27 April 20:50
Kaapstad Verander Area

Vrydag

22°C / 15°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Saterdag

27°C / 18°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 36%

Sondag

18°C / 17°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 83%

Maandag

19°C / 16°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 80%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Woensdag

21°C / 14°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 46%

Menings
Annemarie van der Walt: Die kuns van die hóé van ’n propperse hek
Annemarie van der Walt

Ek hou van propperse hekke. Hekke met katoeters wat ’n mens eers van ’n kant moet bekyk om te sien hoe dit presies oopmaak, so asof dit ongeneë is om jou deur te laat na wat ook al aan die ander kant is.

Deesdae se hekke is meestal so generies en vervelig: tjoeps druk ’n mens die knoppie op ’n afstandbeheer en dan suis die ding so ordentlik oop. Ek is oortuig daarvan dit lei tot ’n verlies aan handvaardigheid.

Daar is roetes uit die verre verlede wat ek steeds kan oproep deur aan die verskillende hekke te dink wat oopgemaak moes word.

Op die plaaswerf was die tuinhek met so ’n stewige veer wat dit laat toeslaan het. As jy nie vinnig genoeg en met ’n houvas daarop daar deur is nie, was die kans groot ’n stuk van jou rok of ’n vinger word vasgeslaan.

By die koeikamp was daar weer twee draadhekke wat na weerskante oopgemaak het en bymekaar gehou is deur daardie hingsel-ding wat van die een hek oor die ander klap en wat geen beneukte Brahmaanbul binne hou nie.

Ná die mielielande was dit weer ’n enkelhek wat ’n mens moes oopmaak deur ’n ring aan ’n kort ketting te haak aan so dingeseding aan die hekpaal en by die windpomp was ’n stuk tou genoeg om daardie hek in posisie te hou.

En dan was daar die houtpaaltjie-en-doringdraadhekke en ek skat daar is nie ’n plaas in die land sonder een van dié smoelneukers nie. Die oopmaak kan nog gaan, al moet jy fyntrap om nie verstrengel te raak as dit uit die pad gesleep word nie.

Maar dis daardie toemaakslag wanneer jy die verdekselse ding net-net nie naby genoeg die hekpaal kry om die bloudraad daar oor te skuif nie én dit boonop soos ’n kettie skietgee sodat die nerwe waai.

In die dorpe en stede was daar net so ’n ryke verskeidenheid van hekke. Aan jou hek is jy geken. Ek verbeel my ek onthou hoe kinders laatmiddag aan die hekke swaai terwyl hulle op niks besonders wag nie, maar dit was dalk maar net omdat hekke toe nog meestal gebruik is om honde en kinders binne te hou en nie die res van die wêreld buite nie.

Gelukkig geld dié reël nog hoofsaaklik op Kaapsehoop en so erf ek twee houthekke om die perde uit my tuin te hou. Die eerste skarniere wat ek loop koop, is nie lank genoeg nie en ek word goedig gewaarsku die goed gaan oumensboude maak daar in die middel.

Toe volg die raaisel om uit te werk waffer kant die skarniere moet sit en toe is die verlengingskoord te kort en die boorpunte verkeerd en die boute te dik.

Ek’t wyn loop skink om my onhandvaardigheid te vier.

“Sukkel jy?” kom vra ’n buurman.

En sedertdien oordink ek, hekloos, steeds sy volgende woorde oor die lewe: “Dis een ding om te besluit wát om buite te hou, maar ’n gans ander storie oor hóé.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.