hulle is neefs,” sê Pierre, gooi sy hande in die lug en begin weer lag.

Benewens Oubaas en talle ander ­televisie- en verhoogrolle was daar natuurlik ook die legendariese Spike van Orkney snork nie.

“Eintlik was iemand anders gecast in die rol, maar Willie Esterhuizen bel my toe en sê die ou is nie reg nie. Hy dink ek moet kom, want ek het simpatie met die myners omdat my pa een was. En toe kry ek die rol, maar het ook in daardie stadium nog by Truk gewerk in die Staatsteater in Pretoria.

“Dan berei al die ander akteurs voor deur die week en ek jaag deur Johannesburg toe op ’n Vrydag ná werk, gaan gou deur my lyne en dan neem ons dit op voor ’n lewendige gehoor,” vertel hy van die karakter en reeks wat volksbesit geword het. “Dis opgeneem op video en later oorgedra na DVD.”

Hy kyk met deernis na Sandra en hul twee Jack Russells, Amelie en ­Virginie.

“Jy weet, ek het Sandra amptelik ontmoet op die dag wat ek van Elzette (Maarschalk), my eerste vrou, geskei het. Ek het haar ’n ruk tevore as student op die verhoog gesien en die mooi meisie het dadelik my oog gevang.”

Hy en Elzette het op ’n Vrydag geskei en sy vra toe dat hy asseblief die aand saam met haar na ’n geleentheid moet gaan, want hul vriende het toe nog nie geweet hulle is geskei nie. Hy was nogal vies daaroor. Maar toe is die mooi meisie ook daar en hulle loop mekaar raak by die kostafel . . .

“Elzette het dit gesien en vir my gevra, wie was dit? Toe sê ek sy is iemand wat ek nou die dag in ’n toneelstuk gesien het en sy sê toe: Daar was ’n halo om jul koppe.”

Omtrent twee jaar later het Sandra hom gevra om te trou.

“Ons het gekuier in Melville en dit was Skrikkeldag. Ons was in die middel van die pad, daar naby die hoek in 7de straat wat in die ou temaliedjie van 7de Laan te sien was. Sy vra toe ‘trou met my?’ en ’n kwantumsekonde later skree ek ja!” bulder hy die woorde uit.

“It was one of the two best lines we ever spoke.”

Pierre is ook tans te sien in Phil 101 op kykNET en in Die oomsse band op Via, waar hy saam met Frank Opperman in die Harrebaard-groep speel.

Ongelukkig is daar nie tans enige ­nuwe rolle wat wag nie.

Buiten die soektog saam met Sandra na ’n nuwe blyplek. “Waarskynlik ’n cottage. Of ’n woonstel iewers in Johannesburg. Maar daar moet ’n tuin wees. Ons het die twee belowe,” sê hy en wys na die honde.

“Ag, maar ons sal heeltemal fine wees.

“En ek wou regtig nooit moeilikheid maak nie. Wat sing Bob Dylan nou weer? It was never my intention . . . ”

Meer oor:  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.