23 Junie 22:37
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 10°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 39km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 78%

Donderdag

14°C / 10°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Menings
Andries Bezuidenhout: Swart woede begin nou eers

As swart nasionalisme die pad van Afrikanernasionalisme stap, kan ons verwag dat ’n nuwe generasie eers ná die uitwoed van hierdie fase erns sal maak met die heropbou van die land, skryf Andries Bezuidenhout. 

Andries Bezuidenhout.

As die huidige oplewing van swart nasionalisme in Suid-Afrika dieselfde pad volg as wat Afrikanernasionalisme van weleer gevolg het, kan ’n mens dalk ’n beter voorspelling maak van wat moontlik in die toekoms kan gebeur.

Dit beteken ook dat ons eers oor sowat vier dekades weer oor versoening sal kan praat.

Na afloop van die Anglo-Boereoorlog met sy konsentrasiekampe en afgebrande plase wou die oorgrote meerderheid Afrikaners net vrede maak en met hul lewens aangaan. Daar was wel bitterheid oor hensoppers en joiners, maar die meeste mense wou eerder van die trauma vergeet.

Die kinders van die vredemakers, die tweede generasie ná die oorlog, was woedend. Hulle was gekrenk oor die oorlog se vernedering en het hul ouers kwalik geneem oor die inskiklikheid jeens Engelse. Dis hierdie generasie wat plekname verander het en nuwe monumente vir Afrikaners opgerig het.

Die derde generasie het begin met ’n proses van opbou. Hulle wou arm Afrikaners ophef en het liefdadigheidsorganisasies begin en gepoog om skole in arm gemeenskappe te verbeter. Hierdie opheffingswerk het natuurlik ten koste van ander groepe geskied – dis immers die aard van nasionalisme as ideologie.

Dis die vierde generasie, diegene van ons wat voordeel uit die opheffingswerk getrek het, wat kon bekostig om krities op ons voorvaders se woede te wees.

In die huidige tydvak is daar dalk ’n aantal parallelle wat met hierdie generasieverskuiwings getrek kan word. In die eerste 20 jaar ná apartheid wou ’n oorgrote meerderheid swart Suid-Afrikaners ook net van die vernederings onder apartheid vergeet. Dit was die tyd van versoening en die idee van die reënboognasie. Nelson Mandela het die tipe rol gespeel wat generaals Louis Botha en Jan Smuts destyds vir Afrikaners gespeel het.

Ons het nog net die begin daarvan gesien en die woede gaan waarskynlik veel erger word

Ons sien op die oomblik die begin van die tweede generasie se woede. Enersyds is hulle kwaad oor die vernedering van apartheid, al het baie van hulle dit nie eerstehands beleef nie. Andersyds neem hulle hul ouers kwalik vir die feit dat hulle so maklik vir die idee van die reënboognasie geval het.

Dis die generasie wat plekname verander en nuwe monumente wil bou. Ons het nog net die begin daarvan gesien en die woede gaan waarskynlik veel erger word – vir nog sowat twee dekades.

Indien Suid-Afrikaanse swart nasionalisme die pad van Afrikanernasionalisme stap, kan ons verwag dat ’n nuwe generasie eers ná die uitwoed van hierdie fase erns sal maak met die heropbou van die land.

Hierdie opheffingspogings sal ook berus op die uitsluiting van groepe wat as “die ander” gesien word – wit, bruin en Indiër Suid-Afrikaners, asook Suid-Afrikaners afkomstig van ander Afrikalande.

Twee dekades daarna sal daar ’n kritiese ingesteldheid en ’n nuwe basis vir versoening kan ontstaan. Dit sal egter afhang van die sukses van die opheffingspogings.

Indien gewone swart Suid-Afrikaners nie vordering in hul persoonlike lewensomstandighede sien en ervaar nie, sal ons waarskynlik, soos baie ander Afrikalande, in die nasionalisme van die tweede en derde generasies vasval. Of ’n gedeelde swart nasionalisme kan verval in gevegte tussen etniese groepe oor hulpbronne.

Tog is daar tekens dat daar reeds ’n tipe derde generasie swart nasionalisme aan die ontstaan is. Malaika Mahlatsi, ’n invloedryke figuur op sosiale media, het ’n kontroversiële stelling op Facebook gemaak. Ek vertaal:

“Eendag gaan ons swart mense onsself in ’n land sonder skole, hospitale en ander kritiek belangrike infrastruktuur bevind. Anders as ons wit landgenote het ons nie hulpbronne om na Australië en Europa te verhuis as Suid-Afrika plat teen die grond is nie. As die dag aanbreek dat ons geliefdes in ons huise sterf omdat daar nie klinieke is nie, of die dag as ons kinders tuis bly op koue dae en skool boikot op reëndae omdat hul klaskamermure gekraak is en die vensters gebreek is, sal ons besef dat om ’n land af te brand in protes, meer skade berokken as om ons stryd te bevorder.”

Hierdie stelling is meer as 32 000 keer op Facebook gedeel en die gesprek wat daarop gevolg het, het meer as 1 500 kommentaar-inskrywings uitgelok – sommige ter ondersteuning, ander krities.

Wat buitestaanders hieroor sê, sal geen impak hê nie. Om die waarheid te sê, dit sal ’n tweede generasie tipe nasionalisme aanblaas.

Afrikaners wou immers vir dekades geen raad van Engelse aanvaar nie. Dís die aard van nasionalisme. ’n Mens hoop net dat ons weldra, waarskynlik oor 40 jaar, hopelik vroeër, by ’n punt sal kom waar ons weer sinvol in groepsverband met mekaar kan praat.

Intussen is die belangrikste bydrae wat ons kan maak, dié van ons wat aan Suid-Afrika se toekoms verbind is, om aan persoonlike vriendskappe met alle Suid-Afrikaners te werk en om stilweg aan te hou om die tipe ekonomie en samelewing op te bou waaruit almal voordeel kan trek.

* Dr. Andries Bezuidenhout is ’n sosioloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.