Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Kommentaar
Afrikaans en sy mense - waarheen?
Deur die smeltkroes

Beeld begin vandag met ’n reeks gesprekke oor die toekoms van die Afrikaanse gemeenskap. Die inleiers is Tim du Plessis en Leopold Scholtz.

Getrou aan sy aard as “toonaangewende koerant” (die oud-redakteur Ton Vosloo se tipering) begin Beeld vandag ’n dink- en praatplek waar vernuwend en ver buite die boksie besin word oor die toekoms van die Afrikaanse gemeenskap, skryf Tim du Plessis. Soos in ’n oop, selfdefiniërende entiteit wat almal insluit wat hulself beskou as Afrikaans, Afrikaner, Afrikaanssprekende of wat ook al.

Beeld het my gevra om, soos hulle in my nuwe wêreld van TV sê, die “anker” hiervan te wees. Beeld is ’n hartsplek en ek sê dankie.

Konteks vir inisiatief

Die konteks vir die inisiatief word netjies saamgevat in meegaande uittreksel uit die jongste boek van die historikus en joernalis Leopold Scholtz. In Kruispaaieskryf Scholtz vanuit die perspektief van “Afrikaner” oor die groep se wye en droewe geskiedenis, bepaald oor die infleksiepunte waar hulle “regte” en “verkeerde” besluite geneem het.

Dit is Scholtz se aanvoeling – en ek deel dit – dat ons weer by so ’n punt is. Ek is vanjaar 40 jaar in die joernalistiek. Meer as ooit tevore hoor ek vandag mense wat sê-vra: Wat gaan van ons word? Gaan ons oor tien jaar nog Afrikaans praat? Afrikaanse skole hê? Sal ons kinders in Afrikaans kan studeer? Moet ons nie maar verengels en versmelt ter wille van fisieke oorlewing nie?

Anderhalf dekade gelede, voordat die wiele in die “nuwe” Suid-Afrika begin afkom het, het die visioenêre Frederik Van Zyl Slabbert in Afrikaner Afrikaangeskryf: “Wanneer (Afrikaanssprekendes) begin standpunt inneem, gaan nuwe waardes uitkristalliseer wat nuwe inhoud aan die begrip ‘Afrikaner’ gaan gee. Vir my is dit so duidelik soos daglig. Ekonomiese mededinging, diskriminerende burgerskap, ongelyke kulturele en maatskaplike bronne, rasse- en/of etniese polarisering lê ten grondslag van die intensiteit of gebrek daaraan van konflik in multikulturele lande, of dit die voormalige state van die Sowjet-Unie, Joego-Slawië, Rwanda, Nigerië of Suid-Afrika is.

“Uiteindelik gaan Afrikaanssprekendes die probleme, veral in die konteks van die ‘nuwe Suid-Afrika’, nie kan vermy deur sagte en sussende byeenkomste te reël tussen gebruikers en praters nie. Nóg die onlangse verlede nóg die onmiddellike toekoms sal ons hierdie blaaskans gun.”

En “Afrikaanssprekendes sal ook hul eie smeltkroes van waarheid en versoening moet deurgaan om te bepaal of dit haalbaar is om Afrikaans in Suid-Afrika te laat oorleef,” het Slabbert geskryf.

Ek wens hy was nog met ons om te sien hoe vinnig sy woorde waar geword het. Dis ’n wekroep, eintlik ontstellend, dat Slabbert Suid-Afrika al in 1999 in dieselfde asem genoem het as sulke flitspunte van konflik soos die ou Sowjet-Unie, Joego-Slawië, Rwanda en Nigerië.

By ’n kruispad

Ons is inderdaad weer by ’n kruispad.

Ons sien dié inisiatief as deel van die smeltkroes wat Slabbert in sy boek noem, allermins ’n “sagte en sussende byeenkoms”. Dus het ons ’n hele handvol van Afrikaans se skerpsinnigste denkers gevra om uit hul perspektief te skryf oor waar die toekoms vir Afrikaans en al haar mense lê. Selfs of daar hoegenaamd ’n toekoms is.

Ons verwag nie dat die een of ander groot volksredding in Beeld se kolomme gebore sal word nie. Dis ’n koerant wie se hooftaak dit is om in te lig en te vermaak. Koerante “red” nie volke en tale nie. Produseer ook nie kitsoplossings nie.

Maar saam met ander media vorm hulle die bloedsomloopstelsel van ’n land en ’n gemeenskap wat suurstof na elke uithoek moet vervoer. Dis wat ons wil doen. Met prikkelende leesstof.

Ons gaan hard en robuus praat en stry. Dis goed so. Die doel van debat is immers nie om die ander ou te oorreed nie, dis om mekaar se standpunte oor en weer te hoor. En hopelik agterna te bedink. Ons deelnemers is ’n wyd uiteenlopende spannetjie.

Ons het groot verwagtinge van die ­reaksies wat ons van lesers gaan kry.

En, dalk, net dalk, doen ons in die volgende paar weke iets wat eendag meer as ’n voetnota in die geskiedenis sal wees.

Bogenoemde is ’n uittreksel uit Scholtz se boek Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu. Dit is ’n publikasie van Kraal Uitgewers. Om die boek te bestel, skakel 012 644 4329 of besoek www.kraaluitgewers.co.za. Prys: R220 (posgeld uitgesluit).

Onderstaande is ’n uittreksel uit Scholtz se boek Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu.

Die Afrikaner het sedert sy ontstaan voor verskeie keuses te staan gekom wat nie net die geskiedenis in ’n sekere rigting gelei het nie, maar ook die groep se wil vir oorlewing sou beklemtoon.

Dit sluit onder meer in die keuses om tot stand te kom deur die Boererepublieke, vir Afrikaans, die radikalisering van Afrikanernasionalisme, die keuse teen bruin mense, vir apartheid en stagnasie, die oorwinning van 1948 en die prysgawe van mag in 1994.

Hoe intens baie Afrikaners die oorwinning van 1948 gevoel het, is uitstekend verwoord in ’n hoofartikel van Die Burgerop 31 Mei 1948, net vyf dae ná die verkiesing:

“Hoe tuis voel ’n mens hom nie weer in sy eie vaderland nie! So was dit nie in die afgelope jare nie. Die nasionaal gesinde Afrikaner . . . het hom onwelkom, selfs onveilig in die land van sy vadere gevoel . . . Hy het hom dikwels ’n onterfde gevoel, ’n vreemdeling wie se erfenis in ander hande oorgegaan het. Asof met ’n towerslag het dit alles verander. Die Afrikanervolk het uit die stof van sy vernedering opgestaan.”

Oorwinning en verdrukking

Maar die oorwinning het ook aanleiding gegee tot die verdrukking van die swart en bruin Suid-Afrikaners en tot ’n verdere struggle teen wit oorheersing. Ook dié stryd is met groot bitterheid – en dié keer met growwe geweld aan albei kante – gevoer totdat ’n rasionele keuse in die jare van 1990 tot 1994 gemaak is dat prysgawe van mag aan die swart meerderheid minder nadele as die voortsetting van die konflik sou inhou. Dit het gelei tot die eerste ten volle demokratiese verkiesing van 27 April 1994 en die magsoorname van die regerende ANC, wat deur die meeste wit Afrikaners dekades lank as hul doodsvyand beskou is.

Wat baie wit mense as ondenkbaar beskou het, het gebeur. Die swartes het oorgeneem. Weer, soos in 1902, is die wit Afrikaners hul selfbeskikking kwyt. Weer is dit ander wat voortaan sou besluit wat gebeur. Weer word teen Afrikaans gediskrimineer. Weer word dit – dié keer deur die invoer van regstellende aksie – moeilik vir veral jong wit Afrikaners (en bruin mense) gemaak om in die staatsdiens en private sektor werk te kry.

Afrikaner weer verdwaas

Dis waar, in die geheel genome het die Afrikaners ekonomies ’n “sagte landing” gehad. Ondanks die feit dat honderdduisende wit mense – onder wie talle Afrikaners – armblankes geword het, het die meeste ekonomies nie agteruit gegaan nie. Nietemin is baie Afrikaners – hoewel lank nie almal nie – op geestelike vlak weer, net soos destyds, verdwaas, radeloos, reddeloos, moedeloos en leierloos. Soos soveel keer tevore besluit sommige Afrikaners inderdaad om hul taal die rug toe te keer. Ander emigreer na die buiteland of na binne, na materialisme en persoonlike besittings.

Die vraag is nou: Hoe moet Afrikaners op die nuwe situasie reageer? Het moderne Afrikaners dit in hulle om hulle by die nuwe werklikheid van die verlore heerskappy neer te lê en dit binne die praktiese beperkings in ’n herwonne toekoms te omskep? Het hulle die geestelike, die emosionele en die intellek­tuele krag om die verlies van mag te bowe te kom en nie alleen te oorleef nie, maar iets groots in die praktyk tot stand te bring? Sal van hulle gesê word dat hulle in ’n krisistyd deur die smeltkroes gegaan en sterker anderkant uitgekom het? Of sal hulle sagkens, soos ’n kers onder ’n maatemmer, uitgedoof word?

Die groot vraag is uiteindelik: Het die Afrikaners dieselfde kollektiewe wil om te oor-
leef as ’n eeu gelede? Die vraag sal in die komende dekades beantwoord word. N.P. van Wyk Louw het in een van sy geskrifte uitgewei oor die vraag wanneer die Afrikaners kan ophou bestaan. Een moontlikheid was “dat die meerderheid van die mense dit nie meer die moeite werd ag om as volk apart voort te gaan nie”.

Dit gebeur wanneer mense “voel dat die geesteslewe van hul groep nie meer vir die individu genoeg is om van te bestaan nie; wanneer die groepslewe vir die enkeling ’n gevangenis word; wanneer die taal te weinig bied om die honger van die verstand te versadig; die gangbare gedagtes van die volk, verstarrend, die mens isoleer van die ruim wêreld daarbuite . . . ”

Met ander woorde, het Afrikaners die geestelike spierkrag en deursettingsvemoë om ’n aangepaste identiteit in nuwe omstandighede te ontwikkel?

Meer oor:  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.