Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Kommentaar
Beeld:Kommentaar
Só sal die SAL nooit nuwe hoogtes bereik

Die verbluffende bedrag van R21 miljoen wat aan interne ondersoeke na wanbestuur, bedrog en korrupsie by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) bestee is, roep om kommentaar.

As dié ondersoeke maar gelei het tot afdankings, vervolgings en die drastiese bestuurs- en strukturele hervorming van die lugdiens waarop die finansminister, Pravin Gordhan, aandring, sou dit as ’n uitstekende belegging geag kon word. Dit kon selfs ’n deurslaggewende stap gewees om die internasionale kredietgraderingsagentskappe se honger na tasbare hervorming by staatsondernemings te stil.

Feit is egter dat die enorme uitgawe niks van dié doelwitte bereik het nie en nie gelei het tot optrede teen enigiemand wat daarby betrek is nie.

Hoekom nie? Dat die ondersoeke gedoen is en juis niks opgelewer het nie in die termyn van Dudu Myeni, omstrede en polities beskermde voorsitter van die SAL-direksie, moet verdere agterdog wek oor waarom die duur ondersoeke nie die enorme SAL-sweer kon oopsteek nie.

Ter sprake is byvoorbeeld pogings deur Myeni self om groot finansieringskontrakte of -ooreenkomste te sluit met maatskappye wat by nader ondersoek lyk na blote fronte vir onbekendes met politieke bande om mildelik uit die belastingbe­talers­trog te skep.

Dan is daar al die tot nog toe onbeantwoorde vrae rondom die beweerde subsidie van die SAL se laekostelugdiens Mango tot nadeel, selfs ondergang, van mededingers.

En moenie vergeet van die bedryf van verliesmakende plaaslike en internasionale roetes vir bloot politiek gedienstige redes nie.

Dit alles bevestig nogmaals dat nóg ’n omkeerplan en nóg ’n reddingspakket uit die sak van die tesourie nie sake by die SAL sal verander nie. Die regering se volgehoue aandrang dat die SAL in staatsbesit moet bly, maak ook net nie meer sin nie. Solank hy aan sy politieke meesters moet rapporteer, kan die projek nie slaag nie.

Die lugdiensbedryf is op die beste dae ’n uiters taai bedryf, met papierdun winsmarges, en boonop uitgelewer aan die olieprys. Die regering moet nou eenmaal erken dis nie ’n bedryf waarvoor die staat rats genoeg is nie. Verkoop dus eerder die SAL aan mense wat weet hoe.

Meer oor:  Korrupsie  |  Sal  |  Ondersoek  |  Wanbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.