24 Junie 07:23
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Menings
Helen, hoe wil jy onthou word?
Max du Preez

Beste Helen,

Ek weet jy is ’n vegter, anders sou jy nie soveel bereik het as joernalis, aktivis of politieke leier van formaat nie.

Maar soms is ’n ware vegter se beste opsie om terug te staan, want selfs al wen jy tegnies die geveg, is jy self die grootste verloorder.

Die prys van so ’n oorwinning is net te groot, ook vir jouself. Jou ego sal dit dalk oorleef, maar jou nalatenskap en die projek waaraan jy soveel tyd en energie bestee het, gaan erg ondermyn word.

Ek ken jou al baie jare lank. Dit het my geïrriteer dat soveel van jou politieke teenstanders en ander op veral sosiale media jou as ’n rassis of ’n dissipel van wit opperheerskappy bestempel het. Niks wat ek van jou weet, staaf dit nie. Inteendeel.

Ek kan my indink hoe kwaad en seer dié aanklagte jou sekerlik gemaak het.

Jy het my innige simpatie. Jy het dit nie ná so ’n roemryke loopbaan en soveel opoffering verdien nie.

Maar jou twiets oor die nalatenskap van kolonialisme ’n paar maande gelede was ’n groot fout en kon in die huidige politieke klimaat nie anders nie as om ’n hewige politieke storm te ontketen.

Dis nou nie meer tersaaklik om die meriete van jou veelbewoë twiets oor kolonialisme te bespreek nie.

Net dit: Selfs iemand met ’n baie beperkte intelligensie weet dat van die tegnologie en infrastruktuur wat kolonialisme gebring het ons nou goed te staan kom.

Dat jy dié vanselfsprekende punt op Twitter wou maak, dui dus op iets anders.

Pleks van ná die reaksie op die eerste twiet gou te sê dit was ’n oordeelsfout en jy is jammer, het jy jou sie-
ning die laaste paar maande tot vervelens toe verdedig en verduidelik, jou kritici aggressief aangeval en selfs die baadjie van wit slagoffer begin aantrek.

Hoe het dit gebeur dat jy ná soveel jare in die aktiewe politiek so ’n erge blinde kol ontwikkel het? Dat jy nie kon voorsien dat die meerderheid Suid-Afrikaners sou aanstoot neem nie? Het politieke mag dit aan jou gedoen?

Sedertdien is jy besig om jou eie trots te verdedig en jou party verder te verdeel. Net gisteraand sit en lees ek hoe van jou wit aanhangers op sosiale media sê: Helen is reg, ons is gatvol daarvoor om jammer te sê dat ons wit is en dat ons koloniale voorvaders beskawing hierheen gebring het.

Hoe het dit gebeur dat jy ná soveel jare in die aktiewe politiek so ’n erge blinde kol ontwikkel het?

Ons is in die middel van ’n grondverskuiwing in die Suid-Afrikaanse politiek. Nog nooit sedert 1994 was daar so ’n kans vir die opposisie om in die vakuum wat die ANC se skandes en binnegevegte veroorsaak in te stap en veld te wen nie.

Jy het omtrent eiehandig seker gemaak dat die party wat jy help bou het nie daardie rol ten volle kan speel nie.

Mmusi Maimane moes die party met oorgawe en energie in dié proses gelei het, maar nou word hy afgemaak as ’n swakkeling wat onder die wit miesies se duim staan.

Onregverdig dalk, maar in die daaglikse politiek is persepsie baie keer die werklikheid.

Hoe wil jy onthou word, Helen? As die onbeweeglike politikus wat haar ego met regsfoefies wou beskerm en só haar party in die voet geskiet het, of as die leier wat groot genoeg was om strategies terug te staan om die soort politiek waarvoor sy so hard baklei het te laat gedy?

Dit is nie net in jou eie en die DA se belang dat jy nou terugstaan nie, dit is in Suid-Afrika s’n.

Groete, Max

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.