24 Junie 07:21
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Aktueel
’n Familieplaas waar ons nog ‘hande maak’

Rouxville. – “Ons sal moet hande maak vir die ouman. Hy het niks gehad nie, nie eens ’n ID-boek nie.”

Stoom kom uit Dingaan Jonas, die voorman op Zeekoegat, se mond as hy praat.

Hy beduie met sy kierie oor die berg, Aliwal-Noord se kant toe, waar die “ouman”, Geelbooi, Saterdag (vandag) begrawe word.

“Die ouman het doerie jare op Draaikloof vir jou pa skaap gewerk.”

Ek kyk na die stoom wat in die winterson se strale wegraak. ’n Paar kraaie vlieg oor die veld; agter hulle verkleur die sonstrale die Rooirant in pienk. Die ryp lê wit oor die veld.

Hande maak, dink ek. Dis mooi: Die familie gaan hande bymekaarsit om die man wat niks gehad het nie, se begrafnis te betaal. Daar sal skape geslag word en iets te drinke wees en Geelbooi, wat met die begin van die winter dood in sy makoekoe gekry is, sal “tevrede wees as hy goed gebêre word”.

Ons stap agter die lammerooie aan. Ooie blêr en roep na hul lammers. Die ryp lê wit op die skape se rûe. Lammers volg hul ma’s met hangore en stywe bene die geelwit veld in.

Onder ’n peperboom lê ’n lam yskoud en styf, sy kop agteroor getrek. Die ma roep blêrend na hom. Haar roep sny deur jou hart.

Wolke pak saam oor die Suid-Vrystaat. Die winter het vinnig en hard toegeslaan.
Lewe en dood. Dis die ewige siklus van ’n boerdery.

Lewe en dood. Dis die ewige siklus van ’n boerdery. Hier is ons in die middel van ’n lappie aarde in die Suid-Vrystaat, om ons lam die ooie en verder weg word die kalwers blinkvet van hul ma’s se melk. Soggens vroeg melk Dingaan ook van die beeste en die melk gaan vir hom en sy gesin.

Maar hier staan ons in die ryp met ons stewels langs die dooie lam.

Bo ons draai die kraaie in die grys lug. In die rante, in die vlakte langs die spruit en onder langs die huis tussen die sipresse is die grafte van die mense wat eens ook hier gelewe en gewerk het; lammers en kalwers grootgekry het en saans by die vuur gedink het aan die plaas, sy mense en sy diere.

Dis eintlik simbolies van ’n Vrystaatse familieplaas, dink ek.

Op hoeveel plase ken die eienaar nie meer die mense wat in die begraafplaas rus nie? Die name op die werkers se toegegroeide grafte verweer, hul stories raak weg soos stoom voor die son. Baie huise staan leeg en raak uiteindelik vervalle.

Klein boerderye maak net nie meer genoeg geld om te oorleef nie. Goeie, ervare plaaswerkers word skaars. ’n Jonger geslag stel nie belang om op plase te bly nie. Wit én swart.

Familieboerdery, die begin van die Vrystaatse ekonomie, begin wankel en sal eindelik ook doodgaan. Groot kommersiële boerderye met staatsplase kol-kol tussenin sal binne een tot twee dekades die plek van die familieplase inneem.

Net die verlate kerkhowe met die vergete name op die grafstene sal daar bly as teken van boeregesinne wat eens hier geleef het.

Maar hier kan ek en Dingaan op Zeekoegat staan en gesels oor mense wat drie dekades hier gewerk het en wat ons albei geken het. Ons kan tot drie geslagte gelede se mense en hul stories oproep.

'n Winterprentjie op 'n Vrystaatse familieplaas. Die ossewa wat oupa Frans Smith ná die Depressie op Zeekoegat ingespan het, staan steeds op Zeekoegat as simbool van die harde werk wat dit geverg het om 'n plaas in die soms harde wêreld te vestig. Agter gloei die populiere goudgeel in die sonnetjie. Fotos: Charles Smith
Ek kan op die stoep sit waar oupa Frans vir amper ’n halfeeu lank gesit het en koffietyd luister na die kransduiwe wat op die dak hoes.

Ek kan op die stoep sit waar oupa Frans vir amper ’n halfeeu lank gesit het en koffietyd luister na die kransduiwe wat op die dak hoes en sien hoe somer, herfs, winter en lente deur die jaar in die bome nesmaak; ek kan oor die veld staar en die plaas se stories en sy mense my verbeel.

In baie familieboerderye is dieselfde genetika waarmee oupas en oupagrootjies begin boer het, steeds in die skaap- en beesstoeterye en -kuddes te kry, veral in merinostoeterye. Dieselfde liefde vir skape, beeste en perde lewe van geslag tot geslag in boere se bloed.

Ek kan saans in die bed lê en weet in dié kamer het oupa Frans en ouma Martie die nagevolge van die Depressie en die dood van drie kinders deurgetreur en -gebid; hier het hulle saans en smôrens oor die draadloos die Tweede Wêreldoorlog en die val van genl. Jan Smuts en die opkoms van D.F. Malan beleef.

Diep in die donker nagte kraak die deurgeslyte plankvloer van die geskiedenis en as jy mooi en fyn luister, sal jy die stemme en die stories kan hoor.

Die diep gevoel van tevredenheid wat met die skoon, vars lug deur jou bloed en gebeente bruis.

As ek die oggend mieliepap op die stoof maak en die geur deur die ou huis trek en die buitedeur oopmaak, die kierie wat Dingaan vir my gesny en gebrand het vasvat, die opgewekte honde roep om na die ooie wat lam agter die ou skool te stap, hoor jy die suiwer roep van die voëls in die kraakvars oggend en kan jy voel hoe jy begin lewe – die diep gevoel van tevredenheid wat met die skoon, vars lug deur jou bloed en gebeente bruis.

Om om te gee, om met familie dié plaas van jou voorvaders te kan herleef en met die werkers wat al dekades die liefde vir die diere het op die plaas wat vir hulle ’n heenkome is, te kan saamwerk, ís om te lewe. Om ’n lam aan die lewe te hou, is om die lot van die kruipende ekonomiese dood van die klein boerderye te beveg. Vir oupa Frans en ouma Martie se ontwil ook en pa Hendrik wat hier en op Mispa langsaan 52 jaar lank geboer het.

Stefan Schoeman van Winplaats bel om te vra of die tjopper ook oor Zeekoegat kan vlieg om die rooijakkalse uit die lug te skiet. Jy wéét, môre, oormôre lê hier twee, drie lammers in die veld met die bloed wat in die wit gerypte veld vloei.

Ons staan langs die dooie lam onder die peperboom; die ooi blêr aanhoudend, bo krys die kraaie. Dan draai ons om en keer die tien, elf ooie met hul lammers uit na die veld wat die aand in die koue gebore is en oorleef het, elkeen ’n klein wonderwerk, en ons stap met die kieries agter hulle die veld in, asem die yskoue, skoon lug in en voel hoe die winterson teen jou gesig raak en sien hoe die lig die nag se miskombers van die veld lig.

Al die foto’s is met ’n iPhone 7 geneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.