21 Augustus 04:41
Kaapstad Verander Area

Maandag

16°C / 13°C

Wind 28km/h

Reënval 8mm

Humiditeit 79%

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 64%

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 4mm

Humiditeit 75%

Donderdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 60%

Vrydag

16°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 64%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Menings
Hanlie Retief gesels met Matthys Boshoff
Ook die dood speel hier ’n rol
Matthys Boshoff, ’n kommersiële TV-regisseur wie se kortfilm, Vlees van my vlees, pas op die kykNET-Silwerskermfees die prys as kortfilm van die jaar ontvang het. Dit is deur sy aangrypende gesinsverhaal geïnspireer. Foto: Deon Raath
Foto:
Die Boshoff-gesin. Bossie, Elena (9) wat ná die ongeluk ’n kwadrupleeg was, Lisa wat noodlottige beserings gehad het, Matthys (4) en Willem (7). Foto: Verskaf
Bossie, Elena en Matthys Boshoff.
Matthys Boshoff op stel van Vlees van my Vlees. Foto: Verskaf
Elena en Bossie Boshoff op hul troudag. Foto: Verskaf

‘Ek was vier toe die ongeluk gebeur het. Al wat ek kan onthou, is toe die ambulans-ouens my langs my ma neergesit het. My broer vertel hy’t alleen in die grondpad gestaan, in die middel van nêrens, en hy’t sy comic-boeke wat om hom gestrooi gelê het, begin optel.”

Vyf jaar gelede het Matthys Boshoff se broer, Willem, hom vir die heel eerste keer van dié herinnering vertel, die oomblik wat hul lewens vir altyd sou verander. “Ek het vir hom gesê: ‘Dude, gee jy om as ek dit eendag in ’n film gebruik?’ ”

En toe het Matthys.

Vlees van my vlees is pas op die Silwerskermfees as die beste kortfilm van die jaar aangewys en Matthys as die beste kortfilmregisseur.

“Ek is só opgewonde oor Vlees, ek kan vyf ure daaroor praat,” grinnik hy verleë oor hy so kwaai in sy noppies is.

Mense ráák nie uitgepraat oor dié kortfilm nie. Hulle’t meestal drie woorde daarvoor: Menslik. Kragtig. Aangrypend. Knap vertel en uitstekend gespeel.

Maar selfs meer aangrypend is die waarheid daaragter, die storie ágter die storie.

Matthys Boshoff se eie verhaal.

Oor die kosbare verhouding tussen sy ma, ’n sterk, brose vrou in ’n rolstoel, en sy selfopofferende pa, oor sy broer wat ná die ongeluk skielik ouboet geword het. Oor grootwordjare, swerfjare, die jaag na drome en die prys daarvan.

’n Storie oor die lewe self.

“Die ongeluk het in 1983 op pad na ons Bosveldplaas naby Ellisras gebeur.

“My pa was nie by nie. My ma was daarna ’n kwadrupleeg, en my sussie, Lisa, is later in die hospitaal dood.

Vlees van my vlees is nie heeltemal biografies nie, dis amper asof ek ander karakters in dieselfde situasie geplaas het, en ek het myself uit die storie gehaal.

“My pa is vier dae voor hy 60 sou word, dood. Ek het gehoor hy’t die oggend baie vroeg opgestaan en gaan saad uitgooi vir die tuinvoëls. Hy het vir my ma gesê hy voel nie lekker nie, en in die kamer langsaan gaan lê. Sy kon alles hoor, maar sy kon niks doen nie.”

Sy ma is vier jaar later dood, ná ’n longinfeksie. “Sy was ook 60, so ek is ­séker ek en Willem sal ouer word as hulle,” glimlag hy.

Die een genade in hierdie krisis was die voorbeeld van ’n vrou wat haarself glad nie bejammer nie . . . Sy het ’n lig in haar gehad wat geskyn het.

Dit het dié broers ’n soort vreesloosheid gegee vir avontuurdinge. Broer-dinge. Ná haar dood het hulle in Patagonië gaan stap. Daar’s jaarlikse Krismis-en-Nuwejaarstaptogte saam, die Tour of Ara, ’n vintage-trapfiets-uithouren in die Karoo.

Hulle klim saam rots. En saam, by Waterval-Boven, was hulle betrokke by nóg ’n tragedie. ’n Klimvriend het gesterf nadat ’n rots losgebreek en op hom geval het. Matthys en Willem het hom probeer bystaan en hy is in hul arms dood. Erica Wessels, Willem se meisie, het die rol van Annelie in Vlees gespeel, geïnspireer deur hul ma, Elena.

“My ouers het ’n bitter kosbare verhouding gehad. Daar was ’n speelsheid tussen hulle, nie ’n konstante swaarmoedigheid oor hul situasie nie.

“Soos baie mans van daai tyd dink ek nie my pa het ooit vir terapie gegaan nie. Hy moes die besluit neem dat die lewensondersteuning van my sussie afgeskakel word.

“Ek dink dit het hom emosioneel gekelder. Hy was ongelooflik lief vir my ma. Selfopofferend. ’n Joviale ou.”

Sy pa was ’n geoktrooieerde rekenmeester en finansbestuurder van Venter-sleepwaens in Naboomspruit.

“Ná die ongeluk het Ouma Mielie (Amelia) by ons kom bly en ons help grootmaak.”

Van sy sussie onthou hy net ’n paar “bitterblink oomblikke, meer emosioneel as beelde. Ons was na aan mekaar. Sy was nege, en ek dink sy’t pop gespeel met haar kleinboetie.

“En waar begin ’n mens oor jou ma . . . Daar’s ’n ongelooflike broosheid.

“Dit was nooit iets hartseers vir my nie, want vir my was dit normaal. Só ’n krisis kan jou óf verwoes óf emosionele intelligensie leer. Dit het nie vir my óf Willem verwoes nie. En daarvoor moet ons my pa en Ouma Mielie krediet gee, en die vele wonderlike vroue wat as helpers in ons huis kom werk het.

“As vyfjarige moes jy jou ma help in die bed sit. In ’n sin was die afhanklikheidsrol omgekeer, maar nie die emosionele rol nie. Ek onthou die keer toe sy my ’n pak slae wou gee.

“Sy kon haar boarms en skouers beweeg, en met stokkies in die leerbandjies wat aan haar hande vasgemaak is, kon sy tik. So . . . daar was ’n paplepel daai dag in die leerbandjie, en toe probeer sy my pak gee!

“Jy’t eenvoudige, intieme goed gedoen soos om haar kateter vir haar leeg te maak as ons gaan stap. Van my tienerjare af het ons baie hieroor gegrap. Ek sal vir haar sê: ‘Moenie so in die publiek pis nie, man, wat is dit nou hiérdie!’

“Jy grap, dis nie die olifant in die kamer nie. Dit was ’n baie noue band. Ek en Willem, sjoe, ons het haar geterg, hoor. In ons tienerdae sou ek die een helfte van ’n vloekwoord sê en hy die ander helfte, so niemand het voor haar gevloek nie!

“Die een genade in hierdie krisis was die voorbeeld van ’n vrou wat haarself glad nie bejammer nie. My ma het ’n nabydoodservaring gehad tydens die ongeluk, wat haar ’n geweldige geloofsverdieping gegee het. Sy het ’n lig in haar gehad wat geskyn het in ’n konteks wat baie swaar kon gewees het. Baie mense sê nou nog sy was die ongelooflikste vrou wat hulle nog ooit ontmoet het.”

Nou, op 37, besef Matthys eers hoeveel sy pa sy ma bemagtig het.

“Sy’t haar verantwoordelikhede in die huis gehad. As ons braai, moes sy en haar helpers sorg vir braaibroodjies, en bewaar hulle as dit laat is! Ek was partykeer die hel in vir my pa, maar ek besef nou hy’t haar nie soos ’n gestremde hanteer nie, en juis dit het haar bemagtig. Sy’t haar eie salaris verdien met boekhouding vir kliënte, en later jare met haar mond geskilder. Dis hoe ek haar onthou.

“Dis ’n tema van my lewe, van die ­lewe seker: jou grootste nederlae word op die ou end jou grootste oorwinnings.”

In die kortfilm bars foutlyne van spanning in die huis een aand oop.

“Ek onthou net een keer in ons huis wat dit só duidelik was soos in die film.

“Dit was die eerste keer toe ek my pa sien huil het. Jy is ’n man, jy moet voorsien, jou lewe gaan aan, jou seuns word groot, en hulle het nie meegevoel vir jou nie, hulle verstaan nie jou stryd nie.

“Maar soos in die film, onthou ek hoe’t ons mekaar wou foeter, maar ons het nie, want jy’s lief. Frustrasie en verwyt, maar binne ’n konteks van liefde.”

Matthys en die vervaardigers Jozua Malherbe en Lucia Meyer-Marais gaan Vlees van my vlees nou tot ’n vollengte film verwerk.

Matthys werk tans in reklame, en maak TV-advertensies by Star Films.

“Dié is my kans om ook deur te breek na my groot droom: speelfilms.”

Toe hy op skool ná ’n aanlegtoets hoor hy’s “kreatief”, het hy by die huis vir sy ma gaan vra: Wat beteken kreatief?

Dit was ’n tref-en-trap reis tot film­regie. Hy’t nog rondgeval met antropologie en argeologie toe hy toevallig gehoor het ’n kennis studeer filmwese.

“Dit was soos ’n weerligstraal: ek het dadelik geweet dis wat ek wil doen.”

In sy laaste jaar op filmskool het hy soggens vieruur, voor klastyd, stelbekleding op ’n internasionale rolprentstel gedoen. Dit het die deur oopgemaak vir vier jaar se internasionale rolprentwerk, maar aan die kunskant, nie regie wat hy wou doen nie.

Ná regieslypskole in Amerika het hy teruggekom en gedink hy gaan die bedryf verower. En toe’s hy agt maande lank werkloos.

“Ek het naderhand as assistentregisseur TV-advertensies begin maak, maar die geld was skraps. My broer, wat die verstándige loopbaankeuse gemaak het, het my selfoon betaal.”

Matthys het depressief geraak. “Ek het nooit besef hóé depressief mens kan raak nie, en oh heart, ek was.”

Boonop is albei sy ouers, sy ouma Mielie én hul klimvriend in die bestek van vier jaar oorlede.

“Die tema van dood het in dié tyd ’n groot rol in my lewe gespeel. Vreemd hoe ’n mens gewoond raak daaraan. Ek gooi nou begrafnistoesprake six-love.”

’n Kommersiële TV-vervaardiger, ­Marge Hughes, het sy potensiaal raakgesien.

“Ek het amper boedel oorgegee en wragtig begin ekonomie studeer. En toe glo sy in my, dié taai tante van 60. Ek was verstom.”

Hulle’t saam ’n filmmaatskappy begin met die naam Air – An Improbable Relationship. En al is sy nie meer betrokke nie, bly die naam tekenend van sy lewe.

Die onwaarskynlikheid om ’n meisie van Kasjmir in ’n rotsklim-naweek in Waterval-Boven te ontmoet. En sy word die liefde van sy lewe.

Die onwaarskynlikheid om ná ’n lewe in die borrel van wit voorstede só tuis te raak in die Johannesburgse middestad dat hy naderhand saam met ’n handvol vriende middernag-fietsritte deur die stadstrate gery het.

“Maar ja, ek wás die eerste drie weke daar so skytbang, ek kon nie slaap nie.”

Daar’s min gelykmakers, vertel hy, soos om oor spicy chicken wings saam met EFF-pêlle oor die politiek te stry. Of om saam met ’n gogo die 17 stelle trappe na sy woonstel in die Ansteys-gebou uit te hyg oor die hysbak wéér stukkend is.

“My pêl Wim Steytler en sy vrou het in Braamfontein gebly en ons het altyd gespot ons is boere buite die laer. Ek lees Langenhoven, ek is lief vir die Bosveld en boere-omies met boeppense en kouse tot onder hul knieë. Maar ons moet hierdie laer oopmaak. Hier’s ongelooflike geleenthede.”

Silwer skerms vol.

“Vreemd, toe ek daar staan met die toekenning, was dit amper ’n verligting.”

Hy het dit opgedra aan vier mense. Bossie. Elena. Lisa. Willem.

Vlees van sy vlees.

“Daar’t ’n stilte oor my gekom, ’n waardering dat die kaarte wat die lewe vir ’n ou gee, toe uitgedraai het in iets goeds vir my.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.