Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Aktueel
Uit Volksblad-argief: 11 September 2006
Sestien jaar ná 9/11: Kerk ’n toevlug in chaos

Die aanvalle wat die dubbeltoringgeboue van die World Trade Centre in New York laat inplof het, het vandag presies 16 jaar gelede – op 11 September 2001 – gebeur.

Vyf jaar ná daardie dag het Charles Smith, nou Netwerk24-nuusredakteur by Volksblad, Ground Zero in New York gaan besoek. Hy was toe Media24-korrespondent in die VSA. Hier volg sy artikel wat in 2006 in Volksblad verskyn het.

Nog een van die foto's van Charles Smith wat op 11 September 2006 in Volksblad gepubliseer is.

Dit is ’n kerk van wonderwerke.

Sedert die 11 September-aanvalle stroom die mense van reg oor die wêreld na die St. Paulus-kapel regoor Ground Zero.

Iets het vandag vyf jaar gelede hier gebeur waarvan mense wil deel wees, waarna hulle soek. Mense van alle lande, alle gelowe.

Pres. George W. Bush en sy vrou, Laura, het gister om 17:30 (23:30 SA tyd) ’n gedenkdiens saam met familie van die slagoffers in die kapel bygewoon. Dit was op die Wit Huis se versoek.

Miskien sal hy die heel eerste lied in die groen liedereboek (lied 721, Signs of endings all around us) lees: “Signs of endings all around us, darkness, death and winterdays. Shroud our lives in fear and sadness, numbing mouths that long to praise. Come oh Christ, and dwell around us.” 

Die feit dat hierdie Trinity-kapel se klipmure, swart van ouderdom, steeds staan, is op sigself ’n wonderwerk.

In die groot brand in 1766 is hy gered danksy ’n menseketting wat emmers vol water uit die Hudson-rivier gedra en hom natgegooi het.

’n Wag het my aan die arm gegryp en geskreeu: ‘Hardloop vir jou lewe!

In 9/11 het ’n reuse-boom in die hoek van die erf die geweld van die ineenstortende torings van die World Trade Center afgeweer. Net een ruit het gekraak.

Binne-in was ’n kerk vol angsbevange, biddende mense wat hardop uit die Bybel gelees het.

Vader Stuart Hoke, prediker, het gister in die oggenddiens van daardie wonderwerk vertel. Hy het voor die suidelike toring gestaan en kyk hoe die noordelike toring ineenstort ná ’n massiewe ontploffing. Almal was in ’n waas van ontkenning.

“Dit was asof ’n Hollywood-held soos Bruce Willis ons enige oomblik sou kom red. ’n Wag het my aan die arm gegryp en geskreeu: ‘Hardloop vir jou lewe!

“Ek het gevlug, maar ’n stem het my geroep: ‘Mense stroom na die kerk om hulp.’ Ek het gevra: ‘As ek soontoe gaan, dan wat?’

“Ek weet nie, maak net ‘helseker’ jy kom daar!” het Hoke onder gelag vertel. “Hy het beveel: ‘Doen net iets!’ ”

Hierdie is een van Charles Smith se oorspronklike foto's wat in 2006 in Volksblad gepubliseer is.

“In die kerk het ons begin om bekende dele uit die Bybel hardop te lees, oor en oor. Ek het Psalm 23 gelees: Die Here is my Herder.”

Buite het dit pikdonker geword soos die stofmuur van 35 verdiepings hoog deur die strate van Manhattan gerol het.

Ná 45 minute het hulle die harde slae gehoor soos die 102 verdiepings van die een toring een ná die ander knak en ineenstort.

“ ’n Vrou het geskreeu: ‘Jesus! Jesus! Jesus!’ Iemand het geskreeu: ‘Antraks! Antraks!’ Maar toe skreeu iemand anders: ‘Shut up!’ Almal het gelag. In die donkerste uur was daar darem nog humor. Ons het net aan die Woord vasgeklou.

“Ek het Mattheus 5, die Bergpredikasie, gelees: ‘Geseënd is die vredemakers.’ Dit het pikdonker geword, net die oordonderende gerammel het opgeklink. Ons het gelees van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand, maar dat Jesus sê as iemand jou duurste jas wil hê, gee dit vir hom. Ons het gelees God sê alle wraak kom Hom toe, ons moet in vrede lewe.”

Die kerk het in die maande ná 9/11 as stasie gedien waar noodreddingswerkers kom rus het en iets te ete en drinke gekry het.

Ek het Mattheus 5, die Bergpredikasie, gelees: ‘Geseënd is die vredemakers.’

Vandag is dit ’n lewende museum. ’n Herinneringstafel stal foto’s en aandenkings van slagoffers uit. ’n Weefuitstalling wys weefwerke van duisende mense van ses kontinente. Mense het van hul eie materiaal gegee en “aardbolle” van materiaal gestuur. Daar is lap in van ’n valskerm van ’n soldaat in die Tweede Wêreldoorlog, vislyn van ’n man wat sy eerste vis in Alaska uitgetrek het.

So word mense aanmekaar geweef. Dit is deel van die heelproses.

Daarom stroom mense na die St. Paulus-kapel. Om deel te wees van die eenheid en heling wat uit die kerkie vloei. 

Vandag om 08:45 sal die Klok van Hoop voor die kapel lui. 

Die klok is deur Londen op die eerste herdenking van die 11 September-aanvalle aan New York geskenk – voordat die stad self deur terroriste-aanvalle geruk is. 

Vandag sal die Klok van Hoop slae van hoop, geloof en liefde slaan wat oor die stad sal dra om die nagmerrie van hierdie oomblik vyf jaar terug te verdoof.

Hier is 'n paar foto's wat vandag in New York deur Reuters geneem is.

George Kousoulis hou 'n plakkaat met fotos van sy dogter, Danielle, vas. Sy was een van die honderde slagoffers wat tydens die terreuraanval op 11 September 2001, dood is. Foto: Reuters/ Shannon Stapleton
'n Familielid hou 'n foto van 'n geliefde op in die see van mense, tydens die seremonie. Foto: Reuters/ Brendan McDermid
Offisiere met gebuigde hoofde word afgeneem tydens 'n seremonie by die nasionale 9/11-monument en museum, waar die 16de herdenking van die terreuraanvalle op die World Trade Centres gehou is. Foto: Reuters/ Brendan McDermid
'n Besoeker aan die 9/11-terreurmonument hou 'n oomblik van stilte vir die slagoffers en gesinne van die mees dodelike terreuraanval in Amerikaanse geskiedenis. Foto: Reuters/ Brendan McDermid

Meer oor:  11 September  |  Ground Zero  |  Volksblad  |  Uit Die Argief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.