24 Junie 07:26
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Menings
Vuurstorm
Hanlie Retief berig uit Knysna
’n Week na die verwoestende brande in Knysna en omgewing.Foto: Conrad Bornman

Ons gaan nou vir die res van ons lewens praat van voor die vuur en ná die vuur, sê André Fechter en draai sy motorsweeftuig skerp oor Knysna Heights, die spogbuurt wat grootliks in die slag gebly het.

Onder ons sien jy vir die eerste keer die enorme impak van die verwoestende brand: 11 000 ha se inheemse bos, plase en plantasies is vernietig. Sewe mense is dood, meer as 500 huise is ­afgebrand.

Ons loop deur Salomo se spreuke. Alles kom tot niks.

Later beaam Buffelsbaai se redder, Deon van Wyk, dit. Dié adjunk-brandweerhoof van die Eden-munisipaliteit het twee dae en drie nagte sonder ophou teen die vuur baklei en gesorg dat geen huis op dié stranddorp afbrand nie.

“Toe ons die eerste keer in die helikopter kon vlieg, was ek verstom hoe die vuurstorm uit die weste van Elandskraal geskeur het oor die aarde, tot hy aangesluit het by Kruisrivier se vuur aan Plettenbergbaai se kant. Die twee vure het mekaar getrek en alles verwoes in hul pad.

“Ek kan steeds nie glo net sewe mense is hier dood nie. Ek het ’n ramp verwag, ’n duisend mense, tweeduisend.”

Een ou oom, vertel Philip Wilken, het botweg geweier om sy kat agter te laat. “Ons het die oom naderhand uit die huis gedra met sy suurstofgoed en die swart-en-wit katjie in ’n mandjie, al die pad Brenton se strand toe.”

Ek en André vlieg laag oor die gebied wat die dorpenaars nou die oorlogsone noem. “Hier was my pêl se huis, daar’t ons altyd gebraai. By daardie huis was die kinders alleen toe die vuur gekom het, toe kry die huiswerker hulle uit. Kyk dié straat, die linkerkantse huise almal veilig, oorkant staan net die fonda­mente.”

Ons vlieg oor die geraamte van die groot huis van die Thesens, Knysna se bloubloedfamilie. Oor die oorblyfsels van Huis Volhard, die skoolkoshuis. ’n Ent weg is sy dogter se afgebrande huis. “Sy’t dit pas gekoop, en net een aand daarin geslaap voor die brand. Die huis was nog nie verseker nie.

Daniël Jack se huis en spazawinkel het afgebrand.

“Dis emosioneel vir my om nou hier te vlieg. Ek is nou 68. My pa-hulle het in 1933 die houtmeubelsaak hier begin. Dis wonderlik om te sien hoe Knysna se mense saamstaan.”

Dis die begin van die langnaweek, en die dorp is vreemd gedemp. Dis ’n onseker stilte, want plek-plek smeul dit nog, daar’s nog heelwat rook en die helikopters vlieg heen en weer met hul watersakke. Eienaars staan verslae rond op hul afgebrande erwe, tel sinkplate op, pak bakstene op ’n hoop.

Heel bo teen die kop staan twee reusepilare op ’n erf, die spoghuis tussenin het heeltemal weggebrand. Die eienaars sit op omgekeerde plastiekdromme by ’n Jurgens-kampeerwa. “Dis ons Twin Towers,” spot Helmut Baumann. In een van die pilare, meters hoog en bisar, sien jy die ingeboude braaiplek met sy gasbraai.

Helmut skud net sy kop en vryf oor sy wit baard en sê life goes on. Hy dra ’n geleende sweetpakbaadjie oor sy kaal bolyf, sy broek en skoene ook vriende s’n. Hy en sy vrou het vier jaar terug uit die Noorde hier kom aftree vir ’n bietjie rus en vrede, lag hy en skud weer sy kop.

Deon van Wyk wat Buffelsbaai gered het.

“Ons het die aand met verkykers gestaan en kyk hoe die vuurwal nader kom. Die Drakensbergbrande het my geleer as die vlamme só hoog is (wys hy bo sy kop) moet jy hardloop. En toe ís hulle, en ons hardloop. Ons het sekondes gehad. Dit het vuur gereën. Ek het ons belangrike papiere gegryp, die hond aan sy stert opgepluk, in die kar gegooi en ons is hier uit. Gelukkig het ons links gedraai, as ons regs gedraai het, was ons in die vuur.

“Vreemd, nè,” wys hy na die ongeskonde buurhuise. “Die brand het sy huise met die hand uitgesoek. Ek het nie antwoorde nie.”

Voor hulle ’n helikopter-recce gaan doen oor die brandlyne, deel Deon en sy roetbesmeerde brandbestryders vinnig hul stories. Ons staan op die stoep van ’n afgebrande huis op die dorp. Die manne se oë is rooi van die rook.

“Dié was ’n onstuitbare monstervuur,” vertel Philip Wilken, ’n Riversdaller van die Suid-Kaapse brandbeskermingsvereniging. “Jaaa, Murphy op Viagra,” beaam Craig Viljoen terwyl hy ’n jong skaaphond vashou wat wees gelaat is. Murphy se wet, want alles wat verkeerd kon loop, hét. Stormsterk bergwinde wat dakke klinies afgewaai het. Boonop is die Suid-Kaap droog, die inheemse woude wat altyd brande keer, was dié keer blootgestel, want die blaredak was te yl – presies soos met die verwoestende 1869-brand.

“Julle manne spuit mos ’n vuur dood met ’n tweeliter-Cokebottel,” terg Craig vir Deon en Philip.

Philip vertel: “Ons was in die kop van die vuur by Buffelsbaai toe ons bakkie agterop begin brand. En ons het níks water nie, en Deon jaag agteruit om die vlam so plat as moontlik te hou. Toe vat ek ’n bottel Coke, hang by die venster uit, skud die bottel en spuit die vlamme daarmee. Eers agterna het die sweet ons uitgeslaan,” vertel hy met ’n glimlag.

En wat doen Deon? Hy ry wragtig terug na Buffels se brand. “Wil jy my nou vir ’n tweede keer doodkry?” was al wat Philip kon uitkry.

Deon: “En ek sê klim uit as jy wil, maar ek sleep nou Buffels toe!”

Danksy dié twee het nie een huis in Buffelsbaai in die slag gebly nie.

Die ergste was om te sien hoe mense voor hul huise staan en hulle het niks, tot hul diere het doodgebrand. “Jy is magteloos. Die vuur het gelyk soos vingers, dit rol so uit voor jou. En die hitte is iets . . . ek kan nie vir jou beskryf nie. Ek het in ’n stadium vrede met die Here gemaak en gesê dis Sy vuur, Hy moet lei.”

Veral die ou mense het hardkoppig geweier het om hul huise agter te los. “Hulle was bereid om eerder dood te gaan tussen hul goed en herinneringe.”

Een ou oom, vertel Philip, het botweg geweier om sy kat te los. “Ons het die oom naderhand uit die huis gedra met sy suurstofgoed en die swart-en-wit katjie in ’n mandjie, al die pad Brenton se strand toe.”

As kind het Deon op hul plaas naby Keurbooms by ’n ou Zoeloeman geleer hoe ’n mens voorbrande doen. Sy voorbrand by Ruigtevlei het help keer dat Sedgefield afbrand.

By Elandskraal in die Karatara-omgewing waar die brand oorspronklik begin het, draai ons af na Kalanderkloof, die plaas van Tony en Madré Johnston, die twee jong siviele ingenieurs wat saam met hul seuntjie, Michael (3), in die vuur omgekom het.

Ons stap op die smal grondpad. Dis afgeleë, diep in die inheemse woud. Waar jy kyk, is dit kaal gebrand, die grond swart verskroei. Om die “Johnston”-bordjie teen die plaashek is blomme en ’n draadkruis vasgemaak. Op die kaal werf staan ’n uitgebrande Terios en Land Rover Defender. Die ­Terios se deur staan oop. Gesmelte ­aluminium van die wielvellings maak spore in die grond.

Van die huis is niks oor nie. Die wind rammel deur die verwronge sinkplate wat oral rondlê. ’n Emaljeketel is swart verbrand, ’n muffinpan langsaan ongedeerd. Van twee kano’s is net veselglasskerwe oor. ’n Liasseerkabinet se laaie gaap skeef oop, die kluis se deur is afgeruk, binne sien jy gesmelte patroondoppies. Michael se trapfietsie lê swart verbrand.

Ons loop deur Salomo se spreuke. Alles kom tot niks.

Graig Viljoen en Django die hond wat die brand vrygespring het.

Anders as in die dorp, waar die afgebrande huise soos oop wonde lê, is die Johnstons se plek ’n woudgraf.

Die Johnstons is ’n ent weg van die huis gekry. Tony het bo-oor Michael, Madré en hul ongebore baba gelê.

Ons volg die brandspoor terug Knysna toe. In die Wit Lokasie – soos die inwoners die township noem – wag lang toue mense op Gift of the Givers se trok vol kos. Een vuurtong het oor die heuwel ’n streep huisies verwoes.

Wat die seerste maak, is sy spaza­winkeltjie wat weg is in ontploffende Stoney-bottels, vertel Daniël Jack. Sy pa, Izak, hurk krom en krap doelloos met ’n stokkie in die as.

Die Knysna-tronk het net-net die vuur vrygespring. Toe dit reg rondom brand, het die gevangenes histeries teen die tralies en deure begin klap, vertel Freddie Barnard, die waarnemende hoofbewaarder. Freddie sit toe met die dilemma: Los hy hulle binne, brand hulle dalk dood, sluit hy die selle oop . . . “Ek was ópgestres.”

’n Week na die verwoestende brande in Knysna en omgewing Deon van Wyk en Philip Wilken.

Die aand in ’n restaurant kom gesels Cornel Erasmus, ’n assessor van Bloemfontein. Ná ’n week se hartbreekgevalle het hy bomskok. “Wat my die meeste verstom, is dat die mense eerste hul foto’s gryp. Nie dokumente nie, fóto’s. Die mense vertel my hul honde het eerste begin vlug, nog voor die mense self die gevaar besef het, en baie katte is skoonveld. Ek het binne dae derduisende rande se eise afgehandel.

“Maar dis geld. Mense se herinneringe kan nie vervang word nie. Dit was die heel ergste week van my loopbaan, dis rou emosie hier. Een van my kliënte het voor haar afgebrande huis gestaan, dit het nog gesmeul, toe hoor sy haar winkel op die dorp het ook tot op die grond afgebrand. Die mense is vreemd kalm, asof dit nog nie ingesink het nie. Drie van my kliënte is dadelik oorsee, hulle wou net hier wegkom.”

Later kyk ons na ’n hommeltuigvideo wat Wallace Vosloo einde Mei van die Johnstons se plaas gemaak het. Die voertuie staan presies waar hulle uitgebrand het. Madré en Tony staan op die werf en waai vrolik vir die kamera.

Sy dra ’n rooi trui. Michael is ’n klein besige kolletjie langs hulle. Die groen-groen woud omvou hulle. Vasgevries in daardie gelukkige oomblik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.