21 Julie 12:41
Kaapstad Verander Area

Vrydag

17°C / 11°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Sondag

17°C / 11°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

17°C / 11°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Dinsdag

15°C / 9°C

Wind 29km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 63%

Woensdag

14°C / 8°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Menings
Annemarie van der Walt: Dankie vir nog ’n dag voor die swart kraai kom
Annemarie van der Walt

Skrikkeldag is verby sonder dat ek dit gevier het. Dié ekstra dag wat so pasella op die kalender verskyn sodat die daaropvolgende jare weer in pas kom met die stand van die son en maan en sterre behoort tog gedenk te word.

Nie deur vonkelwynproppe te laat skiet of deurnagkuier nie. Nee, dit moes ’n dag wees wat opsy gesit is om iets te doen waarvoor daar nie aldag tyd is nie.

Pleks ek vroegdag teen die oostelike berghang af is om die lelies te gaan pluk wat dié tyd van die jaar soos uitbundige bruide blom, staan ek toe en skottelgoed was voordat my huishulp opdaag.

Oudergewoonte was die radio aan met die daaglikse dosis stryd en onmin. Ek moes eerder na Beethoven se vyfde simfonie geluister het.

In stede daarvan om toe die rekenaar aan te skakel en die laaste leë kolomme in die jaar se belastingstaat in te vul, sou dit beter wees om in die kieza te gaan stap in die lap inheemse bos en krediet te gee aan die ryk woorde van ’n digter soos ­Petra Müller in “Bosgesprek”: “ . . . die transformasie op dreef, / vind hier so stilweg plaas: ’n mens / sou dit kon aansien / vir ’n blaar wat grond toe sweef.”

Ek sou my ’n ganse geskiedenis vir haar verbeel ...

Later sou ek veel eerder die woorde wat soos manskappe onder my vingers oor ’n skoon bladsy marsjeer, afgemete en feitelik, tot halt wou roep en die letters in ’n storie herrangskik oor die vlugtige ontmoeting met ’n vrou wat alleen woon op ’n afgeleë plaas.

Ek sou my ’n ganse geskiedenis vir haar verbeel en dit dalk regkry om presies te beskryf hoe haar vingers vou oor die sandsteenhoeke van ’n huis gebou deur Italiaanse krygsgevangenes; ’n klein fort teen ’n wêreld wat haar nie kan skeel nie.

Teen die laatmiddag sou ek my nie wou inkerker in die huis nie, maar liewer tóg uitry na die plek met die houtdek in die voue van die Laeveldse berge waar ’n mens die son se skemergang kan dophou. Daar moes ek vir die dogters elk ’n boodskap stuur as herinnering van toe ons saam daar was.

Want die dag ná skrikkeldag was daar ’n tyding en dit was soos die gedig van Herman de Coninck: “En die swart kraai kom toe / oor sewe berge gevlieg en / bring ’n brief in sy bek: / ’n swart koevert [ . . .] / So donker is die nag van die dood / en so wit ons skrik.”

Ek sal voor die plaashuis gaan staan van haar ouers wat die wêreld toe nie kon buite hou nie.

En tussen die warboel gedagtes, die óngeloof, oor ’n kind so oud soos myne wat ons nooit weer sal hoor lag nie, was die stilte so oorverdowend ’n mens kon ’n blaar hoor val.

Ek sal die lelies gaan pluk.

Ek sal voor die plaashuis gaan staan van haar ouers wat die wêreld toe nie kon buite hou nie.

Ek sal nie woorde hê nie.

Ek sal my nie kan índink nie.

Ek sal net dink hoe goed dan dat dié jaar één dag langer was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.