Op soek na Etienne Leroux se Welgevonden
07 Oktober 2016 06:00
Waar kom Sewe Dae by die Silbersteins en die eksotiese plaas Welgevonden vandaan?

Sewe Dae by die Silbersteins, Etienne Leroux se Sestiger-roman wat nou al kultusstatus bereik het, was nie op blote fantasie gegrond nie. Willemien Brümmer het die herehuis op Bellingham naby Franschhoek besoek en haar midde-in die onwerklikheid van ’n sprokie bevind. 

Dis 1959. Die ridderroman Die mugu van die skrywer Etienne Leroux – met sy skaam, byna weerlose laggie agter die bokbaard – is gepubliseer. Suid-Afrika is toenemend van die buitewêreld geïsoleer. Dis net voor Sharpeville –’n tyd van noodtoestande, polisiegeweld en aanhouding sonder verhoor.

Etienne Leroux met sy kenmerkende bokbaard en donkerbril. Foto: David Goldblatt

Etienne, oftewel Stephen (sy regte naam), is in die voorhoede van ’n nuwe geslag skrywers wat, in sy eie woorde, in verset is teen “boekies vol sentimentele verlange na die plaas en die klein dorpie, na die valse prettigheid van plaaslike karakters” en die sogenaamde “ ‘goeie boek’ waar jou verlange na ’n geïdealiseerde bestaan saam met jou verlange na volkome ontvlugting in beliggaam is”.

Stephen is 37 jaar oud en aan die vooraand van die grootste deurbraak van sy loopbaan. Hy’s innemend en bemind, en wanneer hy ’n vertrek binnekom, ruik jy onmiddellik die onmiskenbare aroma van sy duur naskeermiddel en deodorant.

Die skrywer se pragtige en goed versorgde vrou, Renée, saam met wie hy op die plaas, Janee, naby Koffiefontein gevestig is, is deel van die Bloemfontein-skildergroep waaraan die Le Rouxs se vriende Alexander Podlashuc en sy vrou, Marianne, ook behoort. Dié groep is besig met ’n uitstalling in Johannesburg en die Pods en die Le Rouxs gaan by die skilder Cecil Skotnes tuis.

Op ’n aand gesels Stephen en Pod eenkant. Laasgenoemde vertel sy vriend van die Bellingham-landgoed naby Franschhoek, wat in besit is van sy aweregse neef Bernard (hoewel dié twee se vanne verskillend gespel word). Aldus Pod spreek die huis, die vrugteboorde, die wingerde en die tuin van ’n fabelagtige rykdom.

In die biografie Leroux:’n Lewe skryf J.C. Kannemeyer dat Pod en Marianne destyds jaarliks van Bloemfontein na die Boland gereis het om twee weke lank ’n weelderige vakansie by hul neef op Bellingham te geniet. Naas Nederburg naby die Paarl was Bellingham destyds die enigste plaas waarop landgoedwyne gemaak word.

In die komende dae en weke kom Leroux, aldus Kannemeyer, herhaaldelik na Pod terug vir nog staaltjies. “By die inligting wat Pod verskaf het, kon Stephen sy fantasie vrye teuels gee en ’n wêreld opbou wat inderdaad iets fantasmagories suggereer en die onwerklikheid van ’n sprokie het.”

Die omslag van Sewe dae by die Silbersteins.
Etienne Leroux
’n Blik op die wingerde van die Bellingham-landgoed in sy gloriedae. Naas Nederburg naby die Paarl was Bellingham destyds die enigste wynplaas waar landgoedwyne gemaak is. Foto: Bellingham

Wat min mense weet, is dat hierdie gesprekke die vonk was vir Leroux se grootste roman, Sewe dae by die Silbersteins, wat uit die newels van ’n verbeelde Bellingham tot ’n ondersoek na die onbekende streke van die menslike gees gekristalliseer het.

Dié roman, wat met die Hertzogprys bekroon is, is die verhaal van die jong, onkundige Henry van Eeden se inisiasieproses wat oor sewe dae voltrek word tydens sy besoek aan Welgevonden, die landgoed van die ryk Silbersteins.

Op die oppervlak is die doel van die besoek om sy steeds ontwykende verloofde, Salome, te ontmoet en met die uitspattige leefwyse van sy aanstaande skoonouers vertroud te raak. Soggens word hy vergesel van die baas van die plaas, Jock Silberstein, wat hom bekend stel aan die hoogs gemeganiseerde boerdery, en saans ontmoet hy verskillende groepe mense op partytjies: die rykes, die kunstenaars, die boere en die intellektuele.

In dié sewe dae moet Henry egter ook sy onskuld verloor, bewus word van die verstrengeldheid van goed en kwaad en die eensaamheid van die moderne mens voordat hy waardig is om sy Salome te ontmoet.

’n Plaas wat soos ’n sprokie is

Soos Welgevonden het die werklike Bellingham en sy geskiedenis ook die aanskyn van ’n sprokie. En al het Stephen en Renée die plaas eers kort ná die verskyning van Sewe dae in 1962 saam met die Pods besoek, is die ooreenkomste tussen die fiktiewe landgoed en Bellingham merkwaardig.

“Ons kon dit toe nie glo nie, want alles was net soos hy [Stephen] dit beskryf het,” onthou Renée. Aan die vooraand van 90 is sy steeds ’n wakker, mooi en stylvolle vrou. “Ek onthou veral die buitegeboue en die uitsig voor die huis en die swane op die dam. Toe ons die boek lees en ons vergelyk dit met wat ons gesien het, toe was dit presies so.”

Sy twyfel egter of hulle ooit binne die herehuis was en die eienaars, Bernard en Fredagh Podlashuk, wat vir die renaissance van Bellingham verantwoordelik was, ontmoet het.

Die Bellingham-herehuis is deesdae ’n museum wat net per afspraak besoek kan word. Die laaste inwoners was Bernard en Fredagh Podlashuk, wat vir die renaissance van dié landgoed verantwoordelik was. Hulle het die huis aan die nasie bemaak. Foto: Jaco Marais

Vandag, 54 jaar later, is Bellingham se tuin onversorg. Die verouderingskelder is net ’n vae herinnering aan die geoliede masjien van destyds, waar soos op Welgevonden die trekkers geraas, die vragmotors gebrul en die melkkanne geklater het.

Die herehuis binne sy wit ringmuur is agter ’n onverbiddelike heining wat oor kilometers en kilometers strek, en die huis is ’n museum wat jy net per afspraak kan besoek. Die eertydse plaas behoort tans aan Anthonij Rupert Wyne en jy moet deur die magtige veiligheidstelsel gaan om by Bellingham uit te kom.

Die handelsmerk en die wyn is intussen verkoop aan DGB, een van die grootste onafhanklike wyn-en-spiritualieë-vervaardigers en verspreiders in die land, en die huis langs die herehuis, waar die Podlashuks se swembadkamer en hul uitgebreide motorversameling eens gehuisves was, is deur DGB omskep om gaste en kliënte te onthaal.

Die slanke ‘Mrs.’ Silberstein

’n Skildery wat in 1994, ’n jaar ná sy dood, van die aweregse Bernard Podlashuk gemaak is. Die kunstenaar was ene D. Woof. Foto: Jaco Marais

Die Podlashuk-egpaar het die plaas in 1943 gekoop nadat Bernard, ’n Mefistofeles-figuur met ’n bokbaard en ’n pyp in sy mond, weens ’n longkwaal uit die Royal Air Force ontslaan is.

Die dokters het aanbeveel dat hy na ’n laerliggende gebied trek. Die beeldskone Fredagh het besluit ’n boerdery sou ’n manier wees waarop die paartjie hul uitspattige leefstyl wat hulle voor die oorlog gelei het, kon voortsit. Kyk jy na ’n portret van haar in die voorkamer van die herehuis, wonder jy vir ’n oomblik of Leroux sy slanke Mrs. Silberstein in Sewe dae op haar gegrond het. Albei is elegante vroue met swaanwit halse, hul borste half ontbloot en hul oë met intense plesier verlig.

Farming, for me, I thought, would be a wonderful way of life,” skryf Fredagh in haar memoires, Our Lives at Bellingham (Bellingchamp), wat by die herehuis in my hand gestop word. “But what of my husband? Educated at a public school in England, Bernard knew only of the gaiety of life in London, the excitements of Paris night clubs and the slopes of the Swiss mountains . . . ”

Op ’n reënerige dag gaan kyk hulle na Bellingham (aanvanklik genoem Bellin Champ) en deur die dik, grys mis sien hulle die bouvallige herehuis word feitlik omring deur berge – die Worcester-bergreeks aan die een kant en aan die ander kant die Groot Drakensteinpiek.

Sonder enige kennis van boerdery besluit die paartjie dadelik om te koop en hulle begin saam met 13 Italiaanse krygsgevangenes met die groot taak om die tuin en die herehuis esoteries en eksentriek – amper soos ’n soort Uilhuis (in Nieu-Bethesda) – vir die Bolandse wynadel te skep.

“In daai dae sou dit nie so ’n groot storie gewees het om die geskiedkundige perseel in sy oorspronklike vorm te behou nie. Fredagh het uitgekap en gebou nes sy wou,” vertel Leon Coetzee, opsigter en kurator van die Podlashuk Bellinchamp Nasionale Erfenisstigtingtrust.

“Om te betaal vir al die opknappings en hernuwing het Fredagh edelgesteentes uit haar juwele laat haal en dit met vals stene laat vervang.”

Om Fredagh se bad is klip en kristal. Sy het daarin gebad totdat sy 86 jaar oud was en bediendes haar in- en uit moes help. Foto: Jaco Marais
Die hemelbed in Bernard se kamer was eens op ’n tyd ’n geskenk aan die koning en koningin van Soematra. Die inskripsie lui “Pinem Respice”. Dit beteken: Wat jy doen, doen dit versigtig en wees bedag op die uiteinde.Foto: Jaco Marais
Die slaapkamer in wit en olyfgrys waar Fredagh in later jare op haar eie geslaap het. Bo die bed is ’n sementkopstuk wat sy self gehelp maak het saam met die Italiaanse krygsgevangenes, wat die egpaar in die veertigerjare gehelp het om die huis reg te maak. Regs is haar versameling blonde de chine.Foto: Jaco Marais

Gou was daar niks meer Kaaps-Hollands aan die ou opstal wat in 1693 aan Gerrit Janzoon van Vuuren gegee is nie. Die huis van binne is ’n eksentrieke mengsel van Eurosentriese en selfs Oosterse style, met eiers van semi-edelgesteentes en Boeddhabeeldjies van niersteen net waar jy kyk, asook vergulde Venesiese glas, goue gerubyne en duursame antieke stukke uit Frankryk, Rusland, Portugal en Italië.

Dis amper ’n kruis tussen ’n Bolandse Versailles en ’n New Age-tempel.

Dis amper ’n kruis tussen ’n Bolandse Versailles en ’n New Age-tempel. Om Fredagh se gesonke bad is kristalle, klip en plastiekblomme, en in Bernard se slaapkamer pryk ’n vergulde hemelbed wat eens op ’n tyd ’n geskenk aan die koning en koningin van Soematra was.

In die breë ingangsportaal word jy begroet deur twee Louis XVI-leunstoele en ’n skildery van ’n Russiese bruid, en in die reuse-slaapkamer na links is ’n versameling blonde de chine- en lalique-vase, wat enige versamelaar sal laat swymel.

Ook die tuin was ’n produk van die vrugbare verbeelding van die chatelaine van dié landgoed.

Met behulp van die krygsgevangenes het ’n naakte Aurora, die godin van die daeraad, haar sit op ’n perd gekry by een van die damme, en die Pods se eie klein Arc de Triomphe is gebou om die einde van die oorlog te herdenk.

Só lyk die swembad wat in die veertigerjare deur die Italiaanse krygsgevangenes gebou is. Toue is op die grond gesit om dié sementswembad uit te merk, maar soggens het Fredagh die toue skelmpies wyer uit mekaar geskuif sodat die swembad uiteindelik 40 by 60 voet groot sou wees. Foto: Jaco Marais

Toue is op die grond gesit om die sementswembad uit te merk, maar elke oggend het Fredagh die toue skelmpies wyer geskuif sodat dit uiteindelik 40 by 60 voet (sowat 12 by 18 meter) groot sou wees.

‘Pod’s folly’

Bernard en Fredagh destyds in hul voorkamer met hul kosbare versameling Venesiese glas agter hulle. Hulle het dit gekoop toe hulle destyds in ’n palazzo op die Canal Grande in Venesië gewoon het. Foto: Bellingham

Niel Groenewald, ’n bonkige reus wat die afgelope 12 jaar vir Bellingham se bekroonde wyne verantwoordelik is, vertel die Podlashuks het aanvanklik bitter min van ’n druiweplaas geweet. “Hulle het eers daarop gefokus om die huis reg te maak. Eers daarna kon hulle na die wingerde kyk en oor wyn leer. Gou was hulle die eerstes in Suid-Afrika wat droë witwyn, rosé en shiraz gemaak het,” sê hy.

“Die meeste ander plase sou meer van ’n koöperatiewe stelsel gehad het, terwyl die Podlashuks die wyn op die plaas gemaak het. Hy was ’n baie goeie bemarker.”

Toe die Bellingham Rosé bekend gestel is, was Pod byvoorbeeld bang dat kelners dit vir ’n rooiwyn sou aansien en teen kamertemperatuur sou voorsit. Hy het dus self eetplekke, asook die Blou Trein besoek om seker te maak dat die rosé teen die regte temperatuur voorgesit word.

Seker die bekendste merker van die Podlashuks se sukses is die legendariese Johannisberger, wat sinoniem geword het met die driehoekige bottel wat selfs in Sewe dae ter sprake kom. “Die bottels se vorm is afgelei van die vorm van die berg net agter die wynkelder,” vertel Coetzee. “Destyds kon jy nie by ’n klein restaurantjie inloop sonder dat daar een van daai bottels op die tafel met ’n kers in was nie.”

Bernard was veral beroemd vir die droë witwyn wat hy gemaak het, soos die bekostigbare Bellingham Premier Grand Cru.

Bernard was veral beroemd vir die droë witwyn wat hy gemaak het, soos die bekostigbare Bellingham Premier Grand Cru.

“Die maak van die wyn destyds op Bellingham klink vir my baie dieselfde as in die boek,” vertel Groenewald.

“In die vroeë vyftigs en sestigs was hier nog nie verkoeling nie, maar hy het ’n soort koekepanstelsel van Duitsland ingevoer wat die druiwesap koud gemaak het, en dit het as Pod’s folly bekend gestaan. Al die ander kelders was van buitetemperature afhanklik.

“Met hierdie toerusting kon hy die temperatuur beheer en seker maak gisting word voltooi sodat jy ’n droë witwyn kry. Hier was ook botteleringsfasiliteite soos in die boek en dit was hoogs gemeganiseerd vir sy tyd omdat hulle hierdie groot mark vir droë witwyn, die rosé en die shiraz gehad het.”

Ontbied vir middagete

’n Blik op die eetkamer van die herehuis waar baie van die beroemde partytjies gehou is. Die tafel van rooi essehout is vroeg Victoriaans en die stoele is uit die regentskap-tydperk.Foto: Jaco Marais
Chris Mauerberger, voorsitter van die Podlashuk Bellinchamp Nasionale Erfenisstigtingtrust. Hy was ’n soort surrogaatkind van die kinderlose Podlashuks en hy is so byna op die grasperk voor die herehuis gebore. Foto: Jaco Marais

Die partytjies, wat in Sewe dae by die Silbersteins mitiese proporsies aanneem, met die kaperjolle van die kunstenaars, sy ballet van die boere en selfs sy Walpurgisnacht, was ook by Bellingham soos iets in The Great Gatsby.

Chris Mauerberger, die voorsitter van die trust en ’n soort surrogaatkind van dié egpaar, wat amper op Bellingham se grasperk gebore is, onthou as jy nuut in die Drakensteinvallei was, het Fredagh jou vir middagete ontbied.

“Jy is genooi vir twaalfuur. Jy’t nooit vyf minute oor twaalf of vyf minute voor twaalf opgedaag nie, en jeans en kortbroeke was ’n doodsonde.” Mans moes kom met ’n das of krawat en ’n onderbaadjie aan, en die gesprekke om die tafel – van godsdiens en politiek tot musiek en die teater – het dikwels tot vyfuur aangegaan.

Dit was baie teatrale partytjies – wine, women and song, jy weet.

“Hulle was partytjiediere en ek dink vir hulle tyd was hulle relatief wild. Dit was baie teatrale partytjies – wine, women and song, jy weet.”

Op die gastelyste was mense soos die voormalige eerste minister van Rhodesië, Ian Smith, die aktrises Moira Lister en Joan Brickhill en die Britse skrywer Frederick Forsyth, wat sy topverkoper The Dogs of War in die gastesuite geskryf het. Jy sou ook die name vind van lord Russell van Liverpool, ’n regter van die Neurenbergverhore, en Peregrine Spencer-Churchill, ’n neef van die beroemde Britse staatsman.

Die Joods gebore Fredagh, wat in moderne terme as “New Age” bestempel sou word, het gesê sy onthou dat daar net twee keer op dié okkasies onaangenaamheid of verhewe stemme was. “Hatred? What a frightening thing it is,” skryf sy. “When are we going to learn to be tolerant of others . . . their form of worship, their customs, their mannerisms? The world seems to have forgotten the fundamental underlying meaning of religion.”

’n Skildery van Fredagh Podlashuk deur Anna Zinkeisen in die voorkamer van die herehuis. Sy was beeldskoon en uiters modebewus en selfs haar nagkabaai het swart blinkertjies gehad. Foto: Bellingham

Chris beskryf Fredagh as “baie spiritueel – maar nooit godsdienstig nie”.

“Sy was ’n goeie mens, ingestel op liefdadigheid en eintlik het sy taamlik spaarsamig geleef omdat sy haar bates wou bewaar vir die trust vir eendag wanneer sy nie meer daar is nie.”

Die trust is in 1986 geskep toe die grootste deel van die plaas verkoop is aan Jan Pickard van Union Wines, wat dit later weer aan Graham Beck verkoop het. Die Podlashuks het alles binne die ringmuur behou en die kopers moes hul flambojante leefstyl onderhou en selfs betaal vir die vyf bediendes en vyf tuiniers.

“Ná haar dood in 2002 wou sy hê die huis moes as ’n museum bewaar word,” sê Chris. “Mrs. Pod wou ook hê dat hier geldinsamelingsgeleenthede moes wees – meestal musiek – want hulle was so gek oor musiek dat hulle hul eie losie, of engelebak, vir die simfonie-uitvoerings in die Kaapse stadsaal gehad het. Hulle het ’n huis in Higgovale gehad, en hulle het elke Donderdagaand daar oorgeslaap met die bediendes, sak en pak.”

Vandag word die trust gefinansier deur onder meer verblyf wat uitverhuur word en die opbrengste word aan liefdadigheidsorganisasies geskenk.

Dalk, as jy ’n gas is hier, kan jy in jou verbeelding steeds die vae geroesemoes van die partytjies en die gedreun van die boerdery hoor.

Dalk, as jy ’n gas is hier, kan jy in jou verbeelding steeds die vae geroesemoes van die partytjies en die gedreun van die boerdery hoor.

Selfs die Podlashuks se nalatenskap het die skadu van ’n Bolandse sprokie. En al het hulle waarskynlik nooit Sewe dae by die Silbersteins gelees nie, skemer iets van die roman steeds deur in die portrette van Fredagh en Bernard in aanddrag.

Op hul eie manier het ook húlle gewag op die beeld van die waarheid in gelid van die liefde.

* Bronne: Leroux: ’n Lewe, J.C. Kannemeyer; Sewe dae by die Silbersteins, Etienne Leroux; Our Lives at Bellingham (Bellingchamp), Fredagh Podlashuk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier