29 Maart 23:04
Kaapstad Verander Area

Donderdag

22°C / 17°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Vrydag

18°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 14°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Sondag

20°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Maandag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Menings
Marida Fitzpatrick: Wáár is al die tannies heen?

Die wêreld gaan 'n koue, harde plek sonder tannies wees. En ons moet pasop, want hulle's vinnig besig om uit te sterf, skryf Marida Fitzpatrick

Daar is baie bedreigde spesies waaroor ons besorgd is: Die renoster, die berggorilla, die leerrugskilpad, die ietermagog. Hulle almal se uitsterwing gaan die aarde en die mensdom armer laat.

Maar daar is ’n ander kosbare spesie waaroor ons bekommerd moet wees. Dié spesie verskyn nie op die WWF se lys van kritiek bedreigde spesies nie, niemand loop met vorms in koffiewinkels rond en teister mense om R10 te skenk aan ’n fonds wat die spesie gaan red nie. En as ons ons oë uitvee, gaan daar nie meer ’n enkele een op die aardbol oor wees nie.

Ek praat van tannies, daardie wonderlike, unieke soort mens wat van die wêreld ’n sagter, vriendeliker, beter plek maak. Ek wil soos Pete Seeger sing: “Where have all the tannies gone?”

Eendag gaan die millennials se kleinkinders museums besoek waar hulle na papier-maché-beelde van tannies gaan kyk, kunstenaarsvoorstellings wat gaan wys hoe dié spesie gelyk het wat eens die aarde in die 20ste eeu bewandel het.

Ons almal ken en onthou tannies. Dwarsdeur ons lewe is hulle so ’n konstante krag dat daar by ons geen twyfel is dat hulle maar net altyd daar gaan wees nie. Wel, dis wat almal ook van die koala-vosaap gedink het en sê my, waar is die koala-vosaap nou? Op Wikipedia se lys van uitgewiste diere, dis waar. En dis presies waarheen tannies op pad is as ons nie iets doen om dit te keer nie!

Haar hare sou kort gesny gewees het en sy sou ’n perm en ’n bril gedra het

Die eerste waarskuwingslig het vir my aangegaan met die storie van Margaret van Sweizer-Renecke wat kitsbekendheid verwerf het toe sy ’n intieme selfie per ongeluk na ’n WhatsApp-groepie gestuur het. Margaret is 46 jaar oud. En ek weet in vandag se tyd, waar ons met stamselle en kollageendrankies basies 180 jaar oud gaan word, is 46 eintlik skaars mondig, maar 30 jaar terug sou Margaret ’n tannie gewees het. Haar hare sou kort gesny gewees het en sy sou ’n perm en ’n bril gedra het. Sy sou nie gewax het nie, sy sou nie lang blonde hare gehad het nie, sy sou nie enige vorm van ’n selfie geneem het nie, wat nog te sê die intieme soort, en sy sou namiddae saam met die ander tannies Loving en Rustelose Jare gekyk het.

As 46-jarige vroue nie meer tannies is nie, wie is dan?

Moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Ek sê nie Margaret behoort ’n tannie te wees nie, geensins nie. Ek is verheug dat Margaret so ’n opwindende huwelikslewe het (al foto's wat ek vir my man stuur is van die goed wat hy ná werk by Dischem moet gaan koop). Ek is ook verheug dat die mensdom met soveel humor en deernis op Margaret se selfieblaps gereageer het. Dit sê vir my die wêreld word ondanks Isis, prysuitdelingsaande, Hlaudi Motsoeneng en telebemarkers wel tog ’n beter plek. (Dit sê ook vir my baie, báie meer mense neem en stuur intieme selfies as wat hulle ooit sal erken. Ek vermoed eintlik almal behalwe vir opreggeteelde tannies neem en stuur intieme selfies.)

Maar die hele Margaret-verhaal het my laat besef: As 46-jarige vroue nie meer tannies is nie, wie is dan? Want vroue in hul vyftigs is ook nie meer tannies nie. Vroue in hul veertigs en vyftigs gym, hulle het triceps, hulle hardloop die Two Oceans, hulle het lang hare en kontaklense, hulle kry botoks en vullers, hulle twiet, hulle Instagram, hulle bestel skinny flat whites.

Tannies het nie omgegee as jy hulle tannie noem nie.

Die laaste oorblywende tannies, dink ek, is ons ma’s. Ons ma’s was tannies. Hulle het kort hare met perms gehad, hulle kon sokkies oor seeskulpe stop en hulle het beskuit en skuins­koek gebak. Hulle het nie gegym nie en behalwe vir daai een seningrige tannie op die dorp wat elke jaar die Comrades hol, het hulle waaragtig nie ’n dag in hul lewens gedraf nie.

Onder hul blommetjiesrokke en blackmail-sykouse was hul cholesterol hoog en hul lywe sag. Hulle het Santa Barbara gekyk en Cremora-tert gemaak en mekaar se hare geperm. (Ek onthou nog die reuk van chemiese oorlogvoering wanneer ek ná skool by die huis kom.)

Tannies het nie omgegee as jy hulle tannie noem nie. Van almal het hulle hulself die meeste tannie genoem. “Kom na tannie toe.” “Bring vir tannie jou rapport.” “Laat tannie daai vir jou in ’n Tupperware sit.”

Wanneer hulle die slaghuis, die skool of die bank gebel het, was hulle “mevrou” en wanneer jy te veel teruggepraat het, was hulle “nie jou speelmaat nie”. Maar die res van die tyd was hulle tannies.

En wanneer ek en die ander vroue met ons lang hare, ons triceps en gymklere in die Woolies staan, met ons mandjies vol carb clever meals  en glutenvrye muffins, dan wil ek in my hande ween: Waar, wáár is al die tannies heen?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.