24 Junie 07:22
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Menings
Hanlie Retief gesels met Mary Bam
Die vrou wat nie meer bang is nie

Twee en twintig jong vroue en kinders is reeds vanjaar in die Wes-Kaap vermoor. In ’n boek wat pas verskyn het, Women Surviving Lavender Hill, vertel sewe vroue hul lewensverhale. Terwyl die Kaap storm, spoor ek een van hulle op agter laventelpers vibracrete in Lavender Hill. Op die stoof prut ’n pot waatlemoenstukke. Haar kleindogter sit skamerig in ’n blou skoolsweetpak met ’n warmwatersak op haar skoot. Mary Bam vertel haar storie en als is waar.

Voor haar huis in Lavender Hill waar sy besig is om ’n sentrum vir mishandelde vroue te stig.Foto: Lerato Maduna

Op ’n koue wintersoggend, 17 Julie 1956, is Mary Bam gebore op die goewerment se plaas in Constantia. Sy was so klein, hulle kon haar in ’n skoendoos pas.

Dit was so koud, haar pa het elke dag ’n hoender gevang en geslag en dan haar voetjies in ’n handdoek toegedraai en in die hoender gedruk sodat hulle kon warm bly.

“Dankie Jirre vir boererate en my ouers se geloof, want niemand het my nie ’n kans gegee nie. Sestig jaar later is ek waaragtig nog steeds lewendig.”

Soos sy die wêreld ingekom het, só was Mary Bam se lewe.

Twee huwelike, drie selfmoordpogings wat geflop het “jimmel ek kon nie meer uithou nie”, drie verkragtings – “ag ai, hier loop die dêm trane nou weer. Ek was omtrent nege jaar oud, toe verkrag die groenteman my in die voorkamer toe my ma nie daar was nie, en hy dreig hy gaat my familymoor as ek praat, en toe bly ek tjoepstil en huil net en op elf het ek gaan werk om brood op die tafel te sit.”

Toe slaat hy my en druk my kop in die kolestoof, en my hare begin vlam en my siek kind lê in die huis en ek hardloop vir my lewe.

Eendag val die pot brijani op die vloer en dis nou jare later maar eintlik het haar lewe gaan stilstaan op nege en Mary eet die brijani én die glasstukke.

“Honde gaan dood as mense vir hulle kos met glas in gee, maar hulle kon my stabilise daai dag en ’n maand later stap ek regop uit Lentegeur-hospitaal.”

Toe vat Mary weer die pad na haar jêmblik-hokkie agterin ’n jaart in ­Lavender Hill en daar is nie lentegeure nie, nee, net ses kinders, ’n man en amper niks kos nie.

Dan dink sy hoe sy Vrydagmiddae haar ma se kolestoof swart politoer met Esmé Euvrard en Jan Cronjé se mooi fênsie stemme in Hospitaaltyd op die radio en hoe haar lewe toe nog so heel en glad was soos ’n nuwe blik Nugget voor jy die blink papiertjie ­aftrek.

“Op ’n dag lê my oudste seun koorsig en ek moet by Red Cross uitkom en daar is nie taxigeld nie. Broeder (haar man) het gaan dagga rook saam met Willie Donkie in Crossroads se bos, en toe hy terugkom was hy dikgerook. En ek sê Broeder, wanneer gaan jy werk soek, en toe slaat hy vir my so lekker en druk my kop in die kolestoof, en my hare begin vlam en my siek kind lê in die huis en ek moet hardloop vir my ­lewe.

“ ’n Antie het buite gestaan en klere was in een van daai blink baddens en haar vuil wasgoedwater het my lewe gered, want ek druk toe my hele kop daarin om die hare te blus, en toe kom slaat hy my daar verder terwyl sy vriende staan en kyk. Maar ek het onder sy kloue uitgekom, ek kón suster.”

“Ons was elf kinders, en Poepa en Moema het ons respekte geleer.”

Mary het grootgeword in ’n gelukkige, Christelike gesin in Beethovenweg, Retreat. As sy oor haar kleinjare praat, glimlag sy soet.

“My ma se huis was die koelteboom van die gemeenskap. Die ketel het altyd op die stoof geprut en as daar ’n klop aan die deur is, staan die rooitee reg.

“Almal het altyd kom kuier en ­somtyds was onse beddens te min en dan maak my ma van die dubbelbed ’n superbed en ons slaap dwars om in te pas.

“Ons ouers het ons elf kinders respekte geleer en nog baie meer. En Moema se oop hand het my encourage om vandag ander mense te help. Dis my passie en ek leef dit truly.”

Partykeer het hulle in Poepa se bakkie vir familie in Elgin en Mamre gaan kuier met klere en kos en skoene vir die plaasmense en dan bid Poepa voor hulle ry, en Moema bid dankie as hulle daar aankom en later kom hulle terug met appels en waatlemoene.

“En Moema maak appeltert en toffieappels en poerings en konfyte vir ’n geldjie.”

Een keer ’n jaar het haar ma die kinders buitentoe geroep, na die vyeboom. “Sien julle iets aan die boom? Nee, Moema, niks. Môreoggend gaan daar klein vytjies wees, sê sy. Die volgende oggend hardloop ons boom toe en Moema was reg, daar is klein vytjies.”

Mary se uncle Awie het diep in die bottel gekyk. “Oom Tas-kanne met die prentjie van ’n druif en ’n man met ’n groot hoed op. Voor uncle Awie begin drink, roep hy ons en sê: Kyk, oom Tas glimlag. Dan kyk ons en speculate, maar sien g’n glimlag nie. Dan begin hy drink, glug-glug-glug en hy sê: nou lag oom Tas. In no time dan’s die bottel leeg en hy sê kyk, oom Tas huil. En ons kyk en kyk maar daar’s niks trane nie. Moenie worrie nie, sê uncle dan, hy gaan koop nog ene, dan lag oom Tas weer. Hy het hom oor die jare doodgedrink.”

Maar die lewe bly kosbaar en die onthoue knyp nie meer so baie nie. ­Behalwe party.

Haar man, Broeder, het vir Mary die son en maan en die sterre belowe. “Nogal ’n pastoor, maaind jou. Maar pleks van roses gee hy my bruises en toe moes ek maar die sterre self gaan vang en terwyl die bybies pap is gaan jol hy op ander plekke.”

Die ou storie van die man is kafee toe om ’n brood te gaan koop en toe bly hy vir altyd weg, het met einste ­Mary Bam gebeur.

“Eendag stuur ek hom om ’n globe te gaan koop, toe bly hy ses maande lank weg én ons sit in die donker in daai sinkplek.”

Sy is deur baie, Mary Bam.

Maar die lewe bly kosbaar en die onthoue knyp nie meer so baie nie. ­Behalwe party.

Soos die dag met die kettingsaag.

Dis oor sy weer nie haar bek kon hou nie, onthou Mary. Sy’t vir Broeder getjirp: jy koop dagga maar jy koop nie brood nie. Toe skree hy ‘ek gaan jou f*kken kop afsaag’ en jaag haar met ’n brullende kettingsaag en sy hol tot binne die hokkie daar in die agterplaas in Sherwood Park in Manenberg.

Mary was 27 jaar en tien maande met hom getroud. “Ek het hom sewe kanse gegee en gesê die agtste keer los ek jou. Toe jol hy met twee susters en ’n niggie van Malmesbury en hy dink ek maak weer jokes, toe los ek hom.”

Broeder het nie by die skeihof opgedaag nie. Die magistraat skuif toe die hofdatum en sê Mary moet huis toe gaan en werk aan haar huwelik.

“En ek begin huil en sê mevrou – ek het nie geweet mens moet sê magistraat nie – dan gaan ek nou Rattex koop en ek gaan Broeder nooi vir lunch en môre bring ek die lyk vir mevrou.

“Sy verdaag toe die hof, en toe hulle weer begin was my naam eerste op die lys en sy roep vir Broeder maar Broeder was steeds nowhere to be found en sy sê: Mevrou Bam, jy is geskei.

“Dit was asof ’n trollievrag van my skouers gerol het. Ek het op en af gespring van blydskap en stasie toe gehardloop. Meimaand is ek sestien jaar geskei, en ek sê dankie Here.”

Haar lewe deur het sy nooit gepraat oor haar swaarkry nie, nié oor die ander twee verkragtings nie, nié oor haar dun weke in die depressiekliniek nie.

Net maar ’n Grandpa gaan drink en weer aangekap.

“Ek was naderhand verslaaf aan Grandpa en toe raak my keel- en maagwande amper opgevreet. Die dokter by Groote Schuur het my Miesies Grandpa genoem. Ja, dokter ja, ek doen die werk van ’n oupa, want die eintlike grandpa Broeder doen nie sy job nie, en toe maak hy ná 27 jaar en tien maande se getroude lewe ’n bybie by ’n vrou in Malmesbury en nou kry ek baie hoofpyne.”

Dit was die heel eerste keer in haar lewe dat sy oor haar mense uitgepraat het. “En die dokter gaan roep al die ander dokters en hulle staan om my bed en luister na my storie en ek voel ek word al ligter en ligter.”

Dit was asof alles reggekom het vir Mary Bam in daardie hospitaalbed. Dit was boonop haar verjaardag, 17 Julie 2011. “Mense het vir my blomme aangedra, daar was twee verjaardagkoeke, die bed was te klein vir alles. My gemoed ook.

“Nou is ek mevrou Bam and I don’t care a dêm en ek laaik van jêm kook ­hie-hie-hie daar’s hoeka drie waatlemoene op my stoof vir konfyt. Wil jy hê? My ses babas is groot en getroud en dankie Jesus daarvoor en nou help ek vroue om onafhanklik te raak en hul eie ding te doen. Hulle moet uitpraat, dis nie maklik nie, dit het my amper sestig jaar gevat. Nou is ek vir niks meer bang nie.”

Ons stap uit na ’n aangeboude vertrek en trots trek Mary die lilapers kantgordyn oop op die klein vasberade begin van ’n sentrum vir mishandelde mense.

Hier is die toilet, wys sy, lekker apart. Hier is die badkamer, en twintig mense sal hier kan slaap, die sinkdak het baie gate, skies vir al die reënwater op die mat, maar dis ’n begin, my suster, en dis vir die Miesies Grandpas daarbuite, ons ladies in lavender.

Kannie is lankal dood van kruiwa stoot, haal sy haar Poepa aan en vroetel ’n goue kettinkie onder haar kraag uit. Haar wysvinger druk op goue sierletters.

Hope.

Broeder kon sy sterre en maan en son maar . . . gehou het.

Mary Bam het haar eie.

“Ja my skapie, hie-hie-hie, soos die daglig daarbuite – hope hoop.”

* Kontak Kim Pillay by die New World Foundation vir ’n eksemplaar van ­Women Surviving Lavender Hill(R50): 021 701 1150 / kimpillay@newworldfoundation.org.za.

* ’n Heruitsending van ’n laaste onderhoud met PG du Plessis word Sondagaand om 20:30 uitgesaai in ’n Halfuur met Hanlie op Via (DStv-kanaal 147).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.