Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Gupta-komplot dwing jou om hul blad te lees
Blouwillem

Ek ly nou nog aan kafeïenvergiftiging ná verlede Maandag se beproewing daar op oom Ollie se lughawe toe ons vier uur laat weg is Kaap toe weens digte mis wat nie een van ons uit die lughawegebou kon sien nie.

Gelukkig nie Mekka toe nie, en ag, wie wil nou vroegdag op ’n ou plekkie soos Kaapstad arriveer as jy lekker aan die Oos-Rand se rook kan sit en teug?

Die enigste sig-bare mis is dié in ’n koeikamp duskant Delmas (naby hek D4) en in die Kroek-tas se koerant.

Die eerste keer, so skuins ná sewe, tree jy vol verwagting by hek A9 aan, net om agter te kom dat jou vlug onbepaald uitgestel is.

Jy kan nie ’n woord volg wat daai vrou heeltyd oor die luidsprekers skree of selfs agterkom in watter taal sy skree nie of hoekom ’n lughawe in Suid-Afrika iemand met ’n spraakgebrek kry om afkondigings in Zoeloeryns te doen nie.

Jy sien net almal draai om en strompel weer na die naaste koffiewinkel (wat nou oorvol is van donderweergesigte wat vir hul base op pap selfone probeer verduidelik hoekom hulle nie betyds gaan wees nie).

Jy vra ’n jong outjie om op die internet te kyk wat aangaan, want op jou ou foontjie is net skadunet en hy frons en sê dit lyk vir hom die nuwe “estimated” vliegtyd is nou 9:45.

Jy storm ná nog drie koffies terug na hek A9 toe, net om uit te vind dat jou hek nou in D4 verander het. En jy hoop iemand het vir die loods ook laat weet ons is nou by hek D4.

By daardie hek moet jy hoor dat jou vlug wéér in die hek geduik het en jy loop loodvoet daar van duskant Delmas terug koffiewinkel toe.

Nadat jy vroeër die oggend al die ander koerante van hoek tot kant deurgelees het, word jy nou gedwing om die Guptas se vernietkoerant te moet lees en dis dan wat ’n Kroekta-komplotteorie in jou suwwe kop begin nesmaak. Vertraag hulle nie dalk met hul pêllies op die lughawens doelbewus ons vlugte sodat ons hul koerant moet lees nie?

Die derde keer wat ons ’n “estimated” tyd kry vir aantree, wag ek maar so ongeveer in die middel van die vertreksaal (hierna genoem die blyplek) totdat die donderweergesigte van my vlug van D4 af verbystoom na C17, wat ’n halfuur se vinnige gout-voetdraffie tot net duskant Boksburg is. Teen dié tyd is die enigste sigbare mis dié in ’n koeikamp duskant Delmas (naby hek D4) en in die Kroektas se koerant. In die tou by C17 kom ’n beampteres verby om te kyk of elke passasier ’n ID-boek, bestuursliksens of ’n Kroektakoerant het alvorens jy op die vlug toegelaat word.

Dis ná twaalf en ons sit nou in die vliegtuig (wat staan). ’n Lugmeermin verduidelik dat die kaptein ’n snaakse geluid in die enjin hoor.

“Wag julle nou vir ’n mekkêniek?” vra ’n oom.

“Nee, meneer, hulle soek ’n loods wat nie die geluid kan hoor nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.