Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Nogtans sal ek jubel, dingese ten spyt
Annemarie van der Walt

Waar kom die benaming ongeluksvoël vandaan? Hoekom ’n voël? Is voëls nie veronderstel om vlug in vaart te wees nie, op die wieke van die wind te sweef, onaangeraak deur die wêreldse gravitasie, en al daardie mooi dinge nie?

Die HAT sê slegs heel bondig: Ongelukskind: iemand wat baie teëspoed kry. Nee wat, ek wil eerder ’n voël wees met die vae hoop dat ek op die een of ander manier vlerke sal kry en met ’n gefladder sal ontsnap uit Nabot wat skynbaar sy persoonlike wingerd op my werf kom plant het én al wat ’n sluwe klein jakkalsie is, saamgenooi het.

Daar was hoeka so vosserige reuk in die doringrige struik waar ek met my neus amper tot teen die wortelstelsel gelê het nadat my voet gegly en ek soos ’n os neergeslaan het. Hoe onwaardig, was die gedagte, om tegelyk met die boude in die lug én soos Absalom aan die takke te hang en my laaste asem uit te blaas.

En snaaks, deesdae voel ’n mens mos eerste of jou selfoon se skerm nog heel is voordat jy byvoorbeeld jou knieskyf terugdruk waar dit hoort.

Is voëls nie veronderstel om vlug in vaart te wees nie, op die wieke van die wind te sweef?

Die geluk by die ongeluk toe ek my die volgende donkeroggend te pletter loop teen die swart emmer vol hondekos voor die tuimeldroër, was dat die selfoon nie byderhand was nie. Een minder ding om aan te dink terwyl ek winduit op my maag lê en probeer onthou waarom die verdomde emmer daar staan en dan die a-ha-oomblik: Om die stukkende deur van die tuimeldroër toe te hou. Die het nou die dag net so woeps van al wat skarnier is ontslae geraak.

Wat min of meer die teenoorgestelde is van die agterdeur se slot wat weer nie her- of derwaarts wil draai nie. Nou moet ek telkens óm die huis loop – gaan dit hier teen die sewende keer soos Jerigo se mure ineentuimel? – en ek sweer ek hoor kompleet die giggelende tjankies van daardie simpel jakkalse wegsketter sodra ek om ’n hoek kom.

Só het die motor se een wiel amper geklink toe elke moer of wat ook al vasgeslaan het. Maar nogtans sal ek jubel, pure Habakuk, want dit gee die werktuigkundiges toe kans om agter te kom daar is ook tien naafbusse wat vervang moet word. En sowaar, die linkerkantste handremkabel is so onbeweeglik soos die rots van Gibraltar, en dis nou een ding wat liefs nie só bleddie stand-vastig moet wees nie.

Tot voordeel van my geestesgesondheid is die internet oudergewoonte konsekwent wisselvallig en kan ek nie byhou met die beroerde stand van landsake nie.

Diep was die verligting dus toe ’n buurvrou aan die deur klop met ’n glas wyn in die hande. “Het jy geweet dit het meer as 300 millimeter gereën die afgelope week of wat?” Sy beduie na my tuin toe. Daar waar die septiese tenk is. “Maar die hoë watertafel laat . . . uhm . . . die dingese dryf.”

Toe drink ek haar glas leeg met een sluk en sing uit volle bors: “Neem my op vlerke . . .”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.