29 Maart 23:02
Kaapstad Verander Area

Donderdag

22°C / 17°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Vrydag

18°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 14°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Sondag

20°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Maandag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Menings
ANC sing steeds die anti-Westerse deuntjie

Die ANC lek sy wonde oor mislukte Afrika-eenheid, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Liesl Louw-Vaudran.

Die ANC se jongste besprekingsdokument oor internasionale verhoudinge, in aanloop tot sy beleidskonferensie in Junie, is deurspek met anti-Westelike retoriek. Daarin word teen die “neokolonialiste” uit “die noorde” uitgevaar. Veral Amerika en Frankryk kom vir hul inmenging in Afrika onder skoot.

Dit is geen verrassing nie. Wanneer dit oor internasionale verhoudinge gaan, klink die ANC maar so. Om die waarheid te sê, dié dokument is eintlik heel gematig in vergelyking met die 2015-beleidsdokument wat nog onbeskaamd in ’n Koue Oorlog-gewaad geklee was.

Hierdie keer het ’n mate van realisme ingesluip. Ook maar goed, want ons leef in ’n vinnig veranderende wêreld. Pres. Donald Trump swaai die septer en ’n mens weet nooit in watter rigting nie.

Selfs Suid-Afrika se groot vriende in die Brics (Brasilië, Rusland, Indië en China) sit ook nie meer so stewig in die saal nie. Die dokument spreek kommer uit oor die regeringsverandering in Brasilië en vra dat die impak van die verkiesingsuitslae in Brics-lande op die beleidskonferensie gedebatteer word.

ANC skud kop oor Afrika-eenheid.

Maar dit is op die gebied van Afrika-eenheid – vir so lank die onderbou van Suid-Afrika se buitelandse beleid – dat die ANC mismoedig sy kop skud. Asof hy nie kan verstaan waarom die res van die kontinent nie met hom saamstem nie.

Hier gaan dit veral oor die besluit deur die Afrika-unie (AU) in Januarie vanjaar om Marokko – ondanks die voortslepende twis rondom die Westelike Sahara – as lidland toe te laat.

Suid-Afrika was gekant teen Marokko se lidmaatskap en het gemeen die Westelike Sahara moes eers onafhanklikheid kry voordat Marokko terugverwelkom kon word. Altesaam 39 uit 54 lidlande het Marokko se aansoek aanvaar.

Agter hierdie besluit sien Suid-Afrika die hand van “neokoloniale magte”, waarskynlik Frankryk, aangesien Marokko se grootste ondersteuners meestal voormalige Franse kolonies is.

Verskeie Suider-Afrikalande het ook teen Marokko gestem, maar die res van Afrika het nie Suid-Afrika se leiding op hierdie gebied aanvaar nie. Suid-Afrika en Algerië is die twee grootste ondersteuners van die Westelike Sahara.

Om te probeer vergoed vir sy nederlaag op die AU-beraad in Addis Abeba probeer Suid-Afrika se departement van internasionale verhoudinge, saam met verskeie burgerlike organisasies, ’n nuwe veldtog ten gunste van die mense van die Westelike Sahara loods.

Verlede week was ons adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Luwellyn Landers, in die parlement saam met die ambassadeur van die Westelike Sahara, Radhi Bachir, om oor die kwessie te praat. Hulle het steen en been gekla oor die feit dat die AU die mense van Westelike Sahara in die steek gelaat het.

Ja, dit is so.

Koeël is deur die kerk: Marokko is lid van AU.

Die ANC se beleidsdokument vra dat die organisasie planne moet maak om die Westelike Sahara te help en om Marokko te probeer isoleer.

Ongelukkig is daai koeël deur die kerk. Marokko is nou ’n lid van die AU en koning Mohammed VI vra nou selfs dat sy land lidmaatskap moet kry van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikalande, selfs al is Marokko nie in Wes-Afrika nie.

’n Mens is tog so half verlig om te sien dat die ANC nie gaan lê oor die Marokko-kwessie nie en dat hy poog om sy ou vriende, die Sahrawies, nog te help.

Tog sal dit dalk beter wees om realisties na die saak te kyk. Eerder as vurige veldtogte vir die Westelike Sahara kan Suid-Afrika ’n bemiddelaarsrol speel en ’n oplossing probeer vind wat vir albei partye werkbaar is.

Totale onafhanklikheid vir die Westelike Sahara lyk in hierdie stadium moeilik haalbaar, veral in die lig van Marokko se bravade en die ongelukkige uitmekaarval van Afrika se jongste staat, Suid-Soedan, wat in 2011 van Soedan weggebreek het.

Die ANC kan sy geloofwaardigheid as ’n voormalige bevrydingsbeweging en sy goeie bande met die Polisario Front, die Sahrawi se politieke leiers, tot sy voordeel gebruik.

Ongelukkig, soos met die krisis tussen Israel en die Palestynse gebiede, is hierdie ’n konflik met sterk belange aan albei kante en dit is te betwyfel of die ANC werklik die aptyt het om in hierdie stadium so ’n stryd buite Suid-Afrika se grense aan te pak.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS). Haar jongste boek is Superpower or Neocolonialist? South Africa in Africa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.