30 Mei 11:24
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

22°C / 12°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Woensdag

18°C / 14°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Donderdag

18°C / 13°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Vrydag

22°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Saterdag

21°C / 16°C

Wind 41km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Sondag

17°C / 14°C

Wind 15km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 65%

Jo van Eeden
Lewe nie ’n ‘Survivor’-reeks
Maar ons kyk nie graag af nie. Af herinner ons te dikwels aan wat dalk met ons kán gebeur of waar ons moontlik kan opeindig.

James O’Connell was in 1982 een van die topstudente in sy finale jaar aan Harvard se mediese skool. ’n Blink toekoms het gewink, maar ’n mens beplan soms jou loopbaan sonder om te besef wat jou roeping is.

O’Connell het sy roeping gevind toe hy aangestel is as die eerste heeltydse dokter van Boston se gesondheidsprogram vir haweloses.

Die selfvoldane doktertjie het op die eerste dag by die Pine Street Inn opgedaag met sy stetoskoop om sy nek, maar hom dadelik in suster Barbara McInnis vasgeloop.

McInnis het hom opdrag gegee om sy stetoskoop te verwyder.

Vir die volgende paar weke sou O’Connell net voete was.

Vir die jong dokter was dit aanvanklik moeilik om te verstaan, maar deur die vuil, stukkende voete van hawelose mense te was, het O’Connell lesse geleer wat jy nie eens in die beste mediese fakulteit in die wêreld bemeester nie.

Familielede van psigiatriese pasiënte Dinsdag op die mediakonferensie waar die verslag oor die sterftes van dié pasiënte bekend gemaak is.Foto’s: Felix Dlangamandla
Met 94 mense wat dood is, is dit geregverdig om te sê daardie pasiënte is nie versorg nie, maar aangehou.

In ’n onderhoud verlede jaar met Harvard Magazine het O’Connell vertel wat hy geleer het:

Neem jou tyd.

Luister na die pasiënt se stories.

Respekteer die pasiënt se waardigheid.

Wees konsekwent.

Bied sorg en hoop en moet nooit oordeel nie.

En onthou, die kern van die kuns van genesing is ’n persoonlike verhouding.

Tydens ’n ontmoeting met O’Connell in 2014 in Boston het hy twee goed gesê wat my bybly.

Maar die lewe is nie ’n Survivor-reeks nie. Dit gaan nie oor outwit, outplayen outlast nie.

Terwyl hy voete gewas het, het hy haweloses in ’n ander konteks leer ken. Voorheen het hy as mediese student in die ongevalleafdeling van ’n hospitaal in Boston dikwels te doen gekry met haweloses. Daar, onder groot druk, is dikwels vinnige diagnoses gemaak. Dié een het duidelik ’n psigiatriese toestand. Dáárdie een gebruik waarskynlik die een of ander dwelm. Voorskrifmedisyne is uitgedeel om die “toestande” te behandel.

Toe hy eers die haweloses leer ken het, het hy besef baie van die “diagnoses” in ongevalle was gegrond op simptome wat verband hou met hongerte, verkluiming, ontwatering en te min slaap – die gevolge van ’n gebrek aan basiese versorging.

Die tweede opmerking van O’Connell wat my bybly, is dat haweloses hom geleer het om af te kyk.

Ons kyk mos heeltyd op – in ons strewe na uitnemendheid of oorlewing, in heldeverering of in afwagting op iets beter wat moet kom.

Maar ons kyk nie graag af nie. Af herinner ons te dikwels aan wat dalk met ons kán gebeur of waar ons moontlik kan opeindig.

Soms selfs waar ons vandaan kom.

Voetgangers kyk gewoonlik op: na winkelvensters vol weeldegoed of blink sterre wat wink.

Ons kyk net nie af nie, want daar lê die haweloses in stink komberse.

Ek kon nie help om die week aan O’Connell te dink nie.

Sy hele ingesteldheid verskuif die magsbalans tussen versorger en die een wat versorg moet word.

Sy filosofie is een van respekvolle dienaar. Vergelyk dit nou met die ingesteldheid van die 27 nieregeringsorganisasies waarheen psigiatriese pasiënte van die Life Esidimeni-klinieke in Gauteng oorgeplaas is.

Prof. Malegapuru Makgoba, gesondheidsombudsman, se bevinding dat 94 van die pasiënte in die proses binne nege maande dood is, verduidelik die ingesteldheid duidelik.

Dit was niks anders as ’n ruiltransaksie nie.

Met 94 mense wat dood is, is dit geregverdig om te sê daardie pasiënte is nie versorg nie, maar aangehou.

In een geval het ’n psigiatriese pasiënt se familie besoek afgelê by ’n “versorgingsentrum”.

Die familie is teruggestuur sonder om hul geliefde te sien, want die sentrum kon dié “nie opspoor nie”. Die pasiënt was teen daardie tyd al dood.

Die uitbuiting van mag in daardie verhouding is skreiend.

In die plek daarvan is hulle stelselmatig verhonger, verwaarloos en verloor.

Die afwesigheid van respek, deernis en die erkenning van waardigheid spruit ook uit van die sentrums se weiering dat familielede pasiënte in hul kamers mag besoek. Besoeke mag net in die ontvangsvertrek geskied.

Hoe haglik die omstandighede in daardie kamers lyk, wil ’n mens nie eens aan dink nie.

“Erger as Marikana,” is hoe Mark Heywood van section27 die Esidimeni-tragedie beskryf.

Die grootste verskil is dat ons hier te doen het met die weerloosste van weerlose mense. Psigiatriese pasiënte wat nie net spesialissorg nodig gehad het nie, maar geduld en begrip.

In die plek daarvan is hulle stelselmatig verhonger, verwaarloos en verloor.

Ons leef in ’n wêreld waarin ál meer mense meeding om al minder hulpbronne. Waarin net die sterkstes oorleef. Of, soos Darwin gesê het, net dié wat kan aanpas.

Maar die lewe is nie ’n Survivor-reeks nie. Dit gaan nie oor outwit, outplay en outlast nie.

Meer dikwels gaan dit nié oor hoe ons optree teenoor diegene wat sterker as ons is nie, maar teenoor dié wat swakker is as ons.

Oor voete was en afkyk.

  • Van Eeden is hoofredakteur van Netwerk24 en Afrikaanse dagblaaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.