22 Augustus 09:13
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 22km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 63%

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 78%

Donderdag

15°C / 11°C

Wind 28km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 59%

Vrydag

16°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 62%

Saterdag

18°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Sondag

18°C / 12°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Menings
Kaapse droogte verg ’n kopskuif
Die Voëlvleidam by Gouda, een van Kaapstad se hoofbronne van water, was Maandag net 29,1% vol. Die gemiddelde damvlakke van Kaapstad se opgaardamme is 30%. Foto: Bruce Sutherland | Stad Kaapstad

Die droogte in die Wes- en die Oos-Kaap vereis dat almal moet besin oor hul staanplek op hierdie planeet en hoe ons in harmonie met ander spesies sal saamleef. Onderrig en opvoeding het ’n groot rol te speel, skryf Michael le Cordeur.

Dit is almal (ouers, onderwysers en die media) se taak om seker te maak dat Suid-Afrikaners die huidige droogte nie net sien as ’n probleem wat sal oorwaai nie, maar as ’n noodwendige verandering in die natuur waarteen ons geen verweer het nie.

Met die skryf van hierdie artikel was die Wes-Kaapse damme gemiddeld 29% vol. As jy in gedagte hou dat die laaste 10% onbruikbaar is, beteken dit ons het minder as 20% water oor.

Ons sit met ’n krisis. Dit vra ’n nuwe diskoers. “Never waste a crisis if you can learn something,” het Sigmund Freud gesê.

Die oplossing is nie om net water te spaar as daar ’n droogte is of om maar net nog ’n dam te bou nie. Die antwoord is om na die natuur te kyk deur die lens van volhoubare ontwikkeling.

Suid-Afrika kan die koste van nog ’n dam en die ontsouting van seewater in elk geval nie bekostig nie, en nog damme in riviere gaan ’n vernietigende impak op die ekosisteem hê. Daar is reeds tekens dat die plantegroei en dus die diere- en voëllewe langs die Bergrivier nadelig geraak word.


Klimaatsverandering

Dr. Willem de Clercq, ’n waternavorser verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê die huidige krisis word deur die sameloop van verskeie faktore, waaronder ’n groter bevolking, klimaatsverandering en verwarming, veroorsaak.

So byvoorbeeld moet Kaapstad tans water aan meer as 8 miljoen mense voorsien. Die meeste was tot onlangs nog waterverbruikers op die platteland, wat ironies juis weens die droogte ’n heenkome in die stede kom soek. Die daaglikse toestroming na die stede en die gevolglike ontvolking van die platteland kompliseer die situasie verder en is ’n resep vir ’n ramp wat wag om te gebeur. Dit skep allerhande stedelike krisisse, soos die onlangse Houtbaai-brand getuig.

Maar die tragedie is steeds dat mense dink wanneer die droogte verby is, keer ons na business as usual terug. Dat die natuur en die klimaat permanent gaan verander, kan net met ’n nuwe diskoers en ’n nuwe gesindheid reggestel word.


Gesindheidsverandering

Suid-Afrika is van nature ’n droë land. Maar steeds gebruik sommige inwoners dubbeld soveel water (340 liter) as die res van die wêreld (170 F). Ten spyte van die talle oproepe, boetes, waarskuwings, bewusmakingsveldtogte en selfs dreigemente van tronkstraf het die vermorsing selfs onder die kwaaiste waterbeperkings voortgegaan.

Talle Suid-Afrikaners het nog nie hul ingesteldheid oor ons skaars natuurlike hulpbronne verander nie. Die besparingsmaatreëls waaraan ons die laaste tyd gewoond geraak het, moet deel van ons bestaan word. Dit moet ’n leefwyse word om tuine net soggens voor seweuur en saans ná ses nat te spuit. Om jou motor met ’n emmer water te was pleks van met ’n tuinslang moet die norm word.

In hierdie opsig het ek en my gesin die afgelope somervakansie besluit om te belê in ’n gryswater-stelsel by ons huis. In die proses spaar ons 1 500 liter water per week. As Suid-Afrikaners hul leefwyse verander, kan ons die krisis die hoof bied. Maar dan moet elkeen sy deel doen, ongeag hoe klein.


Kurrikulum-verandering

As ek vir ’n wyle my kurrikulumhoed kan opsit: Die belangrikste oorweging bly om Suid-Afrikaners te laat besef dat dit almal se verantwoordelikheid is om ons hulpbronne te beskerm.

Hierdie herbesinning moet by die onderwys begin, want dit is van kritieke belang dat die jeug met die regte kennis en insig grootword. Dit hou drastiese gevolge in vir die huidige kurrikulum, wat reeds onder druk is om te verander en sy koloniale verlede af te skud.

Daar was reeds verskeie reaksies uit onderwysgeledere op die wêreldwye sosiaal-ekologiese krisis. Een daarvan is die Verenigde Nasies se poging om 2005 tot 2014 tot die dekade van volhoubare ontwikkeling te verklaar. Maar dit het relatief min bereik om die mens se roekelose omgaan met sy omgewing om te keer. Ek dink dus dat die beginsel van volhoubare ontwikkeling ’n beleidsverandering in die huidige kurrikulum noodsaak.

Dit is net nie meer volhoubaar om skoon drinkwater in toilette af te spoel nie. Ons ingenieursdepartemente aan universiteite moet vorendag kom met nuwe tegnologie wat twee waterstelsels in elke huis sal noodsaak: een vir gryswater wat in toilette gebruik word, en een vir drinkwater en huishoudelike gebruik. Dit word reeds in sommige lande oorsee en selfs plaaslik in Orania gebruik.

Daar is ’n goeie rede waarom die omgewing een van die grondbeginsels is waarop die CAPS-kurrikulum gebou is. Dit vereis van ons ’n paradigmaskuif; dat ons heeltemal nuut sal dink oor vakke soos geografie, taal en omgewingsleer. Ek gee ’n enkele voorbeeld:

Dit het pas herfs geword. My studente (huidiges en voriges) sal weet dat ek in die eerste week van Maart die gedig “Vroegherfs” van NP van Wyk Louw hanteer. Met behulp van wingerdblare wat verbruin en goue akkerblare (waarvan daar in die Boland ’n oorvloed is), Emile Minnie se CD met die toonsetting van die gedig en talle prente in herfskleure leer ek my studente nie net poësie nie, maar ook die waardes wat deur middel van die gedig onderrig kan word.

So kom hulle tot die besef dat iemand ’n eeu gelede die akkerbome in Stellenbosch geplant het sodat ons vandag die voordele daarvan kan ervaar. Ons volg dit op met ’n besoek aan die opvoering van Kringe in die bos op die Woordfees.

Die gedig word dan geïntegreer met geografie; oor maniere om water en bome te bewaar, asook ’n les oor die geskiedenis van Stellenbosch se historiese eikebome. Wiskunde word ook betrek: Laat leerlinge uitwerk hoeveel water die dorp per jaar kan spaar as een gesin 500 liter per week minder gebruik. So integreer jy geletterdheid met syferkundigheid.


Waterweek

Volgende week vier ons Waterweek. Vanjaar se tema is die waarde van water vir die omgewing, ekonomiese ontwikkeling en werkskepping.

Ek doen ’n beroep op skole om Waterweek (20 tot 26 Maart) met erns te benader en die geïntegreerde benadering tot die kurrikulum en die omgewing te volg.


Rentmeesterskap

Almal moet groter rentmeesterskap ten opsigte van ons waterbronne aan die dag lê om hierdie komplekse sameloop van omstandighede te kan bestuur. Dit sluit in beter beplanning. Aristoteles het gesê: Uitnemendheid is nie ’n enkele daad nie; dit is ’n leefwyse.

Volgens dr. De Clercq kan die water in ons damme nog vir dubbel die huidige periode voldoende wees, indien almal saamstaan en water bespaar. Sodoende kan almal help om ’n “ekstra” dam te bou, en dit sal ons nie ’n sent kos nie.

Maar eers moet ons leefwyse verander.

Dr. Le Cordeur is die hoof van die departement kurrikulumstudie aan die US

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.