30 April 18:41
Kaapstad Verander Area

Maandag

19°C / 16°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Woensdag

22°C / 15°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

18°C / 16°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Saterdag

17°C / 16°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 81%

Menings
Hanlie Retief gesels met Hermann Giliomee
Trots én skaam, dié Afrikaner

By die afgelope KKNK is ’n huldigingsete vir prof. Hermann Giliomee gehou. Foto: jaco marais

In Hermann Giliomee se tuin in Stellenbosch se Dalsig is ’n yslike geelhoutboom, geplant in hul eerste huweliksjare. 

Soos die prof, het dié boom regerings en organisasies en ideologieë sien verbygaan. Getuies van groot tye. Maar anders as die apokriewe Chinese vloek, was sy lewe in interessante tye vir die historikus Giliomee “ ’n . . . ­blessing”.

Nou, op 78, het hy die ongewone (vir ’n historikus) gedoen: ’n outobiografie gaan skryf. En, soos maar altyd met dié geskakeerde man, beskryf die medehistorikus R.W. Johnson dit as ’n meesterwerk van eietydse geskiedskrywing, onder die dekmantel van ’n outobiografie. 

Op die voorblad is ’n foto van Giliomee, met sambreel aan’t stap deur ou Stellenbosch. Rustig. Gemaklik. Peinsend. En die wit hare wars sprietsels in die lug.
Ons drink tee in die sitkamer, in twee leunstoele voor die groot venster. Hy vertel. Ek luister.

Hy was meestal ­onbewus van die ­etikette op sy rug. Oorbelig, ’n slang in die gras, en die grootste vloek van die tyd: liberalis!

Voor hy sy eie storie begin, vertel hy van Eric Hobsbawm. En ek onthou wat Erika Oosthuizen, sy uitgewer, vertel het: Hermann het altyd ’n staaltjie reg, altyd besig om vars verbande te trek, altyd analities.

Hobsbawm, vertel hy, was ’n bril­jante historikus wat nooit topposte by Oxford en Cambridge kon kry nie. As Joodse kind het Hobsbawm in 1933 kommunistiese partypamflette in posbusse in Berlyn gaan stop. Dit het hom gekenmerk, daarom wou hy ook nooit uit die Kommunistiese Party bedank nie – en daarom het hy nooit ’n toppos by Oxford en Cambridge gekry nie.

Iewers eggo dit in die jong, ewe briljante Hermann se eie loopbaan: gebore in 1938, ingebed in Afrikanernasionalisme in die eeufeesjaar van die Groot Trek, maar altyd anti-establishment, nooit super-Afrikaner genoeg vir daardie dae se Driepartyalliansie (Nasionale Party, NG Kerk, Broederbond) wat die universiteit regeer het nie. 

Weggedryf, want hy was nie een van Ons Mense nie.

Prof. Herman Giliomee. Foto: CONRAD BORNMAN

Maar in jou laat 70’s, sê hy skewerig, word dit bloot ’n voetnota, die angel is weg. 

“Iemand het dit so mooi gestel. Baie keer is dit die verloorders wat die beste geskiedenis skryf, want die wenner is selfgenoegsaam. Dis die verloorders wat die vrae vra.”

Hy gee my ’n handgeskrewe stuk ­papier, oor Hobsbawm: He was able to ask why things turned out the way they did. Movingly he tried to recuperate as a historian what he had lost politically. 

“Ek kan my so vereenselwig daarmee.”

In sy biografie beskryf hy hoe moeilik dit was om afskeid te neem van die US, voordat hy Universiteit van Kaapstad toe is – twee dekades lank tussen die Engelse. 

Hy het in sy kantoor bly huiwer, met ’n brief in die hand om te sê hy sal aanbly as hy bevorder kon word. “Uiteindelik het ek die brief opgeskeur, en toe my naambordjie self afgeskroef en in die vuilgoedmandjie gegooi.”

Dis ’n oomblik stil, vir ’n sluk tee. “Dit was die beste ding wat met my kon gebeur. Ek sou myself doodfrustreer het hier op Stellenbosch in die 1980’s.”

Die wegbreek van jou kudde . . . In 1970 skryf hy en sy vrou vir sy ouers – die geskiedenisonderwyser-pa, ’n regop Broederbonder, die ma met die lewenstaak om armblankes te help – dat hulle voortaan gaan Prog stem. 

Die oopgaan van nuwe idees in nuwe plekke.

“Die debat oor instromingsbeheer het finaal die skille van my oë laat val, om te sien hoe ouens die onverdedigbare bly verdedig.”

Hy sal altyd onthou hoe hy by ’n vrou in die Ciskei gestaan het, haar totale verlatenheid, hopeloosheid. “En dan kom jy terug en jy praat teen die beleid wat so iets toelaat, en hulle sak op jou toe en verguis jou.”

Soos sy mokerhoue weeksmiddae op Vlottenburg se tennisbaan, het hy sy opponente, waarvan daar nie min was nie, met argumente ge-ses-stroop. 
Altyd reg vir die volgende veldslag. 

Oosthuizen vertel hoe vyandig Giliomee ontvang is by die Kaapse Persklub toe The Afrikaners bekendgestel is. Aanvallende vrae het op hom gereën. Toe sy agterna vra of hy darem orraait is, antwoord hy met ’n breë glimlag: Wat ’n heerlike gesprek!

Tydens 1987 se Dakar-konferensie het hy die whities verleë gehad toe hy die ANC’s aanvat oor die verskansing van minderheidsregte. 

Onbevange stroomop. En dit het nie soos sy hare dunner geraak nie, soos Dave Steward van die FW de Klerk-stigting ’n jaar of drie terug beleef het toe die prof hom feitelik gryp oor FW so lamsakkig met die ANC onderhandel het. 

Self was hy meestal onbewus van die etikette op sy rug.

Self was hy meestal onbewus van die etikette op sy rug. “Oorbelig”, “ ’n slang in die gras” aldus prof. Floors van Jaarsveld, sy groot nemesis. En die grootste vloekwoord van daardie tyd: “liberalis!” 

Dokumente wat lank geslote was, het hom insig gegee in hoe die Broederbonders hom gesmeer het, en in sy biografie reken hy een vir een met ­hulle af.

“Ek het meer van myself uitgevind in die navorsing vir die outobiografie as in die res van my lewe. ’n Outobiografie is ’n stryd met jouself, ’n stryd om duidelikheid oor jouself te kry.”

Hy trek asem in. Blaas uit.

“Ek het seker vyande gemaak wat onnodig was. Maar wat ek van myself ontdek het, is . . . ja . . . ek dink ek het stadig ontwikkel tot iemand met objektiwiteit. 

“Ek het al meer ontdek dat ek ’n Afrikaner is, maar nie ’n NP-Broederbonder-Afrikaner nie, en dat ’n mens wel ’n geweldige sinvolle lewe kan lei daarbuite, vry van daardie groeperinge.” 

Om te weet wie jy is. 

“Ek het, soos Hobsbawm, gesê ek gaan nie uit die Afrikaanse gemeenskap kan bedank nie.” 

Voor studente in Yale, Amerika, sy woorde: Apartheid is die maklikste én moeilikste onderwerp om oor te skryf. Maklik om te verdoem oor die bevooroordeling en diskriminasie, en móéilik om te verduidelik hoekom so ’n opreg Christelike gemeenskap so ’n onmens­like beleid kon aanvaar. 

Om trots én skaam Afrikaner te wees.

Die ou “Kaapse liberale”, die verligte Stellenbosch-Afrikaners, het ná 1994 konserwatief geword. 

“Kolonialers, weer, maar van ’n internasionale orde. Die Vrystaters en Transvalers is nou die republikeine, met Solidariteit wat vir my werklik ’n republikeinse organisasie is.”

En knoop dit dan aan sy doktorsproefskrif oor die Kaap tydens die eerste Britse bewind: “Die Wes-Kaapse Afrikaners het eers ingeval by die Britte, toe by die Bataafse bewind, en in 1806 weer by die Engelse. Hulle is genoem the most ideal prefabricated Brit­ish colonialists,” gee hy ’n laggie. “En nou is die Wes-Kapenaars weer die lojaalste burgers van die nuwe orde.

Stellenbosch hoef nooit te geveg het vir Afrikaans nie, haak hy by.

“Maar nou raak dit al moeiliker om daaraan vas te klou, want wat maak jy as die staat op die rand is van ineenstorting en jy wil as topuniversiteit op die wêreldranglyste klim en jy is vir tot 30% afhanklik van staatsgeld?”

Stellenbosch hoef nooit te geveg het vir Afrikaans nie, haak hy by. “Jannie Marais het die geld bewillig en toe het alles daarop gevolg.”

Dan trek hy die leisels vinnig in, halsstarrige ou taalbul, hy het hom voorgeneem om niks vandag oor Stellenbosch te sê nie . . .

Maar hoe nié – hierdie stryd het hom dan hier in sy grys jare so stewig kom vasgryp.

Toe hy, soos altyd, die konsephoofstukke van sy outobiografie vir sy vriend die skrywer J.M. Coetzee aanstuur, kom John se middernagtelike antwoord: jou hoofstuk oor Stellenbosch se taalstryd is nie so goed nie, dis te vol van te veel vergaderings . . .

“Ek was so gretig om dit op rekord te hê dat ek eintlik afgewyk het daarvan om die stórie te skryf.”

Met die skryf van The Afrikaners het sy Amerikaanse redakteur, Janet Hopkins, vir hom die beste advies gegee wat hy nog ooit oor sy skryfwerk gekry het. “Sy het een rooi streep langsaan getrek en geskryf: Vertel jou storie.”

Hy is verstom dat sy outobiografie, waaroor hy tot die laaste hoofstuk getwyfel het, so goed ontvang is. Gewone mense e-pos hom en sê hulle lees daarin hul eie geskiedenis, en dat hulle dit nou beter verstaan. 

“Freud het gesê die belangrikste deel van jou lewe los jy uit jou biografie. Net waarvan jy bewus is, is daar. Daar is soveel waarvan jy nié bewus is nie.”

Soos dat hy eers in 2007 besef het watter onreg apartheid bruin mense aangedoen het. Sy boek oor Stellenbosch se bruin gemeenskap, Nog altyd hier gewees, was die een wat sy kop heel meeste kom omkierie het.

So skryf hy oor Japie, die bruin kind wat by sy ouers in Porterville in die tuin gewerk het.

So skryf hy oor Japie, die bruin kind wat by sy ouers in Porterville in die tuin gewerk het. “Hy was sterk gebou en selfversekerd, saam krieket en ­rugby in die agterplaas of in die straat gespeel.

“Op ’n dag was daar ’n konfrontasie tussen ons twee en ek het hom in die gesig gespoeg. Hy het woedend op my afgestorm en ek het die huis in gevlug.”

Vir jare het hy dit soos ’n skaam geheim in hom rondgedra. En toe vertel sy vriend Athol Fugard vir hom hy was in ’n soortgelyke insident en dat hy nie weet of hy ooit die skaamte daarvan sal oorleef nie. “Dit was die inspirasie vir sy toneelstuk ‘Master Harold’ . . . and the Boys.”

Trots en skaam, en blêddie onbegryplik skaam oor Stellenbosch “so ’n kosbare kleinood van ’n taal kon weggooi . . .”

En daar praat hy weer daaroor, oor dié tweede verraad aan die bruin mense, eers die wegneem van stemreg, nou die wegneem van universiteitsonderrig in Afrikaans.

“Ek het nog nooit ’n universiteit gekry só selftevrede as Stellenbosch nie.” 

As jy aan 80 begin proe, hou jy dit wat jou lewe sin gegee het, styf vas. 

Syne, dink hy, was die “betrokkenheid by ’n klein groep mense wat al sovele kere afgeskryf was, maar elke keer op onverwagte maniere terugkom”.

Meron Benvenisti, oud-onderburgemeester van Jerusalem, wat die politiek gelos het oor ’n mens nie ’n stad kan bestuur asof ’n derde van sy bevolking nie bestaan nie, het vir Giliomee vertel van die ou Joodse sêding: Israel, even if he has sinned, Israel he is.

“Só is ek ’n Afrikaner. Ek hoort net, sonder vraag. Op baie is ek trots én oor baie is ek skaam.”

En dan, asem in, en dis nou laatoggend en skuins agter ons hang Marjorie Wallace se sonneblomme en jy hoor van John Vorster se yskoue sjarme en Van Zyl Slabbert wat hom herinner aan John Kennedy, tragiek en al, en die doodsonde om Verwoerd as mens te sien en wat kon gebeur het as Mandela eerder met PW minus sy beroerte onderhandel het . . . 

“Ek dink nie ek kon in ’n interessanter land gelewe het nie.”

En omdat hy diep en nugter en breed kyk, kan ons ook. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.