21 Augustus 08:37
Kaapstad Verander Area

Maandag

16°C / 13°C

Wind 28km/h

Reënval 8mm

Humiditeit 79%

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 64%

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 4mm

Humiditeit 75%

Donderdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 60%

Vrydag

16°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 64%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Herman Lategan
Kaapse storm: Hiroshima mon amour!

skaapwolkies s.nw. (meteorologie) ’n Formasie plat, bolvormige altokumuluswolke wat aan skaapwol herinner. Kapokwolkies. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Miskien is dit goed om nabetragting te hou. Dae voordat die groot storm van ’n ruk terug Kaapstad sou tref, het vele Kapenaars beangs na hul selfoonskerms begin loer. Dit sou glo die grootste storm in 30 jaar wees.

Daar was ’n gevoel van massahisterie in die lug. Weerkaarte is bestudeer, satellietbeelde van naderende kouefronte op sosiale media is versprei, oë vol vrees het geloer na flikkerende iPhones.

Dan was die blik opwaarts, daar waar die kadawerkoue katakombes in die hemelruim reeds liggies begin grom het.

Elke wolk is met agterdog bejeën: cumulus, cirrostratus, dun, yl wolke, vettes, selfs blêrende skaapwolkies. Die planktonasem van iets onrusbarends het oor die see aangewaai.

Die boom van kennis en van lewe sou ontwortel word. Die sondvloed kom, Noag se ark dobber reeds daar by Drieankerbaai, die toring van Babel wieg gevaarlik in die wind, teofanie!

Dan was die blik opwaarts, daar waar die kadawerkoue katakombes in die hemelruim reeds liggies begin grom het.

In skemerkroeë was daar ’n gedruis en klaagliedere van iets groots wat gaan gebeur, met die reuk van moutwhisky en craftbier as elikser. Rondom Morsø-kaggels in voorstede het bekommerde ouers die gevoel van die apokalips wat sou ontvou van hul kinders probeer weghou.

Toe die stadsvaders aankondig die skole word gesluit vir die Woensdag en dat mense nie hul motors moet gebruik nie, was dit soos die bloed wat geneem is en gestryk is aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel van elke huis.

Die front het suutjies soos seerowers van die oseaan ingekom. Om 03:00 daardie Woensdagoggend het die aarde in die donker begin skud, donderweer en blits het begin neerslaan, winde het opgeruk, en die water het soos ’n hele geslag weduwees se tranevloed neergeslaan.

Hiroshima mon amour!

Die storm was hier. Daar was hael en sneeu. In die plakkerskamp Imizamo ­Yethu in Houtbaai, wat in Maart deur ’n brand verwoes is, is nuwe sinkplaathuise deur die wind opgelig en weggewaai. Buitetoilette is opgeruk en soos confetti verstrooi. Duisende mense was eensklaps dakloos, bibberend en nat.

In Makassar was daar nog 400 ontwortel, terwyl 46 000 huise aan die buitewyke van die stad sonder elektrisiteit was. Nog huise is verwoes in Kalkfontein, Delft, Mfuleni en Mandalay.

In ’n minder gegoede deel van Kraaifontein het bliksemstrale uit die lug ’n huis getref. Dit het aan die brand geslaan en vier mense het in die reën doodgebrand. In Lavender Hill is ’n vyfde persoon dood, ’n man van in die 60, toe sy woonstel in duie gestort het.

In die tussentyd het groot wegholbrande in Knysna en omtrekke uitgebreek en het dit verwoesting en verdriet teweeggebring. Baie mense het alles verloor, daar was ook lewensverlies.

In die tussentyd was daar die bourgeoisie van Kaapstad wat op Facebook foto’s geplaas het van gróót skade: ’n Motorhuis met twee motors wat ietwat onder water is en ’n vakansiehuis waarvan sommige vensters versplinter het.

In Loevenstein en Oranjezicht het ­Ronélle en Pietman hulself as veilig op Facebook gemerk. Foeitog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.