22 Augustus 09:19
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 23km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 62%

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 18km/h

Reënval 2mm

Humiditeit 78%

Donderdag

15°C / 12°C

Wind 27km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 58%

Vrydag

16°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 61%

Saterdag

18°C / 10°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Menings
Almal sien mite van ‘goeie’ ANC bloei dood

Dalk is dit goed dat die illusie verpletter is. Naamlik dat die “goeie” ANC – die party van Gordhan, Jonas en Mthembu – bloot die slagoffer geword het van ’n vyandige oorname deur donker magte onder leiding van daardie stoute ou karnallie, Jacob Zuma.

Die “goeies” – die “charterists”, die hervormingsgesindes, dié wat die demokrasie probeer beskerm en gerugsteun word deur strydrosse soos Cheryl Carolus – sê hulle is hééltemal onkant betrap deur Zuma se siniese staatsgreep teen die tesourie, die kabinet, die ANC. Carolus het Dinsdag ná ’n drie uur lange vergadering met ander ANC-veterane gesê die grense wat Zuma nóú oorgesteek het – deur besluite oor kabinetsposte sonder die ANC-topstruktuur te neem – ’n jaar gelede nog “ondenkbaar” was.

Beswaardes soos Carolus verteenwoordig, in die naam van Ahmed ­Kathrada, die “regte” ANC, in wese ’n party van hoë ideale. En nou, in die “jaar van Oliver Tambo”, gaan die goeie ouens (Mantashe, Mkhize en ­Ramaphosa mos ook) maniere probeer vind om die juk van daai politieke ­tsotsi in die Uniegebou af te gooi sodat hulle kan voortgaan met die nasiebouprojek wat hulle sê vir die “ware” ANC so kosbaar is.

Dit was ’n byna geloofwaardige ­illusie, dié van “die ANC van Tambo, Mandela en Mbeki” waaroor Mmusi Maimane graag so stroperig raak – dieselfde Maimane wat laas week gesê het hy sal “enigiemand” aanvaar wat die ANC in plaas van Zuma as president kies (Baleka Mbete, meneer Maimane? Hoe klink Bathabile Dlamini? Of dalk eerder Lindiwe Zulu?).

Zuma is die man wat hulle in 2007 by Polokwane tot ANC-leier verkies het omdat “enigiemand beter as Mbeki sou wees”.

Dit is nie dat daar nie goeie ouens en goeie ministers was nie. Mcebisi Jonas se bedanking as ’n LP nadat hy as adjunkminister van finansies verwyder is, is inderdaad slegte nuus. Ook Gordhan was volgens alle aanduidings nie korrup of omkoopbaar nie. Hy het darem die pynlike afgraderings vir ’n ruk kon stuit. En natuurlik wil ’n mens eintlik vir Carolus en al die ander “ontnugterde” kaders toejuig, hulle op die hande die beloofde land in dra, wanneer hulle die lig sien en Zuma as die kanker diagnoseer wat hy is.

Dis net dat die man teen wie hulle in hierdie ontsaglik ontstellende konstitusionele krisis uitpraat, presies dieselfde man is wat hulle in 2007 by Polokwane tot ANC-leier verkies het omdat (met apologie aan Maimane) “enigiemand beter as Mbeki sou wees”.

Ja, daar was weerstand, maar lojale kaders het gesê Zuma se charisma is net wat ons kort, en die meerderheid partyleiers en takke was agter hom, bankvas.

Was dit omdat hulle nie geweet het waartoe hy in staat was nie, of omdat hulle juis geweet het?

Toe reeds het 783 aanklagte van korrupsie en bedrog oor sy kop gehang.

Toe reeds het die wanklanke van etniese mobilisering op die ritme van “Awuleth’ umshini wami” van dieselfde 100% Zulu boy se gesplete tong gerol. En op die verhoog langs hom het Zwelinzima Vavi, nou vrééslik ontnugter, en Julius Malema, nou bietjie skaam, hul boude ritmies geswaai, asof dit ’n rietdans was en hulle gehoop het die ouman met die groot skaamte sien hulle raak.

Toe reeds het ons geweet Zuma kan die woord “Grondwet” nie spel nie (ons sou eers later uitvind hy kan ook nie tel nie). Toe reeds was dit vir die res van ons, en ek glo ook vir julle,
die ontnugterdes, doodduidelik Jacob Gedleyihlekisa Zuma is ’n korrupte, seksistiese, uitgeslape, strategies briljante skurk.

Maar hy was ’n nuttige skurk. Want met sy innemende laggie en sy “manier” met mense, met KwaZulu-Natal wat bankvas agter hom staan, het julle geweet hiér is ’n man wat die ANC ’n verkiesing kan help wen.

Die Gupta-familie het ook geweet: Hier is ’n man wat radikale ekonomiese transformasie en sy basterboetie swart ekonomiese bemagtiging op óns manier kan implementeer: ’n Fees vir kripvreters. Lank leef Zuma!

Dit is opmerklik dat die mini-opstand teen Zuma laas week in die ANC se topses – toe selfs Ramaphosa sy baas vir ’n slag openlik gekritiseer het – eers gebeur het nadat Augustus se verkiesingsuitslae gewys het selfs ANC-stemvee se geduld raak op.

Elke ANC-lid, of jy nou destyds gestruggle het of nie, is aandadig aan die totstandkoming van Zuma se rower­regime, en die manier om vir jul sondes boete te doen is nie om die ANC nou te probeer red nie, maar die opposisie openlik te begin help om die verkiesing in 2019 te wen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.