Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
In oom Zuma se fantasiewêreld
Johann Maarman

In ’n satiriese artikel het die gerekende Washington Post onlangs die “ware weergawe” gegee toe Donald Trump ingehuldig is as die 45ste president van die VSA.

Alexandra Petri, skrywer van dié stukkie satiriese joernalistiek, skryf daar was so baie mense by die inhuldiging dat die toue tot by die maan gestrek het. Toe Trump ’n solo-uitvoering op sy viool speel en ook later ’n solo-uitvoering met sy kitaar, was die miljoene vroue wat die inhuldiging bygewoon het so in ekstase dat die grasperke om die Withuis ná die tyd met vroue-onderklere besaai gelê het toe hy klaar was met sy solo’s.

Miljoene mense het “Trump! Trump! Trump!” geskree en Trump het hulle genees van kanker tot outisme.

Selfs Bono, Bruce Springsteen, Elton John, The Rolling Stones en Beyoncé het onder mekaar vuis geslaan oor wie die verhoog met Trump sou deel, maar Springsteen het gewen en agterna verklaar dat Trump die enigste held is wat oorgebly het in die wêreld.

Ons weet mos dis pure bogpraatjies, want Trump maak ’n vloerlap van vroue, Beyoncé haat hom met ’n passie en ons weet mos nou al teen dié tyd dat daar minder mense by sy inhuldiging was as by Barack Obama s’n.

Daar is geen grense vir Zuma nie, want hy voel die populistiese politieke mag onder sy voet en daarom kan hy maak wat hy wil en vat hy wat hy wil.

Maar dié satiriese stuk kon netsowel op pres. Jacob Zuma en sy ANC-sikofante van toepassing gewees het.

In Zuma se boeke is die ANC nie tans ’n gekneusde, wanfunksionele familie wat smag na eensgesindheid en heling nie.

In Zuma se politieke sprokiesverhaal ululeer die ganse Suid-Afrika en sien die inwoners van dié laslappieland – wit en swart – geen fout daarmee dat hy vir hom ’n paleis met belastingbetalersgeld in Nkandla bou nie.

In die sikofantiese fantasiewêreld van Nommer Een word daar niks fout gesien met ’n minister wat R11 000 bestee aan ’n aand se verblyf in ’n luukse hotel in Durban nie.

Die volk is in ekstase as die einste minister ’n glipsie maak en vergeet om toe te sien dat ’n kontrak vir die uit­betaling van welsyntoelaes aan 17 miljoen armes nie betyds opgestel word nie.

Die volk vind geen fout daarmee dat Zuma ’n deurtrapte populis is wat nie skroom om die sloophamer aan te lê teen die fondamente van lewensbelangrike instellings van die jong demokrasie nie.

Daar is geen grense vir Zuma nie, want hy voel die populistiese politieke mag onder sy voet en daarom kan hy maak wat hy wil en vat hy wat hy wil.

In Zuma se korteks is die volk dooddollies daarmee as hy boere se grond wil afvat sonder betaling. Hulle blameer Nommer Een ook nie vir die plaasmoorde en aanvalle op plaasboere nie. Hulle blameer Zuma ook nie vir die onsinnige bendemoorde op die Kaapse Vlakte nie.

Zuma is reg om nie die spesialiseenhede van die veiligheidsapparatuur na sulke gebiede te ontplooi nie, maar eerder na die parlement om die EFF uit te smyt.

In Zuma se boeke is die ANC ’n party wat hou van ’n oop en robuuste proses, maar ook net as hy sy eksvrou kan salf as sy troonopvolger.

Dit is nie die skuld van die gulhartige, glimlaggende oom Zuma as die beurs suid duik nadat hy Des van Rooyen ’n naweek aangestel het as minister van finansies nie.

Maar gelukkig is dit nie ’n fantasie dat ons sy eskapades ondersteun nie. Vir so lank as wat Zuma op die Grondwet van hierdie land wil trap, vir so lank behoort Suid-Afrikaners ’n absolute weersin in hom te hê én aanhou protesteer – of hy nou daarvan hou of nie.

  • Maarman is adjunkredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Zuma  |  Jacob  |  Trump  |  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.