21 Augustus 04:42
Kaapstad Verander Area

Maandag

16°C / 13°C

Wind 28km/h

Reënval 8mm

Humiditeit 79%

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 64%

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 4mm

Humiditeit 75%

Donderdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 60%

Vrydag

16°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 64%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Menings
Hanlie Retief gesels met Herman Mashaba
‘Ek is g’n SA se Trump’
Herman Mashaba | Foto: ELIZABETH SEJAKE

’n Dramatieser toetrede tot Johannesburg se burgemeesterskantoor sou Herman Mashaba nie eens met sy Black Like Me-miljoene kon koop nie.

Eers wou die EFF hom nie hê nie. Toe aanvaar hulle hom langtand.

Verlede Maandag, terwyl die DA in die eerste raadsvergadering vir Mashaba as burgemeester benoem, stort ’n ANC-raadslid ineen en sterf summier.

Ná 12 mergel-ure ry Mashaba die vergadering uit op jubelende DA-skouers, die EFF doen hul rooi dreunsang en ANC-lede is al amper by die huis.

Thank you, Mr Speaker, is this work­ing? Can you hear me? was sy eerste woorde in die mikrofoon as burgemeester. Hoe toepaslik, hoe profeties, sê dié sakereus/agt maande oue politieke ­baba se kritici seker. En kritici, het Norman, oeps Herman, heelwat.

Norman. Dis wat Julius Malema hom ewe bitsig noem, want Herman Mashaba is so onbelangrik hy vergeet heeltyd sy naam.

Ander noem hom Suid-Afrika se ­Donald Trump oor sy skiet-van-die-heup uitlatings, sy polities onkorrekte kapitalisme. Bloot ’n DA-verkiesingsfoefie, dié libertyn, het Eusebius McKaiser die anti-Mashaba-narratief verder aangestook.

Ure nadat hy verkies is, laat nóg ’n Mashaba-twiet die wenkbroue lig: “Ek het vanoggend wakker geword met gemengde gevoelens . . .”

Net toe ons gaan sit vir ’n haastige onderhoud (sy bene gekruis, pull up your socks, lees jy op sy sokkies) waag ek dit: Is die geagte burgemeester skielik traag vir Jozi se goue ketting? En dit nadat Mmusi Maimane en die DA verlede week so vierkant by hom bly staan het teen die EFF?

“Nee, nee, nee, gemengde gevoelens want ek is opgewonde, maar terselfdertyd is dit ’n groot uitdaging.”

Of het hy nooit eintlik gedink hy gaan wél burgemeester word nie? Die hond het nou die bus gevang . . .

Nog ’n sin vol nees.

“Almal het ons afgeskryf, maar ek het nog altyd volgehou ons gaan wen.”

En kyk nou net. Hier sit ons in ’n ANC-begraafplaas van ’n burgemeesterskantoor.

Hy weet mense sê hy’s naïef. “Ek ís seker, maar ek kan gevaar sien aankom, en ek is eerder naïef as wat ek toelaat dat Jacob Zuma my land ­vernietig.”

Peter Bruce, Business Day-redakteur, skryf Mashaba is ’n gawe ou en sake­legende, maar ’n swak kandidaat en ’n politieke beginner (rookie) wie se onkunde soos ’n seer vinger uitstaan.

Hy’t dit gelees, ja, sê Mashaba kortaf.

Is dit “onkunde” wat deurslaan in sy twiet waarin hy die EFF ’n koalisie-vennoot van die DA noem?

As ek jou net R4 000 kan betaal, maar die staat sê die minimum loon is R5 000, bly jy sonder werk.

“My lewe sal nooit bepaal word deur sogenaamde eksperte nie. Laat ek jou vertel hoekom . . .”

Dan lei Herman Mashaba die onderhoud na die veiliger, veel bevaarde ­waters van sy merkwaardige brandarm-tot-stinkryk-verhaal en hoe hy op ’n bloedjong 22 die eerste treë gegee het na miljardêrskap.

Eers het hy gereken geleerdheid sal hom verlos van armoede. Maar toe sluit PW Botha die universiteit waar hy studeer het. Toe oorweeg hy militêre opleiding in die buiteland.

Geldmaak. Dís die voertuig uit armoede, het hy oplaas besluit. “Ek het nie ervaring gehad nie, ook nie geld nie, net die stukkie brein wat God my gegee het. Almal het gesê dis nie moontlik nie. En hier is ek, 35 jaar ­later.”

Entrepreneur. Ja. Swart sakepionier. Jip. Maar die politiek? Dié gryser, komplekser, meer genuanseerde wêreld?

Wat’s die verskil? Vra hy uitdagend. Wát?

“En ek wíl nie ’n politikus wees nie.” Daar’s amper aggressie in sy passie.

“Ek is in diens van Johannesburg se mense. As burgemeester moet ek verseker jy bly in ’n veilige stad, jy het werk, jou onderneming floreer, jy’t skoon water en ononderbroke krag. Dis my mandaat.”

Hoe kan hierdie capitalist crusader (dis ook die titel van een van sy boeke), hierdie oudvoorsitter van die Vryemarkstigting, uitgesproke teenstander van ons arbeidswette – hoe kan Herman Mashaba burgemeester wees van ’n Afrikastad?

Hy blaf ’n teenvraag: “Verkies jy arbeidswetgewing wat 9 miljoen mense van werkgeleenthede ontneem?”

Is dit nie juis ’n ongenuanseerde ­sakemanantwoord nie?

“Nee. Wat ek probeer sê: Die wet keer dat ons 9 miljoen werkloses in diens geneem kan word. As ek jou net R4 000 kan betaal, maar die staat sê die minimum loon is R5 000, bly jy sonder werk. Ek kon gelukkig my loopbaan begin toe daar nié ’n wet was wat my weerhou het om te werk nie. In 1980 het Spar my aangestel teen R175 per maand. As hulle gedink het hulle buit my uit, het hulle ’n lelike fout gemaak.

“Ek kon ervaring opdoen, dáárdie R175 was my kans om die leer te begin klim. Onder Zuma en ’n ANC-regering sou Spar my nie kon aanstel nie en dan was ek vandag een van daardie 9 miljoen slagoffers sonder werk, wie se gesin verbrokkel, met dwelms en drank wat oorneem. Kom ek gaan wys jou nóú Alexandra en dele van Soweto.”

Hy weet net enkeles in ’n samelewing is entrepreneurs soos hy.

“Maar dis die entrepreneurs wat die ander werk gee. Hoekom keer die regering hulle? Die ANC-regering maak asof profyt ’n sonde is, terwyl dit éintlik die ding is wat ’n nasie laat groei. Gaan uit en maak geld, moet ons vir ons entrepreneurs sê, en neem ons werkloses in diens. Maar registreer jou onderneming sodat jy die belasting kan betaal waarmee ons arm gemeenskappe kan ophef.”

Is dié capitalist crusader en die DA se ekonomiese beleid een en dieselfde?

“Hoekom dink jy het die DA my aangestel as hul burgemeester vir Johannesburg? Hoekom dink jy het politieke partye, insluitende die EFF, Maandag vir my gestem?”

Is dit waar dat nie almal in die DA-topstruktuur hom daar wil hê nie?

Hy raak ongeduldig. “Kom ons praat realiteit, nie ideologie nie. Hoeveel stemme het ek gekry? Dís die realiteit. Al 30 EFF-lede ook.”

En beklemtoon: Sy sukses hang af van gesprek en konsultasie.

Sukses, wel, op voorwaarde dat die EFF sy tjappie sit op elke stukkie beleid en elke rand van die begroting? Die stert gaan die hond swaai?

“Die EFF sal net belaglike beleid teenstaan. Gaan hulle my keer as ek Zandspruit se dienste wil verbeter? Ek sal die haglike plekke gaan wys waaroor ek nou agt klagtes by die Menseregtekommissie ingedien het. Gaan die EFF daarteen stem as ek dinge daar wil verbeter? Nee.”

En as die EFF ideologie as hefboom gebruik? Soos: Voor ons ja sê om Sandton se slaggate te vul, voor fietsrybane, moet “Die Stem” eers waai? “Dis ’n onregverdige vraag. Praat oor wérklike kwessies, dis wat die EFF ook doen.”

Hy het korrupsie as openbare vyand nommer een verklaar, sê hy.

Korrupsie? Het hy voorbeelde? Daar’s lof vir sy voorganger, Parks Tau, se skoon regering. “Die ouditeur-generaal (OG) se verslag wys R5,3 miljard se ongemagtigde, onreëlmatige en vrugtelose en verkwiste besteding onder sy administrasie. Jy weet tog seker dáárvan?

“Daar was nie afdoende bewyse van korrupsie nie, maar R4,2 miljoen daarvan is verkwis net in die afgelope finansiële jaar. So, hoe kan jy sê daar was geen korrupsie nie?”

En nog ’n ding van meneer Parks Tau, sê hy, goed opgewerk, “toe hy die administrasie in 2011 oorneem, was die stad se werkloosheidsyfer 27%. Dis vandag 31%. So, meet jy dít as sukses? Regtig?”

Werkskepping. Dienslewering. Dit sien Herman Mashaba as sy groot take.

“Ons spring Maandag (môre) volspoed weg. Tyd is nie aan ons kant nie.”

Die volgende dag twiet hy hoe trots hy is op die diversiteit – ras en geslag – van sy burgemeesterskomitee.

Sy uitgesprokenheid teen swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het afgekoel sedert hy politikus geword het.

“Ek is nie teen SEB nie, ek is teen die manier hoe die ANC dit gebruik vir politieke patronaatskap. Natuurlik moet daar regstelling (redress) wees, dis ononderhandelbaar, en dit moet vir álmal help, nie net die rykes ryker maak nie.”

Tydens apartheid kon hy nie eens ’n onderneming hier begin nie. Uit die kattebak van sy afgeleefde Corolla het hy linne, breekware en versekeringsprodukte verkoop en toe haarprodukte vir swart mense.

Dis sý gaping in die mark, het hy besef, en met ’n lening van R30 000 ’n onderneming begin in Ga-Rankuwa saam met sy vrou, Connie, en drie vennote – die begin van Black Like Me. In net vyf jaar het dit gegroei van ’n aanleg van 200 m² tot 6 000 m² met 100 werknemers.

Nou is Mashaba $100 miljoen sterk.

Connie – hulle is vanjaar 35 jaar “baie gelukkig!” getroud – het nou die leisels van hul sakeryk oorgeneem.

Dis ’n ver pad vir die seuntjie van Hammanskraal wie se helderste – en bitterste – kinderherinnering dié is van ’n ma wat hy nooit gesien het nie omdat sy wit kinders in die voorstede moes grootmaak om aan die lewe te bly. Ná sy pa se dood toe hy twee was, het hulle in die bitterste armoede geleef.

As Nelson Mandela nog hier was, sou hy steeds vir hom gestem het. ANC.

Soos Mandela, sê hy later, het hy ook geen regeringservaring nie. Net ’n verskriklike wil om dinge te verander.

Sy keerpunt was die dag toe Zuma vir finansminister Nhlanhla Nene afgedank het. “Ek kon nie langer toekyk hoe Zuma die land vernietig nie.”

Herman, is jy nou heeltemal mal, was Connie se reaksie toe hy vir haar sê hy gaan politiek toe. Maar die afgelope twee maande was sy dogter Khensani, vandag op pad Amerika toe om verder in bemarking te studeer, aan sy sy.

“Nee, nee, sy sê nie ek skiet van die heup nie. Sy sê ek’s erg hardkoppig.”

As Mashaba vertel hoe die verkiesingsveldtog sy verstaan van ons land se probleme verander het, hoor jy nie politieke retoriek nie, eerder rou ontsteltenis. Sy gesig vertrek as hy vertel van sy besoek aan Madala-hostel in Alexandra.

“Mense leef in verskriklike omstandighede in ’n gebou wat sewe jaar terug reeds onbewoonbaar verklaar is. Die ANC kyk beter na gevangenes in tronke as na die mense van Alexandra.”

As die regering dié mense nie help nie, gaan hy hulle uit sy eie sak by die Verenigde Nasies aankla.

“Wat ek tydens die veldtog gesien het, het my vir altyd verander. Nou moet ek iets dóén,” praat die vuur in hom. “En ek kan. Ek is nou die Nr. 1-burger van dié stad.”

Maar kan hy?

Watse vraag is dit, sê sy gesig.

“Dis soos om Durban toe te vlieg. Gaan ek daar uitkom? Wel, ek is nou klaar in die lug . . . maar die vliegtuig kan val, so ek kan dit nie waarborg nie.”

Sê die sakeman.

“My lewe het aaklig begin, maar ek kon by die Durban van my lewe uitkom. En dis presies wat ek nou doen – ek neem weer beheer oor.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.