29 Mei 22:55
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

22°C / 14°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 47%

Woensdag

19°C / 14°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Donderdag

19°C / 13°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Vrydag

22°C / 14°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 50%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 36km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 69%

Sondag

16°C / 14°C

Wind 13km/h

Reënval 2mm

Humiditeit 65%

Aktueel
Nog vis, nog vrees

Die regering se planne om forelboerderye te lisensieer is ’n stap wat ernstige ekonomiese gevolge inhou, skryf Ed Herbst.

John Thoabala, ’n forelhengelgids en die algemene bestuurder van Mavungana, ’n groot kunsvlieghengelwinkel in Dullstroom, hier in die Molenaarsrivier in Wes-Kaap.

Die oortuiging dat forel nie in Suid-Afrikaanse riviere hoort nie omdat “tiere nie in die Krugerpark hoort nie” (“Forelbedryf vrees skade: Staat wil boere met wetgewing reguleer” – Rapport, 10 April) is tipies van die aanval op forel deur die anti-foreldrukgroep in die regering en sommige semistaats- wetenskaplike instellings. Dit is ’n emosionele reaksie wat die basiese instinkte prikkel, en selfs uitbuit, om enigiets te wantrou wat ons as uitheems beskou of wat ons dink nie tuishoort nie.

Dit is ook ’n absurde stelling wat ten doel het om xenofobiese opvattings oor uitheemsheid die middelpunt van omgewingsbestuur te maak.

Xenofobiese opvattings van uitheemsheid is egter nie die grondslag van die omgewingsreg nie. Die omgewingsreg is ’n mensereg wat volhoubare ontwikkeling bevorder op grond daarvan dat mense en hul behoeftes eerste gestel moet word. Dit moenie verdraai word as ’n tuiste vir anti-uitheemse sienings van ’n ekstreme faksie in die omgewingsbewaringsbeweging nie.

Die waarheid is dat forel nie gevaarlike ruimtewesens is soos sommige staatsamptenare beweer nie. Forel is ’n voordelige spesie waarmee al langer as 125 jaar in hierdie land geboer word om voedselproduksie en ontspanningshengel te bevorder.

Sommige ruskampe in natuurreservate in KwaZulu-Natal sou moes sluit as hulle nie forelhengel aangebied het nie.

Volumegewys is forelboerdery Suid-Afrika se grootste akwakultuuraktiwiteit en in geldwaarde die tweede grootste.

Forelboerdery stut forelhengel, wat danksy sy unieke aard ’n ontspanningshengel- en toerismewaardeketting van miljarde rande geskep het.

Forelhengel vir ontspanning is uniek omdat dit die enigste visbron in die land is waar hengelaars regstreeks belê in die visbedryf en die ekostelsels wat dit onderhou. Dit maak forel waardevol en die moeite werd om in te belê – ook omdat hul teenwoordigheid die waarde van eiendomme in dorpe waar hulle aangetref word, aansienlik verhoog het.

Die gevolg is dat forel as trekpleisters ingespan word in reklame vir ekotoerisme-bestemmings en private natuurreservate. Dit het tot beleggings en werksgeleenthede gelei wat voorheen nie beskikbaar was nie.

Sommige ruskampe in natuurreservate in KwaZulu-Natal sou byvoorbeeld moes sluit as hulle nie forelhengel aangebied het nie. Die ekonomie van sommige dorpe en landelike gemeenskappe word deur die beskikbaarheid van forelhengel ondersteun, soos Dullstroom, Machadodorp en Belfast in Mpumalanga. In KwaZulu-Natal is daar Underberg en Himeville, en daar is Rhodes in die Oos-Kaap.

Navorsing van die KwaZulu-Natalse toerismedepartement toon dat 5% van die provinsie se inkomste met kunsvlieghengel verband hou. Onlangse navorsing in Mpumalanga toon die meeste indiensneming in Dullstroom, wat die nabygeleë Sakhelwe-township insluit, is verwant aan toerisme en dit word op sy beurt deur forelhengel gestut.

Die waarde wat forel bied, is nie tot ontspanningshengel en toerisme beperk nie. Suid-Afrika het ’n land geword wat voedsel invoer. Klimaatsverandering, grondeis-druk en die toenemende industrialisering van landbou het alles ’n nadelige uitwerking op Suid-Afrika se vermoë om sy inwoners te voed.

Suid-Afrikaners sou hulself nie kon voed, was dit nie vir die vee en gewasse wat ons voorvaders van elders saamgebring het nie. Hierdie spesies – beeste, skape, druiwe, umfino en madumbi (Afrikapatat), om ’n paar te noem, word almal deur ons omgewingsowerhede as indringers beskou.

Akwakultuur is as ’n lewensvatbare en volhoubare metode geïdentifiseer om Suid-Afrika se vermoë te verbeter om bekostigbare proteïen te produseer. Operasie Phakisa het ten doel om hierdie potensiaal te ontgin. Forelproduksie lewer 30% (1 500 ton) van Suid-Afrika se aanvraag. Daar is derhalwe heelwat ruimte vir groei.

Die Grondwet verkondig dat Suid-Afrika ’n land is wat in sy diversiteit verenig is. Die idee dat ’n spesie wat Suid-Afrikaners langer as 125 jaar bevoordeel het, gevaarlik is omdat dit eens uitheems was, is strydig met dié grondwetlike waarde.

Prof. Duncan Brown van die Universiteit van Wes-Kaapland – en outeur van die boek Are Trout South African? – wys daarop dat die grootste bedreiging vir ons akwatiese ekostelsels nie vis soos forel is nie, maar wel die agteruitgang van habitat. Dink maar aan myne wat sonder lisensies in delikate ekostelsels werksaam is en munisipale watersuiweringsaanlegte wat nie in stand gehou word nie en riviere soos die Vaalrivier in oop rioolstelsels omskep.

Die waarheid is eise dat amptenare hul werk ordentlik moet doen, hou groot voordele vir sowel menslike gesondheid as die beskerming van ekostelsels in. Ongelukkig verkies baie amptenare om eerder forel die “sondevis” te maak, soos Brown dit stel.

Net soos dieretuine bedreigde diere teel en hervestig om te keer dat hulle uitsterf, kan die akwakultuurbedryf saam met die regering werk om bedreigde inheemse vis te teel, maar die anti-foreldrukgroep bestempel visse wat só geteel word as “mutasies”.

Die forelbedryf is nie teen regulering gekant nie. Dit steun regulering wat die regering se doelwit van die groei van die akwakultuursektor bevorder en die forelwaardeketting bevorder waar forel reeds voorkom. Hy werk nou saam met die regering om hierdie doelwitte te bereik.

Dit beteken nie daar is eenstemmigheid oor hoe dit moet plaasvind nie. Die forelwaardeketting is verbind tot die soeke na oplossings waar almal wen, selfs in gevalle waar daar nie eenstemmigheid is nie. Daar is tans ’n proses in die akwakultuursektor aan die gang om ’n oplossing te vind.

Die Phakisa Ocean Labs-konferensie in Julie 2014 het met ’n wen-wen-oplossing vir die ontspanningsforelbedryf vorendag gekom. Verteenwoordigers van die forelbedryf en die regering het saamgestem dat forel net binne enkele natuurreservate as indringers gelys sou word, asook in gebiede waar hulle nie voorkom nie, maar sou oorleef as hulle daar gevestig sou word. Aan die ander kant sou forel nie tot indringers verklaar word waar hulle reeds buite dié reservate voorkom nie. Die forelwaardeketting sou homself in dié gebiede reguleer. Risiko-assesserings sou vereis word as forel gevestig word in gebiede waar hulle nie voorkom nie.

Hierdie kompromis is later deur die minister van omgewingsake en die provinsiale LUR’e van omgewingsake bevestig. Ongelukkig vind sommige burokrate dit moeilik om te aanvaar omdat hulle so oortuig is dat forel indringers is. Die forelbedryf werk saam met die regering om hierdie persepsie te verander.

Die forelwaardeketting veroorsaak nie aansienlike skade nie, maar dra voordelige sosio-ekonomiese waarde tot die gesondheid en welsyn van die mense van Suid-Afrika by. Boonop word niks uit die grond gehaal soos met mynbou nie en word nasionale hulpbronne nie geoes soos in die geval van die seevisbedryf nie. In die lig van hierdie twee sleutelfaktore bestaan daar geen logiese rede om die waardeketting as sulks te reguleer of te lisensieer nie.

Suid-Afrikaners is ná die onlangse visumdebakel maar alte bewus dat ons nie onbesonne wetgewing nodig het wat ons toerismepotensiaal en -vooruitsigte skade sal berokken nie. Kom ons vermy daardie roete.

* Ed Herbst is ’n vryskutjoernalis en kunsvlieghengelaar. Sy boek oor eg Suid-Afrikaanse of “inheemse” kunsvliegontwerpe verskyn eersdaags.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.