Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Max du Preez: Hou dié verlore seun dop
Pres. Jacob Zuma omhels Julius Malema. Dit was in 2011 voor die ANC Malema geskors het.Foto: FELIX DLANGAMANDLA

Die EFF het vier jaar lank oorleef en, anders as Cope en die UDM, groei hy steeds. Maar dit lyk asof sy enigste kans om eendag in die regering te wees, ’n alliansie met die ANC gaan wees. Die party is meer ’n liefling van die media as van die gewone kieser.

Dit gesê, die party het ’n energie en, in Julius Malema, ’n leier wat sal verseker dat dit tot minstens 2019 ’n invloedryke rol gaan speel.

Die EFF se steun van 6,3% in die 2014-verkiesing was nogal indrukwekkend, want hy was op stemdag net ’n jaar oud.

Stempatrone in nasionale en munisipale verkiesings is effens verskillend, maar dit is tog betekenisvol dat hy in die twee jaar tussen 2014 en 2016 net 2% bykomende steun kon wys – ondanks groot mediadekking.

Malema het verlede week met die viering van die party se vierde verjaardag gespog dat hy so vinnig groei dat hy die meerderheidsparty kan word.

As die pas waarteen sy steun tussen 2014 en 2016 gegroei het, tussen 2016 en die 2019-verkiesing volgehou word, gaan die EFF maar net oor die 10% van die stemme trek.

Daarenteen wys die DA se groeitrajek sedert 2009 dat hy teen 2019 na aan 30% steun kan trek. Dis net sommetjies – die werklikheid kan baie anders wees.

Peilings toon die meeste EFF-ondersteuners is jonger as 30. Twee derdes van Suid-Afrikaners is jonger as 35 en dit is dus die beste mark vir ’n party se groei.

Peilings toon die meeste EFF-ondersteuners is jonger as 30.

As aanvaar kan word dat die meeste jong, arm en werklose swart mense die EFF se natuurlike teelaarde is, het die party teoreties die potensiaal om sterk te groei. Die realiteit is dat bitter min van die armstes bodder om as kiesers te registreer of as hulle het, te gaan stem. Hul lewens is net te desperaat. (Dit is ook waar van ander ontwikkelende lande.) Die EFF het tot dusver min gedoen om dié groep te mobiliseer en te help registreer.

Hy het wel besluit om sy steun, tot nou gekonsentreer in Limpopo, Noordwes en Gauteng, na KwaZulu-Natal te probeer uitbrei en het laasweek by die Zoeloekoning gaan witvoetjie soek. Die kanse op vordering lyk egter nie goed nie.

Malema en sy kollegas is minder rou as tevore, maar die retoriek en beleidsvoorstelle is steeds kru, en dit wil soms lyk of hulle eerder wraak op wit mense wil neem as wat hulle die ekonomie wil laat groei sodat almal kan baat vind.

Sy stelling laas week dat elke enkele wit Suid-Afrikaner aan wit heerskappy glo, is diep rassisties omdat dit ’n genetiese imperatief vir sekere houdings veronderstel. Sy stereotipering van Indiërs is ook rassisties. Die EFF se voorstel dat alle grond sonder vergoeding afgeneem word, kan net tot ’n katastrofe lei as dit ooit toegepas sou word.

Die party sê hy glo in sosialisme, die mees gediskrediteerde ekonomiese stelsel in die moderne geskiedenis.

Om kieserhoudings te meet is nie ’n presiese wetenskap nie, maar my gevoel is dat die EFF die trefkrag van ekstreme retoriek, raspolitiek en teater oorskat. Sommiges gaan dalk op sosiale media saamskel, maar die gewone kieser is eintlik meer gematig. Mense verkneukel hulle aan die gewelddadige manewales van die EFF in die parlement, maar dit het maar min impak op kiesers se keuses. “Gee ons grond terug” is ’n EFF-eggo wat nou baie gebruik word, maar dit gaan eintlik net oor simboliek. Relatief min mense het die ambisie om die stad vir die harde lewe van ’n landbouer te verlaat.

Malema skel gereeld op Jacob Zuma, maar in werklikheid is daar min verskil tussen die geluide wat die Zuma-faksie en die ANC-jeugliga nou maak en dié van die EFF. Belowe Malema ’n senior regeringspos in 2019 en hy’s dalk terug in die ANC-kamp. Maar tot dan gaan hy baie dreig en blaas.

Meer oor:  Julius Malema  |  Eff  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.