Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Dlamini-Zuma is die regte dokter

As dit van ’n groot gros vox populi afhang, behoort Cyril Ramaphosa tot die vierde demokratiese president van Suid-Afrika verkies te word.

Cyril is die poster boy van Suid-Afrika. Hy het al die regmerkies langs sy naam en word as ’n skrander leier met onkreuk­bare karaktereienskappe beskou.

Ook word hy gesalf as die ANC-profeet wat Suid-Afrika die melk-en-heuning-land kan maak en die broodnodige maatskaplike kohesie in Suid-Afrika kan uitbou en versterk. Hy is ’n dinamiese sakeman wat die ekonomie sal regruk en bowenal iemand wat die ANC uit die doldrums sal lei en die patronaatnetwerke van die Jacob Zuma-kabaal met wortel en tak sal uitroei. Maar Cyril se lot is ongelukkig nie in die hande van die gewone Suid-Afrikaner nie. Sy toekoms is in die hande van die net meer as 4 000 afgevaardigdes van die ANC wat in Desember vir die regerende party se leierskapverkiesingskonferensie gaan saamtrek. Dis die mense wat elke jaar hul R20-ledegeld aan die ANC betaal.

Afgevaardigdes van takke sal dus besluit wie die ANC lei of nie. Daaroor kan die DA, die EFF en wie ook al nie eens biduur hou nie.

Maar Cyril kan dieselfde pad loop as Hillary Clinton. Die sobere keuse vir Amerika was dat Clinton vir Barack Obama moes opvolg. Op die gewildheidsleer was Clinton by verre die gunsteling, maar die kiesers het anders besluit en ’n sloopbal soos Donald Trump gekies.

Cyril loop nes Clinton voor op die gewildheidsleer, maar dis net waar die CR17-faksie die bal misslaan.

Waar Cyril by elke liewe sakekamer sy verkiesing veg, is dr. Nko­sazana Dlamini-Zuma op die grond. Sy praat by vrouesaamtrekke, sy voer haar stryd op takvergaderings en konsolideer haar steun in KwaZulu-Natal. Dis uitstekende taktiek, want wie KwaZulu-Natal in die sakkie het, wen die ANC-leierskapstryd.

So Cyril kan maar met die ­clever blacks iGauteng praat en die dissidente stemme in die Oos-Kaap, solank Dlamini-Zuma die steun van die vroueliga, die jeugliga en provinsies soos die Vrystaat, Mpumalanga en die helfte van Limpopo het, is sy onstuitbaar.

Die enigste wapen van Dlamini-Zuma se teenstanders is dat hulle haar tjap met die Zuma-van en propageer dat die ANC nie ’n monargie is nie en dat die president nie deur sy eksvrou opgevolg behoort te word nie.

Doodreg, die ANC is nie ’n monargie nie, maar wat het dit met die prys van eiers te doen? Sy is ’n leier in eie reg en wys eintlik net hoe bankrot daai argument is.

Dis ook ’n blote versinsel dat Dlamini-Zuma haar sal laat voorskryf deur Jacob Zuma en kamma vir hom amnestie sal gee as sy tot president verkies word. Nêrens het sy nog ’n woord daaroor gesprak nie, maar daar word redelik aanvaar dat sy na haar eks­man se pype gaan dans. Wat ’n belediging vir so ’n intelligente vrou!

Dlamini-Zuma was die voorsitter van die Afrika-Unie, sy was ’n briljante minister van buitelandse sake en voor dit was sy die minister van gesondheid. Gerieflikheidshalwe word vergeet dat sy die sigaretmaatskappye gedurende haar termyn as die minister van gesondheid vasgevat het.

O ja, sy het ’n liederlike flater met die Sarafina 2-skandaal behaal. Maar Cyril is ook nou nie ’n spierwit laken nie. Het ons dan van sy rol in die Marikana-slagting vergeet?

Die ANC het nou ’n burokraat soos Dlamini-Zuma nodig. Sy is die dokter wat die ANC en die land nodig het.

)

Meer oor:  Johann Maarman  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Mening  |  President  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.