Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
’n Nuwe kar vir my 51ste – ’n Hilux-draadkar
Charles Smith

Ek is ’n amateur-fotograaf wat meestal foto’s neem vir my eie behoud. Foto’s dwing jou om langer, meer intens, na ’n onderwerp te kyk.

Dit bring jou nader aan ’n mens, ’n boom, ’n by, ’n oomblik wat gou weg is. Só ontspan jy en vul jy jou kop met gedagtes en beelde wat weer gevoelens losmaak.

’n Deel van fotografie is dat die foto’s wat jy mis net só belangrik is as die oomblikke wat jy wél vasvang. Dit spook by jou, en dit maak jou angstig en is jy skerper ingestel vir nuwe geleenthede. Dit maak jou prent volgende keer beter. Dis die sirkel van kuns, glo ek. Van die lewe seker ook. Boeke, musiek, goeie skilderye is ook brandstof vir jou siel wat jy nodig het om emosioneel te oorleef.

Dit is presies só ’n perfekte foto wat ek Saterdag mis. Op pad na Welkom word ’n trop dorpers duskant Theunissen uit ’n kraal gejaag en stap wiegend veld toe met stof wat onder hul pote uit dwarrel met die son wat agter hulle opkom en die oomblik in goud kleur. Ongelukkig is daar nie ’n kamera op my skoot nie. Dié oomblik sal altyd in my kop ’n kans wees wat ek gemis het.

Op pad terug van ’n krieketwedstryd worstel ek en die twee laaities, Alwyn en Dale, met ons frustrasies. Dié twee aanvangskolwers het ’n dom lopie gewaag en Dale, ’n klein meesterkolwer, is uitgehardloop sonder dat hy ’n bal trotseer het.

Dis krieket. Krieket is nes die lewe met harde lesse. Volgende keer gee hulle hul als, besluit ons. Die frustrasie oor ander dinge byt nog aan my bors. Ek luister The war on drugs se “Thinking of a place”, en dit help. Ek luister later nuus en hoor van ’n seun wat op die Kaapse Vlakte doodgeskiet is.

Sjoe, daai ouers treur oor ’n seun, ’n land.

Dan sien ek die seun langs die pad met sy draadkarre.

Dan sien ek die seun langs die pad met sy draadkarre. Ek het hom al verlede Kersfees gesien met ’n wonderlike dubbeldekker-trok, maar ek kon nie stop nie. En dit het nog altyd by my gespook. Dié keer draai om en ry terug.

Marobong (12) staan by twee pragtige draadkarre, ’n Toyota Hilux en ’n rooi Porsche, wat sy pa, Amon, in die township Masilo maak. Dis meer as draadkarre – dis pragtige kunswerke. Die beeldbouer in die township hou ons in ons luukse karre en bakkies dop en weerspieël dit in sy knap handwerk. Dit vang die drome van laaities vas en laat grootmense in regte bakkies en karre omdraai in hul spore.

Vir ’n oomblik sien ek ons deur Marobong se oë. ’n Laaitie langs die hoofweg met sy draadkarre. Ek neem ’n pragfoto van die seun met sy en sy pa se trots. Ek het as laaitie so een gehad, net ’n Valiant wat my maat Thami gebou het. My frustrasies verdwyn gou soos mis voor die son.

Ek weet wat ek vir my 51ste verjaardag gaan aanskaf. Ek ry gou weer Theunissen toe vir ’n blinknuwe Hilux-draadkar. Een met vet tekkies.

Dis my en my laaitie se droombakkie.

Marobong, by sy en sy pa se trots. Foto: Charles Smith

Meer oor:  Charles Smith  |  Fotografie  |  Draadkar  |  Krieket  |  Krieketwedstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.