Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Dlamini-Zuma - Oninspirerend en onkeerbaar?

Wanneer Nkosazana Dlamini-Zuma ’n toespraak lewer, doen sy dit op ’n robotagtige, outomatiese manier. En sy weier om moeilike kwessies aan te raak, skryf Pieter du Toit.

Nkosazana Dlamini-Zuma was Dinsdag by die GIBS-sakeskool in Johannesburg net so stroef en uitdrukkingloos soos op dié argieffoto van haar. Foto: Reuters

“Ek is nie ’n persoon van verrassings nie,” het Nkosazana Dlamini-Zuma Dinsdag teen die einde van ’n vraag-en-antwoord-sessie by die Gordon Institute of Business Science (GIBS) in Johannesburg gesê.

Dit was haar antwoord op ’n vraag oor watter aspekte van regeringsbeleid oor grond- en kapitaalbesit, monopolieë en die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) gaan verander as sy president van die land word.

Die gehoor van sakelui, markontleders, ekonome, studente en ’n handjievol verslaggewers wat tot in daardie stadium redelik bedeesd was, het stilletjies gelag in ’n poging om enige vorm van hartlikheid of persoonlikheid van die presidentskandidaat te ontlok.

Daar was niks nie.

Sy was uitdrukkingloos en het reguit voor haar uitgestaar met dieselfde uitdrukking op haar gesig as toe sy vir 47 minute gesprekspunte in haar toespraak aangeraak het.

Vier lyfwagte het agter haar gestaan, stroef en uitdrukkingloos, baie soos sy.

“NDZ”, soos haar ondersteuners haar noem, het deur haar toespraak gesteun en gesukkel. Sy het selde opgekyk, daar was geen interaksie met haar gehoor nie en haar terloopse opmerkings is tot ’n paar uitgesoekte kwessies beperk.

Die rol van die privaatsektor en die regering in werkskepping en die verligting van armoede, die belangrikheid van die ontwikkeling van vaardighede, staatsbeheerde ondernemings, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), die blou en groen ekonomieë, infrastruktuur, die makro-ekonomiese omgewing, en vroue en die finansiële sektor is onderwerpe wat aangeraak is.

Niks nuuts uit NDZ se mond

En hoewel sy vlugtig na radikale ekonomiese transformasie verwys het, was baie van wat sy gesê het nie radikaal of nuut nie.

Dlamini-Zuma het groot sakeondernemings, “wat baie geld het”, oor die kole gehaal omdat hulle nie in die land se ekonomie belê nie terwyl die regering sukkel met ’n groeiende begrotingstekort.

Maar sy het geen woord gerep oor beleidsonsekerheid en politieke omwentelings wat beleggers dwing om twee keer te dink nie.

Sy het gesê dat staatsbeheerde ondernemings “behoorlik bestuur moet word” en dat direkteure hul fidusiêre pligte ernstig moet opneem.

Dlamini-Zuma mag heeltemal oninspirerend en onbetrokke wees, maar sy het die institusionele steun van groot dele van die ANC-masjinerie...

Maar sy het niks gesê van die droewige toestand waarin die meeste van hulle is nie of die feit dat hulle net die trog geword het waaruit ’n elite met die regte politieke bande eet nie.

Sy het gesê die regering en staatsdiens moet ’n “passie” vir hul werk hê, dit moet hul “passie” wees om die belange van die mense te dien.

Maar sy het niks gesê van die reuse-skadustaat en die ekostelsel van korrupsie en patronaatskap wat in staatskaping uitgeloop het nie.

En die laaste twee onderwerpe is net aangeraak nadat sy pertinent daaroor gevra is en teen verdere ondervraging beskerm is deur prof. Nicola Kleyn, dekaan van die sakeskool. Sy het City Press se Justin Brown stilgemaak toe hy wou weet of Dlamini-Zuma, soos wat die regering van voorneme is om te doen, R10 miljard sal gee om die Suid-Afrikaanse Lugdiens te red.

Dlamini-Zuma se toespraak is vanuit ’n parallele heelal gelewer; een waarin ’n regering onder nuwe leiers bestaande beleid effens kan buig of aanpas om verbetering te weeg te bring: skerp onderwyskolleges op, stel raadgewende instellings in werking vir die onderskeie ekonomiese sektore en laat SEB ratte verwissel na entrepreneurskap.

Haar toespraak het egter in gebreke gebly om die diepliggende en toksiese politieke probleme te erken waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word en wat bykans alles in die samelewing besmet: endemiese korrupsie, die onbevoegdheid van die regering en institusionele agteruitgang.

Miskien sê die ongelewerde toespraak alles

Natuurlik sal die gehoor by GIBS se spoggerige kampus in die gegoede Illovo waar cappuccinos bedien word en studente se motors in die onderdak-parkeerterrein by ’n ekovriendelike karwassery gewas word, nie die volgende leier van die ANC in Desember kies nie.

Dit word deur afgevaardigdes van die ANC se takke gedoen en hulle moet nog geïdentifiseer word. Dít is die mark wat sy wil bereik.

NDZ gee dalk net vaagweg om vir die gehoor by GIBS, indien enigsins.

So, wat sê sy aan die afgevaardigdes van die takke wanneer sy by hulle vlerksleep? Die antwoord is dalk opgesluit in die kopie van haar GIBS-toespraak wat as die amptelike een uitgedeel is, maar bykans geen ooreenkoms getoon het met wat sy wel gesê het nie.

In daardie toespraak hang ’n baie meer strydlustige Dlamini-Zuma haar vlag aan die Bell Pottinger/Gupta-stok.

“Dit is waarom dit belangrik vir ons is om sonder bontpratery te bly erken dat witmonopoliekapitaal steeds die lot bepaal van die meerderheid swart Suid-Afrikaners . . . Suid-Afrika sal getransformeer word van ’n land wat behoort aan, en uitgebuit word deur ’n klein minderheid van wit kapitaliste en hul imperialistiese geldskieters tot ’n land wat behoort aan almal wat daarin bly, swart en wit,” lui die teks.

Maar waar dit werklik van koers verander, is wanneer dit sê: “Ons moet verseker dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) nie vasklou aan ’n struktuurlose ‘onafhanklikheid’ nie, maar dat sy duidelike en ondubbelsinnige taak moet wees om die ontwikkelingsbeleid van ’n mensgerigte ontwikkelingsplan van die meerderheid ANC-regering in werking te stel.”

En later: “Ek herhaal weer dat dit eenvoudig nie langer toegelaat kan word dat die SARB ’n beleid volg wat onafhanklik van die regering is nie. Die SARB moet in ooreenstemming gebring word sodat hy die regering se ekonomiese transformasiebeleid steun en dit in werking stel.”

Toe die gemoedelike vraag-en-antwoord-sessie (selfs met ’n geplante vraag van een van haar ondersteuners) verby was, het verslaggewers op Dlamini-Zuma toegesak. Die meeste van hulle was van buitelandse instellings soos die Times van Londen, Reuters en The Economist.

Dit was die enigste keer wat haar uitdrukking verander het en sy kwaad geword het: “Hierdie is nie ’n perskonferensie nie . . . Ek sal later met julle praat,” het sy geïrriteerd aan die joernaliste gesê voordat sy deur die kamma-pierewaaier Carl Niehaus gered is.

Dlamini-Zuma mag heeltemal oninspirerend en onbetrokke wees, maar sy het die institusionele steun van groot dele van die ANC-masjinerie en haar veldtog word gelei deur van die skerper lede van die party se topstrukture.

Sy mag dalk net onkeerbaar wees.

* Du Toit is redakteur van Huffington Post Suid-Afrika. Dié rubriek het aanvanklik op Huffington Post Suid-Afrika verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.