Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Gerrie Nel regte man vir ons tyd
Barnard Beukman

Gerrie Nel se bedanking uit die nasionale vervolgingsgesag is ’n reuseterugslag vir dié belangrike instelling. Indien iemand van sy kaliber en ervaring aanbeweeg, is die skrif finaal aan die muur.

Op leiersvlak is die vervolgingsgesag verlam deur skorsings, blatante politieke inmenging en ’n toenemende gebrek aan geloofwaardigheid.

Op bedryfsvlak, in die land se verskillende howe, is daar weliswaar nog staatsaanklaers wat daagliks harde en goeie werk lewer. Daar kan net gehoop word dat die meeste van hulle deurdruk totdat ’n nugterder klimaat eendag ook daar bereik kan word.

Nel het gister in ’n verklaring gesê die private vervolgingseenheid van AfriForum waarheen hy gaan, gee hom die geleentheid om te verseker dat geregtigheid sal seëvier in die samelewing, ongeag die posisie van die persoon wat skuldig is aan korrupsie. “Ons is nou in ’n posisie om korrupte mense te vervolg wat nie deur die nasionale vervolgingsgesag vervolg word nie.”

Indien dit is waarop Nel hom nou gaan toespits, is hy die regte man vir ons tyd. Die land steier onder ongekende korrupsie en openlike strooptogte van die staatskas deur hooggeplaastes.

Pres. Jacob Zuma se hekwagters by die Valke en die nasionale vervolgingsgesag was vinnig om ’n saak teen Pravin Gordhan, minister van finansies, te probeer opmaak.

Maar toe sterker bewerings met die moontlikheid van meer tasbare bewyse teen David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, rugbaar word, het genl.maj. Berning Ntlemeza, die tans betwiste hoof van die Valke, net sy kop geskud. Om een voorbeeld te noem.

Indien Nel se ervaring en talente nou beskikbaar is om ’n verdere soeklig op korrupsie te laat val en dit aktief help uitrook, kan dit net tot voordeel van die land wees.

Oor presies hoe die nuwe eenheid waarby hy aansluit in die praktyk gaan werk, sal nog gesien moet word. Ook of private vervolging wel ’n bruikbare meganisme kan wees. Hoewel sommige kenners Dinsdag twyfel daaroor uitgespreek het, kan Nel sekerlik in dié stadium die voordeel van die twyfel kry dat hy hom nie sou begewe het in iets wat nie werkbaar is nie.

Die land steier onder ongekende korrupsie.

Hy, sowel as AfriForum, sou sekerlik vooraf verreken het dat die organisasie se betrokkenheid by die inisiatief die wenkbroue sou laat lig. Hoewel die burgerregtegroep ’n groot verskeidenheid opbouende aksies in die gemeenskap voer, gaan dit soms – ten regte of ten onregte – nie sonder omstredenheid gepaard nie. Omdat bepaalde groepsbelange deel van AfriForum se identiteit is, beskou sommige dit by verstek as ’n onaanvaarbare omstredenheid.

AfriForum wys gereeld daarop dat sy optrede, al is dit gerig op groepsbelange, grootliks tot voordeel van almal in die land is. Nel voer aan hy het die aanbod aanvaar, want die organisasie is die een wat die inisiatief van so ’n private vervolgingsgesag moontlik gemaak het.

Hy en die organisasie sal sulke vrae maar moet bly beantwoord.

Dit is demokrasie.

Maar om – soos in sommige kommentaar gister – die aanname te maak dat enigiets wat Nel en AfriForum wil probeer noodwendig as ’n aanval van wit op swart beskou sal word, is jammerlik naïef. En speel in die hande van ’n narratief wat juis ’n soort politieke heiligheid probeer skep vir sommige en boewerolle vir ander.

Dit is op sigself onnodig verdelend. En speel so in Zuma en kie se hande. Almal hoef nie mekaar sy benaderings te aanvaar nie. Maar waar iemand iets probeer doen, moet dit minstens objektief en teen uitkomste gemeet word.

Oor na Nel en AfriForum vir hul uitkomste op dié ene.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Gerrie Nel  |  Zuma  |  Bedanking  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.