25 Maart 21:42
Kaapstad Verander Area

Sondag

21°C / 14°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Maandag

20°C / 15°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 34km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Woensdag

22°C / 15°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 55%

Donderdag

23°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Vrydag

20°C / 14°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 80%

Jo van Eeden
Johanna van Eeden: Transformasie oor meer as taal
Die fokus val sterk op taal as manier van uitsluiting, maar dit gaan oor baie meer as Afrikaans

Wat is die kern van die opstand onder studente by tradisioneel Afrikaanse universiteite?

Ek het die afgelope week geluister na drie jong aktiviste se siening oor kwessies by die Universiteit Stellenbosch, maar wat hulle gesê het, vee ook oor ’n breër stoep as dié van Matieland.

Die drie – ’n swart vrou wat reeds afgestudeer het, ’n wit Afrikaanse man wat #OpenStellenbosch ondersteun en ’n swart man met Xhosa as moedertaal – het een ding gemeen: Hulle wou nie ’n Matie word nie.

Die Afrikaanse man wou eintlik aan ’n tradisioneel Engelse universiteit studeer, maar sy ouers het hom “gedwing” om Stellenbosch toe te gaan.

Die twee swart mense wou elders studeer, maar is met beurse Maties toe gelok.

En dis daar waar die moeilikheid begin het. Die swart studente se ervaring was dat die universiteit met die beursaanbiedings “ ’n boksie getiek” het. Een van hulle het reguit gesê: “Die universiteit het ons velkleur gebruik om die regering tevrede te stel.”

Transformasie is vanuit die universiteit se hoek duidelik geïnterpreteer as die teenwoordigheid van ’n diverse groep studente. Maar presies hierin lê die probleem.

Transformasie is nie getalle of teenwoordigheid nie, dit is deelname, eienaarskap en ’n gevoel van behoort.

Vreemd genoeg sluit dit op ’n manier aan by wat Flip Buys, hoof van Solidariteit, verlede naweek in Pretoria op die Toekomsberaad oor Afrikaners gesê het: “Ons weeg meer as wat ons tel.”

Want iewers bereik so ’n groep kritieke massa wat dit vir hulle moontlik maak om te mobiliseer. Om te sê: Dit is onaanvaarbaar dat ons hier toegelaat maar uitgesluit word.

Die fokus val sterk op taal as manier van uitsluiting, maar dit gaan oor baie meer as Afrikaans. Die universiteitsbestuur moes met dieselfde pas getransformeer het as die studentedemografie. Die koshuiskultuur moes herbesoek word om te vra: “Hoe kan ons dít wat ons hier doen en hoe ons saam met mekaar leef, ten goede aanpas sodat ons almal welkom, gemaklik en tuis voel?”

Die blote uitdeel van beurse moes ondersteun word deur ’n program of ’n struktuur om swart eerstegenerasie-studente te bemagtig om ten volle deel te neem aan aktiwiteite op die kampus.

Hierdie situasie is nie tot Suid-Afrika beperk nie. Die voorste universiteite in die VSA – waaronder Harvard, Stanford en Princeton – worstel ook met hierdie vrae. Dáár het toelatingsvereistes jare lank gewerk ten gunste van bevoorregte wit studente wie se ouers ook aan dié universiteite gestudeer het. As jou ouers genoeg geld aan die universiteit skenk, is jy as’t ware verseker van ’n plek in die eerstejaarsklas.

Daarteenoor het arm studente uit minderheidsgroepe omtrent nie ’n kans om by dié universiteite in te kom nie, tensy jy ’n beurs kan losslaan. Beurse is toenemend aan dié studente gegee om die studentegemeenskap meer verteenwoordigend te maak. Maar daar het dit gestop.

Daardie studente worstel met dieselfde probleme: Hoe handhaaf ek myself op ’n Ivy League-kampus? Waar en hoe pas ek in tussen hierdie ryk en bevoorregte studente? Hoe neem ek deel?

In die VSA is dit ’n warm debat op tersiêre vlak en word hard gewerk om praktiese oplossings te kry.

In Suid-Afrika steek die debat nog by Afrikaans vas.

Dat die taal hierby ingesleep is, is jammer. Hoe gouer ons besef dit gaan nie oor Afrikaans nie, maar oor die skep van ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap waarin almal tuis voel – geanker in ’n gedeelde waardestelsels van nierassisme – hoe ­nader behoort ons aan ’n oplossing te kom. 

 Johanna van Eeden is die hoofredakteur van Media24 se Afrikaanse dagblaaie.


NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.