29 Mei 07:44
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Dinsdag

21°C / 14°C

Wind 8km/h

Reënval 0

Humiditeit 49%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Donderdag

18°C / 14°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 72%

Vrydag

21°C / 14°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Saterdag

18°C / 14°C

Wind 28km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Aktueel
Marida Fitzpatrick: Oscar het álles probeer, behalwe die waarheid
Marida Fitzpatrick

Oscar Pistorius het Donderdag finaal ’n doodloopstraat bereik. Nadat hy alles probeer het, elke regsmoontlikheid uitgeput het, elke traan in sy lyf, elke sent van sy fortuin uitgestort het, het sy laaste hoop op uitkomkans laat Donderdagmiddag soos ’n swaar ysterhek voor sy oë toegeskuif.

Anders as in die hooggeregshof, waar ons vir maande aaneen moes aanskou hoe ’n man op elke denkbare manier flenters breek, het hierdie laaste ontwikkeling geheel en al sonder drama gebeur.

Waardig, soos net die konstitusionele hof kan, het die aankondiging op ’n enkelbladsy-dokument gekom. Net agt swart woorde in Times New Roman: “The application for leave to appeal is dismissed.”

En so het nege regters genadiglik ’n skoon einde gebring aan hierdie morsige sirkus.

Dwarsdeur die sage het daar met elke ontwikkeling ’n moeras van regsmoontlikhede voorgelê: Daar kan nou na dié hof of daai hof geappelleer word, sou regskenners verduidelik; of dié wet of daai presedent moet nog omgekeer word. Geen uitspraak of bevinding was ooit finaal nie. Tot nou toe.

Nou lê daar net een ding voor, die een enkele ding wat Oscar ten alle koste wou vermy: Sy vonnis vir moord.

Want die eenvoudige waarheid is: Oscar Pistorius het Reeva Steenkamp vermoor.

Suid-Afrika weet dit, die wêreld weet dit, Oscar weet dit. In die verhoor het hierdie waarheid so verstrengel geraak in kabels, duvets en waaiers, in WhatsApps en video’s, in dolus eventualis en error in objecto, dat dit ’n volbank appèlregters gevat het om dit raak te sien.

Die een mens wat die heeltyd die waarheid geweet het, die vólle waarheid, het verkies om dit te verswyg.

Enige mens wat in hof GD in die Noord-Gautengse hooggeregshof gesit het, kon sien en hoor Oscar vertel nie die hele waarheid nie. Selfs regter Thokozile Masipa het bevind hy was nie eerlik met die hof nie.

Ná alles weet ons dus hy het Reeva vermoor, maar wat regtig daardie nag tot die moord gelei het, sal altyd ’n raaisel bly.

Deur dit te doen, deur te weier om oop kaarte met die hof of die wêreld te speel, het Oscar homself dalk erger gestraf as wat enige regter kon. Want hy en hy alleen moet nou vir die res van sy lewe met daardie waarheid saamleef. Dit moet ’n helse, eensame las wees om te dra.

Hoe sou dinge anders verloop het as hy reg in die begin skuld beken het en die volle waarheid vertel het?

Die hof sou waarskynlik, tesame met sy fisieke gestremdheid en sielkundige probleme, sy eerlikheid en berou as versagtend beskou het. Dit sou heel moontlik ’n aansienlik korter vonnis vir hom beteken het.

Hy sou sy vonnis dadelik kon begin uitdien, sonder die hel en onkoste van ’n verhoor. So sou hy nie net homself nie, maar sy familie, die Steenkamps en die staat baie ontbering gespaar het.

Hy sou vandag reeds drie jaar van sy vonnis uitgedien het, goed op pad om ’n nuwe lewe te begin. En dít sou hy kon doen met die wete dat die waarheid uit is, dat die wêreld weet wat hy gedoen het en dat hy sy straf uitgedien het.

Nou, omdat hy gekies het om die waarheid vir homself te hou, is hy finansieel geruïneer, het hy homself en sy familie deur ’n jare lange foltering gesit, gaan hy, behalwe vir die byna jaar wat hy reeds in die tronk was, nou eers begín om sy vonnis uit te dien.

Maar sy werklike straf, die een wat hy homself opgelê het, gebeur waarskynlik op ’n gewone Dinsdagmiddag, of ’n oggend terwyl hy tande borsel, of diep in die na-nag, wanneer hy in ’n onbewaakte oomblik onthou en wéét wat regtig gebeur het, en die ondraaglike besef hom dan in die maag tref: Hy dra dit vingeralleen.

*Marida Fitzpatrick het destyds oor die saak verslag gedoen vir Beeld, die verhoor bygewooon, en die boek Die Staat vs. Oscar (Jonathan Ball) geskryf. Sy is tans Netwerk24 se Stemme-redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.