26 Junie 14:20
Kaapstad Verander Area

Maandag

18°C / 10°C

Wind 8km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

15°C / 12°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Woensdag

14°C / 10°C

Wind 12km/h

Reënval 11mm

Humiditeit 61%

Donderdag

16°C / 9°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Vrydag

15°C / 12°C

Wind 16km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 84%

Saterdag

16°C / 10°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Menings
My oupa en die kleur van ons bevryding
Ivor Price

Op die dag van Nelson Mandela se vrylating in 1990 het ons as kinders op die mat voor die TV gesit terwyl die grootmense feesgevier het.

Dit het gevoel soos ’n Oujaarsaand in die township. Oral het mense na harde musiek geluister, en mekaar omhels en gelukgewens.

Van my ma se familielede, onder wie my oupa en ouma, het op dié betrokke middag ná ’n kerkdiens by ons huis in Belhar aangekom – letterlik van kop tot tone in die ANC se kleure geklee. Die kleur van ons bevryding was swart, geel en groen en dit was vir hulle belangrik dat almal dít moes weet.

Die ANC-vlag het ook gewapper voor die Kaapstadse stadsaal, waar Mandela ná 27 jaar ­agter tralies sy eerste toespraak as ’n vry man sou maak.

Vir die duur van sy toespraak is niemand toegelaat om ’n woord te rep nie – selfs nie eens in die oomblikke waar die skare hom luidkeels toegejuig het nie.

“I greet you all in the name of peace, democracy and freedom for all,” het die ou man op die donserige TV-skerm gesê. Hy het nogal soos my oupa gelyk: ’n lang, adellike figuur met ’n grys kop. Ek’t nie net na Mandela gestaar nie, maar ­elke nou en dan ook na my oupa, wat openlik gehuil het.

“Oupa huil, want hy is gelukkig,” het my ma agterna gesê.

Hy het gesê dat die kleur van ons uiteindelike bevryding dalk nie weer swart, geel en groen sou wees nie.

Die stadsaal in Darlingstraat, waar Mandela sy toespraak gelewer het, was kleintyd reeds ­bekend aan my en my sibbe.

Dit is oorkant die Kaapse parade waar ons altyd ure lank met ons ouers verwyl het; ’n mark wat vandag nog als van vars vrugte tot kombuisware bied. Ons sou sommer saam met ons ouers op die trein spring om ’n dag in die stad – veral in die Kompanjiestuine – te gaan geniet.

Toe die TV afgeskakel is, het ek my ouma met vrae begin peper.

“Eendag sal julle saam met wit kinders kan skool toe gaan,” verduidelik my ouma. Dit het nie vir my lekker sin gemaak nie, en ek het ook nie verstaan hoekom my oupa hom so bloedig vir dié stelling vererg het nie.

Al wat ek wou weet, is hoekom wit kinders na hulle eie skole toe moes gaan – en selfs belangriker, hoekom my oupa op daardie dag in 1990 so gekant was teen die idee van gemengde skole.

Baie jare later, kort voor sy skielike sterfte, het my oupa ná dié betrokke aand se televisienuus almal van ons sitgemaak vir ’n ontleding van die dag se nuus. Dit was niks vreemds nie, want ons het al kleintyd geleer dat nuustyd ­heilig is. Maar dié keer was my oupa ontnugter; amper stomgeslaan deur die binnegevegte wat in die ANC begin woed het.

Hy’t ons gewaarsku teen ’n man genaamd ­Jacob Zuma wat die politieke leer begin klim het. En hy’t gesê dat die kleur van ons uiteindelike bevryding dalk nie weer swart, geel en groen sou wees nie.

Ek verstaan dit nou eers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.