27 Julie 00:33
Kaapstad Verander Area

Donderdag

17°C / 8°C

Wind 15km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 55%

Vrydag

20°C / 13°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Saterdag

18°C / 13°C

Wind 23km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 64%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

21°C / 13°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Dinsdag

16°C / 14°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Menings
Is daar vergifnis vir die Queen?

Opregte medelye met jou boesemvyand van weleer kan jou psige uitmekaarskeur, het Danie Marais uitgevind nadat hy ’n TV-reeks oor die Britse koningin begin kyk het.

Illustrasie: Hanlie Malan

Ek sien myself as ’n empatiese ou – soms met ’n tikkie spyt, want medelye met moeilike mense kan jou duur te staan kom.

Marilynne Robinson som dit mooi op in haar Pulitzer-bekroonde roman, Gilead, wanneer sy haar hoofkarakter, die ou dominee John Ames, laat mymer: “It is one of the best traits of good people that they love where they pity. And this is truer of women than of men. So they get themselves drawn into situations that are harmful to them. I have seen this happen many, many times. I have always had trouble finding a way to caution against it. Since it is, in a word, Christlike.”

Maar nou het ’n hoogaangeskrewe televisiereeks my laat besef my vermoë tot meegevoel is meer beperk as wat ek gedink het. Om lief te kry waar jy jammer kry, is relatief maklik. Maar mense wat jy nie jammer kry of kan bekostig om jammer te kry nie, is ’n ander saak. Dit het The Crown, die Netflix-reeks, vir my duidelik gemaak.

Alles wat vrot en onregverdig is

Ek het aanvanklik glad nie in ’n reeks oor koningin Elizabeth II belang gestel nie, maar toe dit twee Golden Globes wen – een vir die beste dramareeks en een vir die beste aktrise aan Claire Foy – het ek begin kyk.

Ná drie episodes moes ek toegee dié reeks is wel bitter goed gemaak. Foy is skitterend as Elizabeth en John Lithgow se vertolking van Churchill is verstommend.

Maar ná drie episodes wou ek ook nie verder kyk nie. As ek my lyf sosialisties krities wil hou, kan ek sê dis oor The Crown soos ’n weergawe van Downton Abbey is waarin jy slegs die mense upstairs sien. Maar dit sou ’n halwe waarheid wees. Die eintlike probleem is dat ek nie lus was om te sien hoe die sjarmante Foy my insig in die stomme Elizabeth se menslikheid gee nie. Met elke episode het die Sex Pistols in my kop uitgesteek; het ek vir Johnny Rotten met sy skeermesstem iewers uit my rebelse jeug hoor gil: “God save the Queen! She’s not a human being.”

Blykbaar wil ek nie die koningin regtig as ’n feilbare mens leer ken nie.

Blykbaar wil ek nie die koningin regtig as ’n feilbare mens leer ken wat in Buckingham se dilemmas in gebore is nes ek in die onmoontlike Suid-Afrika in my bevoorregte wit vel in gebore is nie.

Die Queen is duidelik vir my ’n groter simbool van alles wat vrot en onregverdig in die wêreld is as wat ek ooit besef het. En aan daardie simbool klou iets in my – seker maar die stories oor die Anglo-Boereoorlog waarmee ek soos byna alle wit Afrikaanse kinders van my generasie grootgeword het. Dít en ’n groot gly in die hele feodale konsep van ’n adelstand.

By voorbaat vergewe

Terwyl ek nog hieroor wonder, begin ek Nathan Trantraal se nuwe digbundel, Alles het niet kom wôd, lees – nuuskierig om te sien wat 2015 se Ingrid Jonkerprys-wenner in sy tweede bundel te sê het. En daar loop ek my in hierdie gedig vas:

Fiction en estrangement

Na apartheid was daa

gesê, as ôs wil bewys

dat ôs rêrag Christene is

moet ôs vegiewe

En ôs, omdat ôs rêrag

Christene wil gewieset

het ôs vegiewe

Hulle het vi ôs gesê

Jesus issie Vriedemaker

En as jy lief vi Jesus is

sal jy jou weapons neesit

En ôs, omdat ôs lief vi Jesus

was, het ôs ôs klippe neegesit

Ammel het hystoe gegan

Hulle na hulle hyse langsie sea

ôs na ôs shacks

langs poeletjies stagnant wate

waa die gif in vegifnis

ôs ammel

siek gemaak et

Met die laaste reël word ek koud en my hart kom in opstand, want ek wil vergifnis en versoening hê, asseblief. Selfs al kom ek dan nie in aanmerking nie, spreek tog my kinders vry. Ek voel klaar vasgekeer en omsingel in my wit vel, maar ek verstaan ten minste die woede en waar dit vandaan kom. Hoe moet die kinders dit verstaan? Ons het ’n agtjarige en ’n negejarige in die huis.

Skryf oor die woede, Nathan, wou ek sê, maar hoekom moet jy nou van die gif in vergifnis praat? Vergifnis is tog wat ons almal nodig het om uiteindelik vorentoe te begin kyk.

En toe begin ek bekommer, want by die Woordfees moet ek met Nathan ’n onderhoud voer oor sy nuwe bundel, maar hoe moet ek hieroor vra sonder om soos ’n kleinserige wit ou of ’n moralis te klink?

Maar hoe kan ons nie hieroor gesels nie? ’n Nuwe revolusie is te naby om nie eerlik te praat met ’n digter wat eerlik skryf nie.

Nathan Trantraal Foto: Bertram Malgas

So, een Saterdag op die Woordfees vra ek toe vir Nathan: Hoe wil jy hê moet mense op hierdie gedig reageer?

“Die titel,” sê Nathan kalm, “kom uit ’n gesprek met my broer, André, oor die Truth and Reconciliation Commission. Jy weet, dit moes die Truth Commission gewees het. Reconciliation kan nooit ’n mandate wees nie. Jy kan nie vir mense sê hulle móét nou reconcile rondom die conversation nie. As reconciliation in ’n natural way gehappen het; as mense in ’n natural way vergewe het, wie is enige iemand dan om te sê wat reg of verkeerd is? Maar mense moet kans hê om daaroor te dink. Die laaste ding wat ek wil hê, is chaos. Ek wil hê die studente moet weer rustig raak. […] Maar soos ek dié poem verstaan, is dit net die facts. Dis hoe dit gehappen het. En hoe mense react op die poem of hoe ek daaroor voel, is rêrig irrelevant. Ek hoop aan die einde van die dag mense vergewe.”

Diep skaam

Hy’s reg, besef ek. G’n mens kan by voorbaat vergewe of versoen raak nie. Daar is nie ’n ding soos onvrywillige vergifnis of gedwonge versoening nie. Voor jy regtig kan vergewe, moet jy ook eers empatie ervaar. En opregte medelye met jou boesemvyand van weleer, kan jou psige uitmekaarskeur; dit vir jou onmoontlik maak om jou nuwe self met jou eie hatige vroeëre self te versoen. Meegevoel en begrip vir iemand wat jy met oorgawe verag of verstoot het, maak jou so diep skaam dat dit moeilik is om met jou nuwe, sagter self saam te leef. Soos die Israeli-psigoanalis Zvi Rex per geleentheid dit glo gestel het: “Die Duitsers sal die Jode nooit Auschwitz vergewe nie.”

Sodra jou gunsteling-vyandbeeld aan skerwe spat, sit jy met die probleem dat daar niemand meer is om die skuld te gee nie.

Is dit dan nie eintlik vanselfsprekend dat baie bruin en swart mense wat voorheen krepeer het en steeds bitter swaarkry ook nog die meeste wit mense as die ou adelstand van apartheid sien nie? ’n Adelstand wat ooglopend nog in die postkolonie vir die sondes en vergrype van die voorvaders beloon word.

Hy herinner my hoe ek nog vir miljoene van my medeburgers lyk.

Net so kan ’n klomp wit mense blykbaar nie anders as om die meerderheid bruin en swart mense te sien as belastingverbruikers wat niks meer as armoede en ’n sukkelbestaan verdien nie. Dis mense wat aanhou glo armoede is iets waaruit jy jou eenvoudig met harde werk kan bevry. Maar soos Nathan dit in ons gesprek gestel het: “Om uit armoede te ontsnap, moet jy ’n genius wees.”

Wat my dus uiteindelik innig van Nathan se gedig ontstel het, is nie dat ek meen hy werklik teen versoening in skryf nie, maar dat hy my herinner hoe ek nog vir miljoene van my medeburgers lyk.

Stel dit so: As daar ’n reeks oor my lewe gemaak sou word, waarin my middelklasstorie met dieselfde aandag en detail deur uitstekende akteurs vertel word soos die storie van Elizabeth in The Crown, moet ek maar weet ’n groot klomp Suid-Afrikaanse kykers gaan ook nie verby episode drie kan kom nie, indien hulle enigsins tot daar uithou. En nie net oor hulle dink my lewe is vervelig nie.

Die blêssitse Britte

Danie Marais

Ek het vir Nathan in ons praatjie vertel van my ervaring met The Crown, waarvan hy terloops die hele eerste reeks gekyk het. Na aanleiding daarvan vra ek hom toe: Is dit dan nie die probleem met die doodgeloopte versoeningsdiskoers in ons land nie? Dat baie bruin en swart Suid-Afrikaners net so min lus is om medelye met wit mense te hê as ek met die Queen?

Nathan lag droogweg en antwoord vriendelik: “Danie, ek dink jy’t so pas jou vraag gevra en beantwoord.”

Nou voel ek verplig om The Crown verder te kyk om die blêssitse Britse koningshuis tog ’n bietjie beter te probeer verstaan.

* Danie Marais is die bestuurder van PEN Afrikaans, ’n digter, ’n vryskutjoernalis en -omroeper. Sy jongste bundel is Pruimtwak & skaduboksers (Tafelberg).

* Luister hier na die Woordfeesgesprek tussen Nathan Trantraal en Danie Marais.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.