Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Barnard Beukman
Barnard Beukman: ANC is teen die toue in 3 metropole – wat nou?
Barnard Beukman

Die jongste bevindings van die gesaghebbende Ipsos-peilings oor kiesersteun is slegte nuus vir die ANC.

Dit wys dat die eens magtige party by die stembus net 31% van die steun in Johannesburg trek teenoor die 29% van die DA en 10% van die EFF.

In Tshwane staan die DA op 33% teenoor die ANC se 29% en in Nelson Mandelabaai is die DA ook voor met 34% teenoor die ANC se 30%.

Dit is heeltemal te vroeg om hieruit af te lei dat die DA moontlik die beheer oor van die metropole kan oorneem.

Heelwat kiesers is nog onseker, of wil nie aandui vir wie hulle gaan stem nie.

Indien die finale uitslae wel met die peilings ooreenstem, sal die ANC met sy beheer oor staatsbronne, wat ministers- en ambassadeursposte insluit, waarskynlik die beste kans hê om koalisies saam te stel.

Op die platteland sal die ANC en EFF veel sterker staan en ’n ander peiling wys dat dit inderdaad die geval onder jongmense is. Die hele situasie is dus hoogs vloeibaar en kan nog verander in die aanloop tot stemdag.

Hoewel die party nou lomp en lusteloos voorkom en vasgevang sit in ’n reeks binnegevegte as episodes van ’n erg verdelende magstryd, kon die ANC voorheen nog altyd sterk eindig in verkiesingsveldtogte.

Tog is die peilings nie sonder betekenis nie. Dit wys dat die eens bykans onaantasbare glans wat om die ANC as bevrydingsbeweging geskyn het, verdoof is.

Die organisasie is skielik onderworpe aan dieselfde sikliese patrone van enige gewone politieke party. Dit beteken hulle vat die gewoonlike pak slae as dit sleg gaan met ekonomie en kiesers sien hulle vir wat hulle is. In Suid-Afrika het kiesers se dankbaarheid vir die ANC se aandeel in hul vrye demokrasie erg begin taan. Hulle voel verraai weens swak dienslewering.

Ook is daar ’n keelvolheid vir ANC-leiers se onblusbare lus vir selfverryking en korrupsie.

Voordele van ’n erg verswakte ANC kan waarskynlik pres. Jacob Zuma – die oppermeester van vele selfverrykingskabale –- se posisie verswak en sy politieke einde verhaas. Selfs hooggeplaastes in die ANC erken dat dit ’n oomblik kan wees om weer vir sy kop te probeer gaan.

Dit kan ook die stadige begin wees van die ANC se uiteindelike uitmekaarval as organisasie of die finale beslissing oor watter faksie finale beheer kry.

Wat onduidelik is, is of so ’n verswakte ANC noodwendig groter stabiliteit in plaaslike regering gaan bring en of voortspruitende koalisies dalk groter onstabiliteit kan meebring.

Wat wel duidelik is, is dat stedelike kiesers hul grootste kans op beduidende invloed ooit het om die politieke landkaart te verander, as hulle wel die moeite doen om by die stembus op te daag.

  • Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Anc  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.