25 Mei 20:18
Kaapstad Verander Area

Vrydag

17°C / 14°C

Wind 14km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 74%

Saterdag

16°C / 13°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Sondag

18°C / 12°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Maandag

20°C / 12°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 55%

Dinsdag

20°C / 14°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Woensdag

18°C / 15°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Menings
Leierskap: nuwe bloed kan nuwe insig bring
Johannes Froneman

Twee suksesverhale van die laaste tyd het wyd aandag getrek: dié van Nicol Stassen en sy Protea-uitgewery en -boekwinkels en die (nuwe) Aardklopspan. Stassen en sy span het die afgelope 25 jaar 1 000 boeke uitgegee en gedoen waarvoor ander nie meer kans gesien het nie.

Die Aardklopspan het ’n bankrot boedel oorgeneem en op kort kennisgewing ’n suksesvolle fees aangebied.

In die sake- en die sportwêreld kry ’n mens ook hierdie verskynsel. ’n Nuwe bestuurshoof of afrigter maak ’n sukses van ’n mislukking. Hoe gebeur dit? En is daar ’n les of twee uit te leer? Omstandighede verander so gou dat ’n mens nie alte pedanties oor “lesse” moet praat nie; tog is daar waarhede te put uit die bestudering van leiers wat kom en gaan.

In ons politieke geskiedenis kan vele voorbeelde gevind word. Dink aan eerste minister John Vorster, die leier wat ná H.F. Verwoerd sy party enkele grade links geneem het met ’n meer pragmatiese beleid jeens “gemengde” sport en ons verhouding met Afrika. Woorde soos “uitwaartse beleid” en “détente” is rondgegooi.

Nadat die Inligtingskandaal Vorster se loopbaan gekelder het, het hy homself verbitterd onttrek en was daar glo net een van sy oudministers op sy begrafnis.

Die geskiedenis is besaai van Groot Manne wat dink die wêreld gaan ineenstort as hulle nie meer daar is nie.

Nou was die “linkse” PW Botha aan die stuur en het hy sekere deure oopgemaak vir gekleurde mense. Ook Botha se loopbaan eindig in bitterheid. Hy los die NP en veroordeel FW de Klerk vir die deurvoer van vernuwing wat hyself geïnisieer het. Iemand anders moes dus die knoop finaal kom deurhak.

Dit lyk of ’n mens telkens nuwe ­leiers nodig het met nuwe insigte en nuwe energie. Daar moet ook ruimte wees vir radikale veranderinge, nie net ’n versigtige geskuifel nie – anders word die nodige veranderinge nooit ’n werklikheid nie.

Maar nou weet ons dat leiers meestal te lank in die stoel wil bly. Die geskiedenis is besaai van Groot Manne wat dink die wêreld gaan ineenstort as hulle nie meer daar is nie, terwyl dit dalk juis gaan gebeur omdat hulle steeds aan hul mag vasklou.

Die ideale nuwe leier is nie bang om te doen wat ander voor hulle mee misluk het nie. Soos Nicol Stassen, wat gewys het jy kan Afrikaanse boeke winsgewend uitgee. Soos Alexa Strachen, wat, met die steun van ’n nuwe direksie, die bul by die horings gepak het en van Aardklop ’n sukses gemaak het.

Die voor die hand liggende afleiding uit bogenoemde is dat nuwe omstandighede gewoonlik ’n nuwe soort leier verg. Sommige was dalk suksesvol in en vir hul tyd, maar moet juis vervang word om voortgesette sukses te verseker. Daarom moet voormalige leiers ophou slim wees oor organisasies wat hulle eens op ’n tyd gelei het. Dit laat almal verleë.

Niemand is regtig gepla oor wat ’n Heyneke Meyer oor die huidige Springbokspan te sê het nie. Hy het sy kans gehad. En soos dinge nou gaan, kry hy dalk later ’n tweede kans. Maar vir die oomblik hou hy hom genadiglik uit die gesprek.

Ander voormalige leiers kan dit ook maar onthou en liewer konstruktief besig bly op ander terreine. Die eise en omstandighede het buitendien verander.

Ervare leiers is wel altyd nodig en moet nie noodwendig heeltemal aftree nie. ’n Mens dink hier aan ’n Jimmy Carter. Hy word bestempel as een van die suksesvolste presidente in die VSA se geskiedenis nadat hy nie juis ’n suksesvolle president was nie! Thabo Mbeki volg gelukkig ook hierdie pad. Goed so.

  • Prof. Froneman is verbonde aan die Noordwes-Universiteit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.