30 Mei 11:13
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

22°C / 12°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Woensdag

18°C / 14°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Donderdag

18°C / 13°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Vrydag

22°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Saterdag

21°C / 16°C

Wind 41km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Sondag

17°C / 14°C

Wind 15km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 65%

Menings
Max du Preez: Haat rasse mekaar meer?

Is Suid-Afrikaners vandag meer rassisties as 10, 20 jaar gelede? Haat swart burgers hul wit eweknieë vandag meer as tevore? Op die oppervlak lyk dit of die antwoord op albei vrae positief is.

Daar is nou byna weekliks ’n nasionale woede-uitbarsting oor ’n uitlating of voorval wat as rassisties ervaar word. Die jongste hiervan is die stellings oor verkragting en swart kultuur deur regter Mabel Jansen. Ek het nog nooit in my volwasse lewe soveel haat teenoor en renons in wit mense in die openbare sfeer ervaar soos nou nie.

Spanning kook oor op die Tukkie-kampus by ’n betoging oor Afrikaans in Februarie. Foto: Theana Breugem

Maar dit maak nie sin nie. 22 jaar nadat politieke apartheid beëindig is, ken wit en swart mekaar sekerlik ’n bietjie beter; het ons meer gewoond geraak aan mekaar. Die meeste van ons staan tog bankvas agter ons Grondwet, en dít maak dit tog baie duidelik dat rassisme taboe is.

Een faktor wat ons in gedagte moet hou, is dat die vlaag van rassisme waarvan ons kennis neem, meestal in die sosiale media geopenbaar word.

Dit is algemeen bekend dat mense makliker hul mees basiese instinkte en emosionele reaksies in die sosiale media lug as wat hulle in ander situasies sou gedoen het. Ek het al tevore die vergelyking met padwoede getref: As ’n roekelose bestuurder hulle van die pad dwing, sal selfs andersins dierbare mense soms goed oor die etnisiteit of geslag van dié bestuurder kwytraak waarvan hulle agterna amper self nie kan glo hulle het dit gesê nie.

Maar dit is ook seker waar dat as jy in die eerste plek nie ’n greintjie rassisme of seksisme in jou gestel gehad het nie, jy waarskynlik ander vervloekings in woede sou gebesig het.

Dalk is dít ’n goeie toets of jy ’n rassis of seksis is: Luister na wat jy uiter wanneer ’n ander padgebruiker jou erg kwaad maak.

As jy nie inherent ietwat van ’n rassis, seksis of etniese chauvinis is nie, sal jy ook nie aanstootlik­hede op Facebook of Twitter kwytraak nie.

Dit is egter ook waar dat goed wat nie as rassisties bedoel is nie, dikwels in die sosiale media as rassisties beskou of ervaar word. Soms kry ’n mens die indruk dat daar ’n denkpolisie is wat deur alles sif om te kyk of iets êrens dalk as rassisties bestempel kan word. In ander gevalle word veral stellings of uitlatings van wit mense waarvan sommige swart mense nie hou nie, soos kritiek op die regering of die EFF, bloot as ’n verdedigingsmeganisme summier vir rassisties uitgekryt.

Dit is dus moontlik dat daar nie soseer ’n toename in rassisme is nie, maar dat ons bloot dink dit is die geval omdat ons meer daarvan hoor.

Dit is ook moontlik dat sommige wit mense die oopheid van ons gemeenskap en die absolute vryheid van spraak sedert 1994 misverstaan en glo hulle het die reg en vryheid om hul vooroordele in die openbaar lug te gee.

Ek het al by verskeie geleenthede van mense gehoor dat die vrot regering en korrupsie sedert 1994, veral in die Zuma-era, hulle rassisties gemaak het.

Dit is maklik om vir sulke mense te sê hulle moet in elk geval rassisties gewees het om só te reageer, maar dit is nie so eenvoudig nie. Gefrustreerde mense wat gemarginaliseer voel, soek iemand om vir die huidige gemors te blameer en kies dan kortpad ras toe.

Maar ons kan nie ontken nie dat die mislukking die afgelope twee dekades om ons gemeenskap minder ongelyk te maak en armoede en werkloosheid te beveg, verstaanbare redes is waarom veral jonger swart mense militanter gaan word.

Het die onverdraagsaamheid jeens wit mense toegeneem? Ons moet oorweeg of swart mense nie dalk deesdae ook dink hulle het groter lisensie om hul frustrasies en verwyte te verwoord as tevore nie; dat haatspraak teenoor wit mense eintlik ’n vorm van selfgelding is; dat swart onsekerheid (insecurity) ook ’n rol speel. Populiste soos Julius Malema en radikale soos van die #RhodesMustFall-aktiviste fokus hul mobiliseringspogings op wit bevoorregting, grondbesit en rassisme, en dit moet sekerlik ook ’n impak hê.

Maar ons kan nie ontken nie dat die mislukking die afgelope twee dekades om ons gemeenskap minder ongelyk te maak en armoede en werkloosheid te beveg, verstaanbare redes is waarom veral jonger swart mense militanter gaan word.

Baie van hulle blameer ook die ANC-regerings sedert 1994, maar vind dit ongemaklik om ander swart landgenote as onbevoeg te beskryf en wys dan eerder die vinger na die mense wat steeds die ekonomie oorheers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.