29 Maart 23:02
Kaapstad Verander Area

Donderdag

22°C / 17°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Vrydag

18°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 14°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Sondag

20°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Maandag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Menings
Hanlie Retief gesels met Japie Gouws
Die James Bond van Afrikaans
Nuwe wêrelde in Japie Gouws se agt jaar aan die stuur van die ATKV, vir hom én die ATKV. Foto: André Badenhorst, Black Frame Photography

In die ATKV-stoel sit die grys man met die sku haarlyn en die grys bril. Oë formeel, middagson ­amper op hom.

Almiskie. Want dis dié japie wat die ATKV laat rieldans, wat met sy rooi vellies self die stof laat staan soos hy askoek.

Afrikaans se geheime wapen, noem Tim du Plessis vir Japie Gouws. Die man wat oorwinnings vir Afrikaans ­behaal wanneer niemand meer die taal ’n kans gee nie.

Afrikaans se 007.

Elke jaar onder die Paarl se taalpaal open Japie se passies die rieldanskompetisie voor 5 000 mense. En almal spring op en “heitou, Japie!” en “hy’s myne!”, nie net oor sy koel askoek nie, maar oor hý die byna uitgestorwe rieldans verder lewe gegee het saam met Elias Nel – en dis maar net een van die kultuurskatte wat Japie Gouws in sy termyn as ATKV-baas afgestof het.

Hy tree einde Mei uit, en sommige mense sal hom seker onthou as “partykeer ’n bietjie ongeskik”, want as almal so praat-praat om daai ellelange ATKV-raadstafel, dan moet “iemand tog êrens ’n besluit neem”.

“Maar hulle noem my darem ook die rieldanskoning,” voeg hy by. Blý.

Swart Suid-Afrikaners sê nie meer die ATKV is ‘daai klomp Boere’, nie. Ons lyk nie meer so nie, ons is nie meer so nie.

Want dís die dinge wat hy gaan mis, soos om onder tannie Flori Schrikker se geel hoed te probeer inkom vir ’n soentjie.

Dis Japie wat dit laat “gebeur” het: die lansering van Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, die twee kokende 60-plusser-celebs van Bonteheuwel.

Hy het oor RSG gehoor hoe dié tannies vir Amore Bekker resepte gee, en summier besluit: dié twee is ’n kultuurfonds, hulle moet van gewéét word. Nou het hulle ’n TV-program, hul tweede resepteboek het pas verskyn en hul demonstrasies op die Woordfees was uitverkoop.

“Die boekbekendstelling in Bonteheuwel was ’n groot storie. Een van hul gryse groupies is drie kilometer met ’n rolstoel soontoe gestoot, want sy wou dit nie vir die wêreld mis nie.”

In ’n advertensiebreuk het tannie Flori vir Amore gefluister Japie moet haar nou eers ’n soentjie kom gee. Agterna het sy vir almal verkondig hiérdie Japie het baie sagte lippies.

Dis sulke herinneringe wat hy met hom saamvat aftrede toe. “Dis die goed wat jou so aanraak. Baie van ons projekte herstel mense se menswaardigheid. Al wat ons doen, is om die verhoë en platforms te skep.”

Hy noem homself ’n Kamdeboo-bobbejaan. In sy ouerhuis op die plaas buite Aberdeen was daar altyd musiek. Hy was sy lewe deur ’n rekenmeester, ’n sakeman, maar wat daar in die Karoo ontkiem het – sy liefde vir musiek, taal en kultuur – het by die ATKV bymekaar gekom.

In sy termyn kon hy die ATKV neem van wit Afrikaans na Afrikaans. Kleurblind.

“Afrikaans word deur verskriklik baie mense gepraat in die land. Volgens die 2011-sensus is daar 7 miljoen Afrikaanse huistaalpraters. En, bereken ons, dubbel soveel praat Afrikaans as ’n addisionele taal, elke dag by die huis, skool of werk.

“Dit beteken ongeveer 20 miljoen mense praat elke liewe dag Afrikaans, en hulle is so divers soos kan kom: jonk, oud, wit, swart, Indiër. Van die 7 miljoen huistaalpraters is meer as 600 000 swart Suid-Afrikaners, asook ’n klompie Indiërs. Afrikaans is hoe die ware Suid-Afrika lyk. Afrikaans is eintlik ’n lappieskombers.”

Die ATKV se beleid is meer handevat as hofsake. “Dit help nie om net heeltyd te kritiseer en hof toe te gaan nie, dit gaan oor hoe ons kan saamwerk om mekaar beter te verstaan.”

Dit maak hulle allermins draadsitters, as dit moet, néém hulle standpunt in, veral oor die onderwys en spesifiek moedertaalonderrig, sê hy.

Hy staan tru vir die terme “ons” en “hulle”, want “ons is almal maar ons”.

Toe die SAUK destyds die Afrikaanse nuus van SABC2 na SABC3 geskuif het, was daar kwaai oproepe om op te hou TV-lisensies betaal. Anders as SABC2, was SABC3 nie beskikbaar in gebiede soos die Noord-Kaap waar baie Afrikaanse mense bly nie.

Die ATKV het die SAUK-topbestuur gaan spreek, ’n uurafspraak het drie uur geword en drie weke later was die Afrikaanse nuus terug op SABC2.

“Dis hoe ’n mens moet dink en werk.”

Die toepassing van die talewet is nog ’n voorbeeld. In baie staat- en semistaatsdepartemente gaan dit traag om al die amptelike tale volgens die taal­reëls te hanteer.

Vyf dae nadat Japie-hulle die ANC gaan vra het hoekom die minister van kultuur nie die wet toepas nie, was die minister in die nuus met planne om die proses aan die gang te kry.

“Die oomblik as jy iemand hof toe vat, verloor jy klaar, want dit word ’n geveg, en in die meeste gevegte is daar twee verloorders. By die ATKV veg ons nie vir Afrikaans nie, ons bemark Afrikaans.”

En hulle doen dit selfs onder Afrikaanse mense, dié wat so gretig hul kinders in Engelse skole sit “vir ’n beter toekoms”. “Dis oor en oor bewys dat kinders wat in hul moedertaal skoolgaan, beter vaar in wetenskap en wiskunde.”

Dis belangrik dat die hele land ’n positiewe persepsie van Afrikaans het. “Dis al hoe ons Afrikaans kan behou.”

By die Pendorings, die ATKV se reklameprystoekennings, het die kategorie “Eg Suid-Afrikaans” deur die jare uit sy nate begin bars.

Al hoe meer Engelse advertensies is ingeskryf, met ’n paar Afrikaanse woorde om te kan kwalifiseer. Met krimpende begrotings het die agentskappe begin besnoei aan die Afrikaanse weergawes, want daar is mos ’n paar “lekker” Afrikaanse woorde in die Engelse advertensies, vertel Japie.

“Ons verander toe die reëls dat net inheemse tale mag meeding. Dis ’n totale sukses. In die Afrikaanse prestigeafdeling is die wenprys R100 000, en van laas jaar af is daar nou presies so ’n prys, genaamd Umpheta, vir die ­ander inheemse tale.”

Dié soort platform en prys vir ’n inheemse taal kry ’n mens nêrens elders nie, sê hy. “Dit bou vir Afrikaans ’n goedgesindheid onder swart Suid-Afrikaners. Hulle sê nie meer die ATKV is ‘daai klomp Boere’, nie. Ons lyk nie meer so nie, ons is nie meer so nie.”

Hy ervaar dit veral op die platteland. In Januarie, met ’n streekvergadering in Graaff-Reinet, stap hy ’n stampvol saal binne met al die kleure van Suid-Afrika.

“Ons het daar by baie plaaslike bruin skole ATKV-takke. Daar was een wat ons genader het, maar hy wou nie aansluit nie. Dié skoolhoof is genooi na die aandgeleentheid, en toe kom hy sowaar. Ons het nou ’n tak by sy skool.”

Hy pomp met ’n vuis in die lug.

“So, wat ek eintlik wil sê, ons is nie meer outyds en agter die klip nie. Ek sien dit op dorp ná dorp.

“Mense voel soos ek voel, ons is inklusief, en ons leef dit uit op plaaslike vlak, op straat.”

Tussen Pierneef en Van Wouw se oom Paul sit hy in sy kantoor, Breyten se woorde agter hom en ’n filmvers-kunswerk van Gert Vlok Nel se “Timotei sjampoe” anderkant.

Sy aan sy: die 1930-ATKV (gestig deur spoorwegwerkers, vir bietjie Afrikaans tussen die treinspore en seevakansies by Hartenbos) en die millennium-ATKV: korekompetisies, die gesogte Media- en Woordveertjies, klassieke-musiek- en sangkompetisies, 200 skole wat jaarliks inskryf vir tienertoneel vir vandag se kinders oor vandag se ­kwessies.

“As ons al ons projekte bymekaar­tel, betrek ons ’n halfmiljoen mense per jaar. Veral na aan my hart is die ­spelaton vir huistaal- en addisionele taal-kinders.

“Die resep is histories, maar ons het dit die nuwe era ingedra om seker te maak die ATKV bly volhoubaar. Ek is oortuig dat die ATKV in 2030 nog daar gaan wees.”

Dit sê alles van die ATKV van Japie Gouws.

Hy trek nou terug na sy huis langs Mosselbaai se gholfbaan met ’n 280 °- see-uitsig, en beplan om sy 10 000 uur in te sit vir ’n beter voorgee.

Sy skryfbehoeftewinkels op die dorp hou hom besig, hy het een van die grootste filmoteke van ou en nuwe Suid-Afrikaanse flieks (sy oudste is Moedertjie) en daar is al die boeke.

Dis vir hom goud werd: die gete­kende André P. Brinks uit die Kannemeyer-versameling, verskeie weer­gawes van Die klein prinsie, óók die Konsaliks wat hy gretig as hoërskoolkind by Oudsthoorn se dorpsbiblioteek uitgeneem het.

“Ek kort nog net vier, dan het ek al 107 vertaalde Konsaliks!”

Nes jy dink jy ken hom, verras hy. Soos – en dis soos ’n geheim wat hy deel – sneeuski. “Nou kyk, ski in die Franse Alpe, dit maak my verskriklik gelukkig.”

Hy wys sy WhatsApp-profielfoto: rooi baadjie, sneeubril, lyf skuinsgedraai op die ski’s.

Sy lewe deur nog was hy ’n alleen­loper, ’n vrygesel, noem hy homself.

Maar nooit eensaam nie, nee, daar’s altyd mense en klanke en kulture. Kersfees in Abu Dhabi om na Coldplay te gaan luister. Die Royal Albert Hall
vir Phantom se 25ste viering. 100 km dapper stapper in vyf dae deur die ­Visriviercanyon. Die Karoo vir 100% stilte . . .

Die agt jaar by die ATKV het verby gevlieg vir dié man wat soveel onder die radar kon regkry.

Gouws. Japie Gouws. ATKV-agent. Met a license to riel.

Vanaand 20:30 wys ons howe se bulhond, Gerrie Nel, ’n ligter kant van homself in ’n Halfuur met Hanlie (via, DStv kanaal 147) en die operadiva Mimi Coertse kyk Dinsdagaand (19:30) in ’n rare onderhoud terug op haar lewe van verhoë en hoë note (via, DStv 147).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.