26 Junie 21:05
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

15°C / 12°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Woensdag

15°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 62%

Donderdag

16°C / 9°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

15°C / 12°C

Wind 20km/h

Reënval 9mm

Humiditeit 81%

Saterdag

16°C / 10°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Sondag

16°C / 12°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Menings
Kim gooi gewig rond
Die Noord-Koreaanse diktator Kim Jong-oen saam met van sy generaals. Die foto is deur die Noord-Koreaanse nuusagentskap uitgereik. Foto: Reuters

Na buite lyk dit of die oorlogswolke oor die Koreaanse skiereiland saampak. Gaan Noord-Korea en Amerika mekaar aan die keel gryp? Leopold Scholtz soek na ’n antwoord.

Oderint, dum metuant – vry vertaal: “Laat hulle my maar haat, solank hulle my vrees.”

Dié woorde van die Romeinse keiser Caligula (12-41 n.C.) is sowat ’n eeu later deur die geskiedskrywer Suetonius opgeteken. Caligula het weliswaar nie al sy varkies op hok gehad nie – hy het selfs sy perd tot konsul bevorder – maar hy was buitengewoon wreed, onvoorspelbaar en gevaarlik.

Dié aanhaling sou net so goed uit die mond van die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, kon gekom het. Op televisie lyk hy na ’n goedige diksak wat te veel van die aangename lewe hou, maar dis die man wat al die helfte van sy familie en naaste medewerkers laat vermoor het omdat hy paranoïes meen hulle hou ’n gevaar in vir hom.

Dís die man wat sy landgenote, wat dikwels die slagoffers van hongersnood is, verder soos ’n lemoen uitpers om kernwapens en missiele te ontwikkel. Dís die man wie se regering gereeld die ergste dreigemente maak teenoor Amerika, Suid-Korea, Japan en enige ander land wat as ’n struikelblok beskou word.

Noord-Korea het reeds ’n hele reeks missiele ontwikkel waarmee Suid-Korea, Japan en dele van China en Rusland getref kan word. Daar word tans gewerk aan ’n langafstandmissiel wat Berlyn en Moskou in die weste kan bereik, en die Amerikaanse weskus aan die ander kant.

Kenners meen die diktatuur is nog nie so ver dat hy kernwapens op die missiele kan plaas nie. Maar hy vorder stelselmatig. Die dag dat hy in staat kan wees om Amerikaanse stede soos Los Angeles en San Francisco in ’n rokende puinhoop te verander, is miskien vier of vyf jaar in die toekoms.

Wat is Kim se strategiese doel hiermee? Behalwe vir diegene in sy onmiddellike omgewing, weet niemand werklik nie. Alles wat daaroor geskryf word, is ingeligte raaiwerk.

Niemand by sy volle verstand pleeg graag selfdood nie.

Die probleem is dat niemand weet in welke mate Kim sy eie propaganda glo en watter greep hy nog op die werklikheid het nie. As hy nog – al is dit maar net gedeeltelik – ’n sin vir die werklikheid het, is dit logies om aan te neem hy weet Amerika gaan onmiddellik en oorweldigend terugslaan as hy kernwapens teen enigiemand buite sy grense gebruik.

Hy weet (of behoort te weet) dat dit outomatiese selfdood is. En niemand by sy volle verstand pleeg graag selfdood nie.

As bogenoemde redenasie klop, is die volgende logiese afleiding dat die najaag van ’n langafstand-kernwapenvermoë en oorlogsugtige taal deel is van ’n strategie om die internasionale gemeenskap af te pers. Iemand wat bekend staan as ’n mal diktator aan die roer van sake in Pjongjang kan dalk in staat wees om die wêreld tot allerlei toegewings te dwing, soos mildelike gawes van geld, kos en selfs wapens.

Dit sou Noord-Korea in staat stel om sy gewig rond te gooi op ’n manier waarop hy andersins nie sou kon nie, vermoed ’n mens.

Die volgende vraag is: Kan veral Amerika, Suid-Korea, Japan, Rusland en China die kans waag dat Kim rasioneel nadink? Dat sy strategie min of meer dieselfde as dié van Caligula is – dat hy bowenal gevrees wil word?

Kan veral Amerika leef met die moontlikheid dat die stede aan sy weskus blootgestel word aan die vraag of die mal diktator in Pjongjang by wyse van spreke die oggend met tandpyn wakker geword het? Moet Amerika wag tot die Noord-Koreane die wapens het, of moet hy ’n voorsprongaanval doen om te kéér dat hulle die wapens kry?

In teorie lyk die antwoord eenvoudig. Natuurlik moet hulle toeslaan, eerder vroeër as later.

Die Amerikaners het reeds die ysterware gereed. Hulle wag net op pres. Donald Trump se toestemming.

In Suid-Korea staan vier lugmag­eskaders met vegterbomwerpers gereed. Op die Japanse eiland Okinawa nog twee. Op die Amerikaanse eiland Guam is tientalle swaar bomwerpers in ’n staat van paraatheid.

’n Vliegdekskip vaar langs die Koreaanse kus. En by hul tuisbasis in Missouri staan die Amerikaners se hele mag Stealth-bomwerpers klaar gereed. Met herbunkering in die lug kan hulle die hele pad na Korea vlieg en terug.

Wat dit veral belangrik maak, is dat dié tipe bomwerper ook die berugte swaar “Mother of all bombs” (met ’n plofkrag van 11 ton TNT) kan dra.

Dit is dié bom wat verlede week ongekende verwoesting in Afgani­stan aan ’n tonnelstelsel van die terreurbeweging Isis veroorsaak en 94 vegters laat sneuwel het.

Dié bombardement was tegelyk ’n operasionele toets van die wapen én ’n boodskap aan Noord-Korea: Kyk wat ons aan julle kan doen as julle nie in jul spoor trap nie.

Trump het verskeie opsies. Die verkieslikste is dat China die probleem diplomaties hanteer, maar dis twyfelagtig of Pjongjang hom aan Beijing se druk steur.

Die tweede – uiters problematiese – opsie is om chirurgiese lugaanvalle te doen om Noord-Korea se kernwapenvermoë te vernietig.

Daarin sal China en Japan ten minste geken en Suid-Korea se toestemming verkry moet word. Laasgenoemde sal die spit moet afbyt as Noord-Korea terugslaan.

Die Noorde het ’n gróót arsenaal. Sy weermag het 1,2 miljoen man – op drie na die sterkste ter wêreld – onder die wapen en meer as ’n duisend missiele wat op die Suide kan neerreën. Sy toerusting is weliswaar verouderd.

Amerika en Suid-Korea het wel talle Patriot-missielafweerstelsels, maar dis ’n ope vraag of hulle so ’n tsoenami missiele voldoende kan keer.

Die idee van massale burgerlike ongevalle in die hoofstad, Seoel – net 50 km van die grens – is dalk te veel, selfs vir ’n impulsiewe leier soos Trump.

Tog, die idee dat stede soos Seattle, Portland, Los Angeles, San Francisco en San Diego met die verlies van miljoene Amerikaanse lewens in puin gelê kan word, kan Trump se alternatiewe uitermate beperk.

Hy kan vind dat hy uiteindelik geen ander keuse het as om aan te val nie.

Luidens ’n berig in die Londense Sunday Times het Amerikaanse militêre bronne glo aan hul Britse eweknieë laat weet Amerika het genoeg vuurkrag gereed om die Noord-Koreaanse kernprogram heeltemal te verwoes.

Nietemin, goeie alternatiewe is daar eenvoudig nie. Slegs slegtes en nog minder slegtes.

Dit maak in só ’n geval nie veel saak wie in die Withuis sit nie – Trump, Barack Obama of selfs Hillary Clinton. Die dilemma is presies dieselfde.

Die oggend voor sy inhuldiging, toe Obama Trump in die Withuis ontvang het, het die nuwe man sy voorganger gevra wat na sy mening die grootste bedreiging was waarmee hy te make sou kry. Obama het nie geaarsel nie: Noord-Korea, was sy antwoord.

Obama se voorspelling, so lyk dit, het veel vinniger werklikheid geword as wat hy selfs vermoed het.

Caligula is lewend en gesond, en hy woon in Pjongjang.

Scholtz is ’n joernalis en skrywer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.