Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Leopold Scholtz
VSA kort waardige leier in dié tye van verdeeldheid

Nog selde in die moderne geskiedenis het die VSA ’n meer verdeelde gesig gewys as die afgelope week.

Die tragiese gebeure in Charlottesville, waar linkse en regse betogers slaags geraak en een mens dood en tientalle beseer is, wys ’n land wat tot op die bodem gesplyt is.

Die katalisator was die plan van die stadsraad om ’n standbeeld van genl. Robert E. Lee, bevelvoerder van die Konfederale Suide in die Amerikaanse Burgeroorlog, te verwyder. Die Suide het immers onder meer om die behoud van slawerny geveg. Soos met die standbeelde van Cecil John Rhodes in Suid-Afrika, is ’n legitieme debat daaroor moontlik. Maar ekstremiste aan albei kante het die kwessie gekaap.

Volgens video’s is die betoging teen die verwydering van die standbeeld gelei deur onbeskaamde neo-Nazi’s en wit rassiste, wat onder meer anti-Joodse slagspreuke gedreunsing het. Hulle is begroet deur linkse ­ekstremiste wat hulle wou keer en in dié gespanne atmosfeer was dit ’n ontploffing wat ’n plek gesoek het om te gebeur.

Wat in sulke omstandighede nodig is, is kalm en waardige leierskap wat gemoedere kan sus en keer dat sake buite beheer eskaleer. Helaas was pres. Donald Trump nog nooit so ’n persoon nie – hy geniet dit klaarblyklik om so omstrede moontlik te wees.

Eers het hy twee dae met sy reaksie gewag en toe nagelaat om die regses te veroordeel, ondanks die feit dat hulle aansienlik meer gewelddadig as die linkses was. Sy ekskuus was dat hy eers ál die feite wou hê. Maar afgesien daarvan dat Trump andersins nooit wag voordat hy van die heup af skiet nie, was ál die feite binne enkele ure tot sy beskikking.

Wat in sulke omstandighede nodig is, is kalm leierskap wat gemoedere kan sus en keer dat sake buite beheer eskaleer.

Toe kom hy met ’n uitstekend beredeneerde verklaring (duidelik deur iemand anders geskryf), waarin hy die land oproep tot eenheid. En Woensdag trek hy onverwags op ’n mediakonferensie oor iets anders los met ’n tirade wat sy eie amptenare sprakeloos gelaat het. Hy het albei kante veroordeel, maar hulle gelykgestel met mekaar. En bygevoeg dat daar onder die regses baie “onskuldiges” was. Uit die video’s lyk dit nie so nie.

Die reaksies vertel die verhaal. Die regses het gejuig. Die ekstreem regse webwerf Breitbart News het Trump geloof en David Duke, vorige leier van die onbeskaamd rassistiese Ku Klux Klan, was in die wolke.

Die skerp kritiese reaksies uit linkse en liberale kringe was te wagte. Maar vanuit sy eie Republikeinse Party het selfs heelparty uiters konserwatiewe politici Trump uit die grond geloop. Sakeleiers het hom massaal die rug toegekeer en die weermag se hoogste generaals het hom by implikasie gerepudieer.

Dit is duidelik dat die regse ekstremiste – tereg of verkeerdelik – inspirasie uit Trump se presidensie put.

Meer oor:  Charlottesville  |  Verdeeldheid  |  Betogers  |  Vsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.