Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Aktueel
AFRIKAANS EN SY MENSE - WAARHEEN?
Taalgesprek is nodig

Afrikaans het sy eie waarheid-en-versoeningsgesprek onder sy sprekers nodig, skryf Danie van Wyk. 11 amptelike tale lei in die praktyk tot een taal, skryf Anne-Marie Beukes. 

Danie van Wyk skryf: 

Dat Afrikaanssprekendes by ’n kruispad is, is gewis.

Die verskil is dié keer dat alle Afrikaanssprekendes hulle by hierdie kruispad bevind, nie net die Afrikanerkomponent nie. Afrikaans is onder beleg en dit veroorsaak onsekerheid by alle Afrikaanssprekendes.

Die bruin gemeenskap is ’n inherente deel van die Afrikaanse gemeenskap. Daar word dikwels na hierdie gemeenskap verwys as agtergeblewe, benadeel en verarm. Die uitstaande kenmerk van hierdie gemeenskap is tereg sy armoede: “in armoede gebore en ontvang”, as ek met respek die Bybelse verwysing kan aanpas vir hierdie doel. Hierdie stiefkinders van die Afrikaanse gemeenskap maak daarop aanspraak om hul regmatige plek langs hul mede-Afrikaanssprekers in te neem, as gelykes en nie as meelopers of napraters nie, maar as saampraters wat ook ’n beduidende rol te speel het in die rigting wat ons as Afrikaanssprekers in die toekoms met ons taal gaan inslaan.

Daar is vele kunsmatige skanse en versperrings tussen Afrikaanssprekendes wat afgebreek sal moet word. Die ideaal sou wees dat die Afrikaanse gemeenskap as ’n eenheid die rigting sal bepaal waarheen ons met Afrikaans op pad is. Dit vra vir ’n Afrikaanse gemeenskap wat deeglik en grondig Suid-Afrikaans en Afrikaans is, en vir ’n taal wat die kulturele slagaar vorm van ’n verenigde, diverse Suid-Afrikaanse gemeenskap en nie as die eiendom van een belangegroep beskou word nie.

Die vraag ontstaan onwillekeurig: Hoe neem ons Afrikaanse mense vorentoe; as Afrikaanses of Afrikaners?

Afrikaner vs. Afrikaanse

Daar is baie wat eenvoudig net van Afrikaners wil praat, maak nie saak watter kleur hulle is nie, solank die gemene deler Afrikaans is. Dan is daar ander wat wys op die verskille tussen Afrikaanssprekende en Afrikaner en liefs die term Afrikaanses gebruik verwysend na almal wat ’n band met Afrikaans het. Nog ’n ander denkstroom meen dat hoewel taal ’n belangrike saambindende faktor is vir die Afrikanertaal­gemeenskap, dit nie in alle gevalle deurslaggewend is nie.

In Die Burger van 1 Mei 1998 vind ek ’n beskrywing van ’n Afrikaner deur Leopold Scholtz: “Die Afrikanerhuis moet oop wees vir elkeen, ongeag ras, kleur of selfs huistaal, wat hom met Afrikaners wil vereenselwig.” Is bruin Afrikaanssprekers dus Afrikaners in ag genome ons gedeelde verlede, taal, godsdiens en kultuurgoedere? Volgens die algemene opvatting van wat ’n Afrikaner is, is die antwoord nee. Die geskiedenis dui immers op ’n ontkenning van burgerskap, onreg en ’n verbrokkeling van bruin mense se menswees. Ook op ’n verwerping uit die taal- en kultuurhuishouding. Ons moet eers oor hierdie onreg kom wat mede-Afrikaanssprekers aangedoen is voordat ons kan aanbeweeg.

Na my mening het Afrikaans sy eie waarheid-en-versoeningsgesprek nodig sodat ons vorentoe kan gaan as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners en wêreldburgers.

Die pad vorentoe

Daar bestaan tans groot onsekerheid en ontreddering in Afrikaanse geledere. Ons sal as verenigde taalgroep nie ontredderd hoef te voel oor ons taal of ons kultuur nie. Voordat ons ’n samehorigheidsgevoel oor Afrikaans, ons gemeenskaplike erfenis, kan ontwikkel, sal ons mekaar oor ekonomiese en etniese verdelings heen moet vind, sal ons moet help om mede-Afrikaanssprekendes, veral die jeug, ekonomies en opvoedkundig te bemagtig.

Daar sal ook nie oor die toekoms van Afrikaans gepraat kan word sonder om die bydrae van bruin Afrikaanssprekers in berekening te bring nie. Sonder hul taalgetrouheid en skeppende bydraes het Afrikaans geen toekoms nie. Ons het ’n besonderse verbintenis tot Afrikaans en maak tereg aanspraak op mede-eienaarskap.

N.P. van Wyk Louw het geskryf: “Afrikaans is die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.”

Ons kan almal meehelp met die ontdekking van daardie grootsheid.

  • Van Wyk is Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust.
Anne-Marie Beukes

 Anne-Marie Beukes skryf: 

’n Kruispad is ’n plek of tydstip waar ’n belangrike of beslissende besluit geneem moet word, aldus die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

’n Mens kan stellig sonder veel vrees vir teëspraak sê dat Afrikaans reeds vele kruispaaie beleef het. Dink maar aan Milner se angliseringsprojek en die daaropvolgende snelle groeikurwe van Afrikaans tot standaardtaal sodat amptelike status in 1925 aan die jong taaltjie toegeken is. Vergeet ook nie hoe Afrikaans ontwikkel het tot ’n volwaardige wetenskapstaal nie, die enigste Afrikataal wat dié prestasie in die 20ste eeu kon behaal het.

11 amptelike tale

’n Besonder beslissende kruispad was toe amptelike status vir Afrikaans in die Grondwet van die nuwe Suid-Afrika vasgelê is. Hierdie mylpaal is behaal ná moeilike onderhandelinge waarin ter elfder uur ’n kompromis aangegaan is dat Afrikaans haar amptelike status kan behou. Die kompromis was dat amptelike status ook aan ’n allemintige nege ander inheemse tale toegeken moes word. Hierdie oormoedige situasie van 11 amptelike tale het spoedig die afgelope twee dekades gelei tot ’n taalbedeling waar slegs een taal in die praktyk uitgeleef (kan) word en die gebruik van Afrikaans in vele domeine beduidend afgeneem het. Die broodnodige ontwikkeling van die ander nege inheemse tale het helaas teen ’n trae pas geskied sodat daar steeds bitter min vrugte van hul nuwe amptelike status te pluk is.

Afrikaans staan tans weer by ’n allerbeslissende kruispad met die “Afrikaans moet val”-protesoptredes op kampusse. Universiteitsbesture gee klaarblyklik ook voorkeur aan Engels wat, in die woorde van die Universiteit Stellenbosch (US) se rektor, “wyer toegang vir ’n groter groep studente bied”. Dié kruispad word bepaal deur koördinate, soos die massafikasie van hoër onderwys, gepaardgaande met ontoereikende staatsfinansiering, die dekolonisering te midde van die aandrang op internasionalisering en Afrikaans se “onderdrukker”-bagasie.

Die jongste statistieke wat die US oor sy studente se taalvoorkeure bekend gemaak het, dui daarop dat twee derdes van die studente Engels as onderrigtaal verkies, en dít op ’n kampus waar sowat 60% van die studente Afrikaanssprekend is. Net 56% van die Afrikaanse studente verkies volgens die US se peiling onderrig in Afrikaans.

Gesprek oor taalburgerskap

Mense se houding oor hul taal en kultuur word selde apolities en ahistories uitgeleef. As die samebindende taal van die struggle beklee Engels histories en sosiopolities ’n bevoorregte plek in ons jong demokrasie. Voeg daarby die koppeling tussen Engels se prestige as ’n wêreldtaal en die opwaartse mobiliteit wat daarmee saamhang, dan staan Afrikaans (en die ander inheemse ­tale) by die kruispad van jong mense se pro-Engelse taalhoudings en -keuses.

Dit is daarom van kardinale belang dat Afrikaans as ’n medium van onderrig en leer behou moet word. Indien nie, gaan so ’n domeinverlies verreikende implikasies vir die Afrikaanse gemeenskap inhou, nie net op linguistiese gebied nie, maar ook op kulturele en sosio-ekonomiese terrein. As Afrikaans op Stellenbosch en Potchefstroom “val”, sal die volgende beslissende kruispad gewis Afrikaans op skool wees. Die ander inheemse tale is eweneens by ’n kruispad: Hulle is steeds grootliks onsigbaar in die openbare domein en word slegs in beperkte mate as onderrigtale op skoolvlak benut. Hulle is steeds nog nie as wetenskapstale ontwikkel nie.

Teen hierdie beklemmende agtergrond het dit nou dringend noodsaaklik geword dat ’n nasionale gesprek oor taalburgerskap plaasvind waaraan alle taalgemeenskappe deelneem. Ons moet as Suid-Afrikaners indringend gesprek voer oor die plek en rol van ons tale as simboliese en materiële hulpbronne om ons Suid-Afrikanerskap uit te leef. Aktiewe taalburgerskap verg dat ons moet besin oor magsverhoudings en alledaagse taalpraktyke, ons taalbeskouings wat die rol van dialekte en minderhede betref, die marginalisering van taalgemeenskappe, en so meer.

Daar is by my min twyfel dat die Afrikaanse gemeenskap en haar taal- en kultuurorganisasies ’n sinvolle bydrae tot so ’n diskoers kan lewer. Hef aan lê voor; kom ons maak dit ons érns om ons unieke taalburgerskap uit te leef.

  • Prof. Beukes is voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

Meer oor:  Afrikaans  |  Debat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.