27 April 20:49
Kaapstad Verander Area

Vrydag

22°C / 15°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Saterdag

27°C / 18°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 36%

Sondag

18°C / 17°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 83%

Maandag

19°C / 16°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 80%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Woensdag

21°C / 14°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 46%

Menings
Ivor Price: Harde rock was al wat sy nog gehad het

Op die derde verdieping van ’n woonstelblok in Johannesburg woon ’n vrou wat soggens om halfvier reeds haar sitkamer se vensters oopmaak. Dis ’n roetine wat haar bure eindeloos frustreer, want haar dag begin altyd met harde musiek.

Nie Beethoven en Mozart nie, maar die oorverdowende klanke van Led Zeppelin en Black Sabbath en, op ’n goeie oggend, ook die meer verteerbare klanke van Jimi Hendrix.

As “The Wind Cries Mary” begin speel, weet almal sy het weer ’n nostalgiese, hartseerstreep in haar.

“Will the wind ever remember the names it has blown in the past,” neurie sy en begin die potplante voor haar deur een vir een water gee. Die sukkelplante word op amper intieme wyse vasgehou, soos Hendrix altyd met sy kitaar gedoen het.

As sy die oggend kwaad is vir die eensame pad wat sy sonder kind of kraai moet loop, blaas sy al die kinders in die gebou gelyk wakker met Metallica se “Holier Than Thou”.

Nee, nee, dan beter jy dit nie waag om aan haar voordeur te gaan klop om te vra dat sy die musiek sagter sit terwyl die res van die inwoners nog ’n uur of wat probeer slaap nie.

Dié spring chicken van 73 sal eenvoudig die krane oopdraai en jou saam met jou belydenisboekie wegblaas.

Later die oggend maak sy weer vrede, maar niemand kom voor sesuur in die oggend tussen haar en haar musiek nie.

Dis al wat sy oor het. Haar laaste vriendin is ook lank reeds oorlede. Dis by haar wat sy geleer het om die mooi in die harde rockwêreld te begin waardeer.

Die meeste inwoners van die Kavanagh-gebou is jong beroepslui wat daarvan hou om tot ounag te rinkink en skink.

Die stilte van die vroeë oggendure is egter iets wat hulle as heilig sou wou hanteer; heilig en gewyd soos die laaste kwartier voor die selfoon se alarm op ’n weeksoggend begin skreeu.

Onlangs het die musiek skielik opgehou. Een van die inwoners het agterna gesê dit was asof die stilte hom wakker gemaak het; asof dit op hom geskree het.

Twee dae lank het niemand met mekaar daaroor gepraat nie, maar op dag drie het van die mense op die grondvloer begin rondvra of Kavanagh se oudste inwoner dalk oplaas verhuis het.

Een van die plante op haar stoep het in die son gevrek en die woonstel se vensters is ook nooit weer oopgemaak nie.

Die vrou se liggaam is daardie selfde middag met die trappe afgedra.

Van die bure het vroeër die week haar woonstel skoongemaak en haar goed opgepak.

Hulle het ’n Bob Dylan-album afgestof wat op die vrou se CD-rak gelê het.

“I’ve just reached a place where the willow don’t bend,” het Dylan gesing terwyl hulle deur van die fotoalbums op die koffietafel geblaai het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.