30 April 18:41
Kaapstad Verander Area

Maandag

19°C / 16°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Woensdag

22°C / 15°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

18°C / 16°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Saterdag

17°C / 16°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 81%

Menings
Die einde storm nou vinnig nader
Soos Johann Rupert dié week gesê het: Bankrotskap bou oor ’n lang tyd op, maar die einde is vinnig, genadeloos. Dis nie veel anders in die politiek nie.

Moenie inmeng met ’n vyand wat in die proses is om sigself te vernietig nie, het Napoleon gesê.

Nooit maklike raad nie. Die versoeking is gewoonlik groot om ’n ­vyand wat aan’t val is ’n hupstootjie te gee. Net om seker te maak. Maar dikwels word daardie einste hupstootjie onverwags ’n reddingsboei. En iemand wat ryklik verdien om te val, leef om voort te veg.

Dis veilig om te aanvaar ambisieuse ANC’s begin al hoe meer na die Jacob Zuma-presidensie kyk as ’n projek in die vroeë fase van selfvernietiging. Zuma krimp, fisiek en geestelik. Hy lyk soos die Bybelse Job: oud en der dagen sat.

Sy bisarre opmerking die afgelope week in Reigerpark in Gauteng oor ­Jesus wat kwansuis eers Suid-Afrika moet kom genees vóór die wederkoms sê eintlik alles.

Hy het begin voeling verloor met die werklikheid. Hy is dalk nie meer so in beheer van die ANC as wat sy apologete ons wil laat glo nie. Hoe kan hy wees as hy al hoe meer van sy wysie af raak?

Dalk is dit skynbeheer: Die Zuma Protection Unit (ZPU) hou hom regop en in beheer om hul eie basse en voordele te beskerm. Net soos met Bob Mugabe in Zim. Behalwe net: In Suid-Afrika is dit nie so maklik soos in Zim nie. Ons s’n is ’n oop samelewing.

Die ZPU veg verbete om Zuma se hopeloosheid te verberg. Maar elke nou en dan tuimel die skans om. Dan val ’n verblindende media-soeklig (altyd koerante, nie die ander nie) op Zuma. En dan staan hy daar, sy volle leegheid ontbloot.

So, as jy ’n ANC-grootkop is met ewe groot ambisie, is die vraag seker nou: Hoe kapitaliseer jy hierop?

Baleka Mbete, die ANC se nasionale voorsitter wat deeltyds moonlight as speaker, se strategie is om haar rol as die parlementêre vleuel van die ZPU baie ernstig op te neem. Lyk of sy glo hoe harder sy vir Zuma in die parlement baklei, hoe beter is haar kans om “beloon” te word met die hoof­leierskap van die ANC.

Kan dit werk? Niemand weet nie. Die ANC se bedrading is nou so gekonfoes, enigiets is moontlik. Gwede Mantashe klink deesdae soos die strydlied “L’Internationale” wat agterstevoor gespeel word.

Ek is taamlik seker niemand binne of buite die ANC kyk skerper na al dié dinge nie as Cyril Ramaphosa. Sy laaste gedagte saans voor hy insluimer is bes moontlik: Wat moet my strategie môre en oormôre wees? Wat is my beste taktiek?

Moet ek presidensieel lyk om só ’n magsbasis binne die ANC te bou? Lyk of ek al een is wat die ANC van ondergang sal red – wetende dat ek dan die gevaar kan loop van te vroeg begin hardloop? En dat ’n premature toetrede tot die stryd die spreekwoordelike reddingsboei vir Zuma kan wees?

Of moet ek skaduboks? Gemaak-verontwaardig vir Zuma in die bres tree; baie praat, maar eintlik maar min doen. Neus skoon hou, anders as Mbete. Maar dan die risiko loop dat die harde anti-Zuma-mense in die ANC – wat ek nodig het in my veldtog – dink ek is ’n whimp?

Ramaphosa is in die geveg van sy lewe. Dié een is die ware Jakob, nie ’n kroning soos die adjunk-presidentskap nie. Hy staan teen siedend verbete mense wat hul beurt soek om te eet by die trog. Dieselfde honger dryf hom nie. Dit kan veroorsaak dat hy nie skerp genoeg fokus nie.

Wat ook al gebeur, hier kom lekker sports. Soos Johann Rupert die afgelope week gesê het: Bankrotskap bou oor ’n lang tyd op, maar die einde is vinnig en genadeloos. Dis nie veel anders in die politiek nie.

Spoedig sal ons wel sien Suid-Afrika is nie ’n mislukte land nie. Maar hy word regeer deur ’n mislukte politieke party – tot mislukking gelei deur die swakste, mees verdorwe leier in sy bestaan. Hoe ’n eens gerespekteerde bevrydingsbeweging dít kon toelaat, sal altyd ’n raaisel bly.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.