Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Hanlie Retief gesels met Ramey Short
Kinderhuis vir altyd in sy gene
In dié kamer in die Durbanville-kinderhuis het die akteur Ramey Short grootgeword. Hy was een of twee toe hy by die kinderhuis afgelaai is. Foto: Conrad Bornman

‘Kersfees laat my koud. Die jingle bells, die ge-ho-ho-ho, ag die hele ou spul Krismisblink laat my nie uitsien nie, laat my nie eensaam voel nie, maak my ook nie hartseer nie. Dit maak my níks.”

Hy trek sy skouers op. Net ’n bietjie.

Traak-my-nie oë op die prentjie deur die kinderhuisvenster, die oorbekende blik op sy verlede.

Ons is in Huis Sewe van die Durbanville-kinderhuis. Op met die trappe, regs en dan links, twee beddens, syne was regs.

Dit is waar Ramey Short – bekend vir sy rolle in Binnelanders en Getroud met rugby – driekwart van sy kinderhuis-tyd deurgebring het.

Langbeen sit Ramey oorkant sy grootwordbed en die herinneringe lê hoofstukke in hom.

Hier het hy nagte omgehuil en vir die Here een vraag oor en oor gevra: Hoekom het my ma en my pa my weggegooi? Ek hoort nêrens. Ek is wees.

Maar my eintlike droom vir myself is om eendag, as ek ’n kind kan hê, ’n goeie pa te wees. ’n Regtige goeie pa.

“My Kersfeeste – soos seker vir elkeen van die 5,2 miljoen weeskinders in ons land – was nie juis vol presente nie. Vir ons is dit net nog ’n dag wat jy moet verbykry.”

Dis stil om ons. Van die 144 Durbanville-kinderhuiskinders het vanjaar net 53 vir die vakansie agtergebly.

Onder in die gang sit ’n meisie, bene opgetrek in ’n leunstoel. Sy tik op haar selfoon, die blouerige selfoonlig skyn op haar gesig.

Ramey wys vir my deur die venster waar hulle altyd rugby in ’n hoek van die agterplaas gespeel het.

Tackle-rugby en krieket. En op die stuk sement hier voor het die cool ­skateboarders hul toertjies bo-oor ’n swart asdrom gedoen.

“So, dis nou maar my memories, hierso.”

Ramey se alleenpad het begin die dag voor sy eerste verjaardag, toe die maatskaplike werker hom hier kom aflaai het.

“Ek was een of twee, ek is nie seker nie, ek weet net dit was die dag voor my verjaardag.”

Dit is seker hoekom hy ook nie juis verjaardae vier nie. Hy mis hulle soos ’n stopstraat. Hy sit selfs sy selfoon op sy verjaardag af, en luister eers laataand na sy boodskappe.

“Ek het dit eers op hoërskool begin glo, maar my ma was ’n alkoholis. Hulle het my van haar af weggevat. My pa was ’n brandweerman. Hy het toe al weggeloop.”

Ramey het altyd bly hoop sy ma kom hom haal.

Terwyl hy nog in die kinderhuis se “babahuis” was, het sy pa een keer daar opgedaag. Vlugtig.

“En toe, ek was tussen tien en 12, roep die sielkundiges my eendag en sê my biologiese pa het breinkanker, ek moet hom gaan groet.

“In die hospitaal gaan staan ek langs hierdie vreemde omie se bed en hy’s my pa. Hallo.”

In sy matriekjaar het sy pa weer daar opgedaag met ’n “hei, ek is jou pa!” Toe Ramey hoor hy bly minder as 20 km van die kinderhuis af, wou hy hom met die vuis bydam. Dit was die laaste sien van sy pa.

Ramey se halfsussie, Charlene Boshoff, was ’n ruk saam met hom in die kinderhuis.

“Ons was erg oor mekaar. Maar toe kom haal haar pa haar. Sy het belowe om briewe te skryf.”

Toe Ramey op sewe leer skryf, het hy vir haar begin briewe stuur. “Ek het jare lank, en ek praat van ál die jare, vir haar geskryf, maar nooit ooit ’n brief teruggekry nie.”

Charlene het Ramey op Binnelanders herken, en kontak gemaak. “En daar by haar kry ek toe al my briewe, onoopgemaak. Haar pa het die briewe vir haar weggesteek.”

Ramey was die eerste kinderhuiskind wat hoofseun geword het van die Laerskool Durbanville.

“Daar is altyd gespot met die kinderhuiskinders. As iets wegraak, is die kinderhuiskinders verdink. Ons was die ‘slegte’ kinders.”

Met sy sterk persoonlikheid was hy naderhand die gatkant-teen-die-juk-vegtertjie vir die kinderhuiskinders.

“Al hoe jy beter as die dorpskinders kon wees, was om hulle in sport te klop. Dan het hulle niks te sê gehad nie.”

Toe kry Ramey WP-kleure in atletiek, en hy haal die eerste span in rugby, tennis en krieket. “Ek was elke jaar die skool se victor ludorum.

“Net die sterkstes kom bo uit in ’n kinderhuis. Die kinders kom uit die slegste van slegte omstandighede. Dwelms, moorde, verkragting, ouers wat mekaar doodmaak.”

Op laerskool het hy party vakansies vir sy ma gaan kuier, waar ook al sy haarself bevind het.

“Sy was ’n fotograaf wat die land vol gereis het. Eenkeer het ek verlore geraak op die lughawe . . .

Een vakansie het sy in die middel van die nag met ’n groot mes op Ramey se bed kom sit.

“Sy wou haar lewe neem, want sy wou nie verder so aangaan nie. Ek het probeer keer, moenie, ek is lief vir mamma. Dit was rof, ja. Ek was tien.”

Hy het dit nou al genoeg gehoor dat mense vir hom sê sy kinderjare moes moeilik gewees het. “Dis wat ek geken het. Dit was my werklikheid.”

Waar jy nou sit, was my bed, wys hy. “Ek het daai muur volgeplak met plakkate van Mark Wahlberg. Vandat ek tien was, wou ek soos hy wees.

“Ek het letterlik daar gesit,” wys hy, amper weer opgewonde, na die voeten­ent. “Besig om ’n Huisgenoot deur te blaai. Toe kom ek af op ’n foto van Mark, toe hy nog Marky Mark was. Hy het ook in moeilike omstandighede grootgeword.”

Hy gaan wys teen die deurkosyn waar hy merke gemaak het om sy groei te meet. Sy vingers gly oor die oppervlak. “As mens hierdie vernis afkrap, sal die merke nog daar wees. Ek het presies geweet hoe lank is die Hollywood-akteurs, en myself met hulle vergelyk.

“Mark Wahlberg is presies my lengte, 5 voet 8, 75 kg, hy is ook links. So ons is baie dieselfde.”

Wahlberg is die rede hoekom Ramey ’n akteur is. “Ek het op Instagram vir hom ’n foto van my en hom gestuur waar ons baie dieselfde lyk.”

U the reason I am who i am today . . . u gave me the courage to be a better person & since the age of 10 i told people I’m gonna be an actor.

Maar die Durbanville-kinderhuis was nie Hollywood nie.

Daar’s tye wat hy op hierdie bed gelê het, en dan voel dit hy kyk net teen die plafon vas.

“Ek kon nie verstaan hoekom ek nie soos kinders in ’n normale huis grootword nie. Hoekom het die Here my gekies om dit oor te kom?”

In sy puberteit het Ramey begin glo die Here het hom daar gelos sodat hy vir ander kinderhuiskinders kan hoop gee.

Hy het naweke en vakansies by ’n skoolmaat se ouers, Cilliers en Lana Louw, op ’n plaas buite Durbanville gaan kuier.

“ ’n Ruk terug het tannie Lana vertel dat sy kon sien hoe groot my behoefte was aan ’n regte familie, want jy kan dit nie namaak in ’n kinderhuis nie.

“Ek wou so graag hê hulle moet my ouers wees dat ek hul eie kinders van hulle probeer wegstoot het. Dis verstaanbaar, maar dis nie maklik nie. Ek kan baie hardkoppig raak. Hard.”

Hulle wou hom aanneem, maar hy het geweier.

“Ek was te lojaal aan my ma.”

Hy vertel hoe sy en haar kêrel platsak by die kinderhuis opgedaag het, en dan gee hy vir hulle al die sakgeld wat hy in die kwartaal gespaar het.

“Ek het toe al besef die lewe is nie altyd swart en wit nie. Natuurlik was ek lief vir haar. Enige kind is vir sy ma lief. Sy’s nou al dood. Ek onthou sy’t die mooiste, sagste vel gehad.”

Dit was sy eie nabootsfoto’s van Wahlberg in Calvin Klein-onderklere-advertensies wat Ramey in Amerika laat beland het.

“Terwyl ek drama op Maties gestudeer het, het ’n talentsoeker van Warner Brothers my gekontak. Hy’t die foto’s op die internet gesien. En toe, ná my dramagraad, het ek verniet in Hollywood toneellesse by Morgan Sheppard en Vincent Chase gaan neem. Dit was ongelooflik.”

Ramey het daarna teruggekom om ervaring hier op te doen. Hy het rolle gekry in 7de Laan, Binnelanders en Egoli en kies toe Binnelanders waar hy sewe jaar die rebelse dr. Quinton Meyer gespeel het.

Hy is in 2014 daar weg nadat hy en ’n mede-aktrise gebots het. “Ek is vandag spyt daaroor, ek dink ek sou dit nou anders hanteer. Die probleem met my, en ek dink dis deels oor ek hier grootgeword het, is dat ek woedend word as ek dink iets is nie regverdig nie. Ek raak weer die bakleier, en ek weet dis nie altyd die regte ding om te doen nie, al is ek selfs reg, maar dis asof die kinderhuiskind weer opstaan teen die dorpskind. En dan verloor ek perspektief.”

Ramey het Kaap toe getrek. Hy’s deeltyds in Getroud met rugby, en op 9 Januarie speel hy in ’n nuwe kykNET-reeks, Tot tyd en wyl.

Hy het ’n meisie, Loricia Bruwer, hy’s beskermheer van die kinderhuis en soggens oefen hy die 400 m op die atletiekbaan. Gim amper elke dag. Lewe. Droom van ’n groot rol . . .

“Maar my eintlike droom vir myself is om eendag, as ek ’n kind kan hê, ’n goeie pa te wees. ’n Regtige goeie pa.”

Hy kyk buitentoe. Sy onpaar oë, een groen, een bruin, is onpeilbaar.

“En die Kerspresent wat ek eendag vir my kind sal gee? Tyd. Dis iets waarna ek gesmag het: tyd saam met my ouers.”

Meer oor:  Hanlie Retief  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.