Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Ivor Price
As jy niks het nie, is daar altyd blinde geloof

Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle. Toe hulle daai groot tent op die leë veld neffens die flêtse in my komvandaanplek kom opslaan, het ek geweet hier kom ’n ding. Want kyk, ’n maand lank is “die wedergeboorte van ons gemeenskap” oral op straatplakkate geadverteer.

Hulle wat dag en nag in die stukkende teerstrate van ons buurt loop, het geweet dis weer daai tyd van die jaar dat almal tot bekering kom – tot die gesalfdes se kinders ook. En sommige wat oor my eie geestelike welstand bekommerd was, was vas oortuig dat my beurt oplaas aangebreek het.

As ’n mens die plakkate kon glo, was hulle slaggereed om die volk se sondes weg te was, siekes gesond te maak, kreupeles te laat loop en geldprobleme ’n bloedneus toe te dien.

Op ’n Woensdagaand het mense die tent kom opslaan. ’n Bakkie, vertel van die inwoners in die straat reg oorkant die veld, het daar aangekom en sommer ’n klomp kwajongens gevra om die goed te help aflaai.

Eers het ’n paar hande ysterpenne in die grond staangemaak. Later, toe dit reeds stikdonker was, is die tent opgeslaan. ’n Tent met geel en blou strepe en sitplek vir 6 000 mense – 6 000 mense: honger vir hoop, verandering en tweede kanse.

Elke aand was daar ’n ander prediker – sommige van die buiteland – en elke aand het ’n ander verhaal hom daar afgespeel. Tot ounag het die stemme uit die tent deur die buurt weergalm.

Maar dit was ’n ywerige treinprediker se latere vertelling oor die tentdienste wat ek vandag steeds onthou. Ja, sy stellings moet jy soms met ’n knippie sout neem, want sy mond het hom al ’n paar keer in die polisie se aanklagkantoor laat beland.

Vanaand wil ek testify,” het hy geskreesing en in die middel van die derdeklas-treinwa gaan staan.

“Vanaand wil ek testify,” het hy geskreesing en in die middel van die derdeklas-treinwa gaan staan. Dit was in die goeie ou dae toe dit nog veilig was om trein te ry. Goedkoper ook, en sonder e-tol. Die treinprediker het op sy knieë gegaan, sy oë op skrefies getrek en sy regterhand in die lug gehou.

Hier en daar het mense uit ongemak begin giggel, maar darem nie so dat die broer dit agtergekom het nie.

Broer Noble se getuienis, het ons agterna besef, het gehandel oor die kitsroem wat hy pas by die einste tentdienste in ons buurt verwerf het.

“Daar staan geskrywe,” het hy vertel, “dat ’n mens se beloning in die hemel is. Maar ek is dankbaar vir al die selfone wat (tydens die diens) so van my foto’s geneem het.”

“Hoor julle?” het hy gevra, sy perfek geknoopte das reggetrek en ons een vir een in die gesig gekyk. Daar was min reaksie en hy het al hoe harder begin skree. “Hoor julle? Die dienaars het my selfs op ’n video opgeneem.”

Dis net genade, het hy gesê. Genade om te kan doen wat vir jou lekker is én dan nog boonop bekendheid uit die deal te kry.

En wanneer jy niks meer oor het nie, is blinde geloof dikwels al waaraan jy nog kan vasklou.

Meer oor:  Ivor Price  |  Stemme  |  Rubriek  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.