Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Nuwe OB kan maar nog in die skadu staan
Alicestine October

Indien die openbare beskermer se eerste gemeenskapsvergadering ’n toets was, het adv. Busisiwe Mkhwebane straks op ’n manier geslaag wat nasieners waarskynlik agterna sou laat bly wonder of sy afgekyk het.

Die vrou wat nou adv. Thuli Madonsela se skoene moet vol staan, het op Khayelitsha besluit as die plek waar sy haar eerste ontmoeting met mense op voetsoolvlak gaan hê. Sy het immers in die parlement in haar onderhoud vir dié pos belowe dat sy dinge op háár manier gaan doen.

Van die dinge wat sy genoem het, was onder meer om die OB se kantoor “nader aan die mense te bring”. Onder Mkhwebane se beloftes was ook beter samewerking met staatsdepartemente, want sy dink nie dis nodig om die regering vyandiggesind te wees nie. Tot dusver het sy op verskeie fronte haar stempel probeer afdruk om haar voorganger se skaduwee af te skud. Maar soms is ’n bietjie skadu wel goed.

Daar was kere dat sy dit meer blatant gedoen het, ander kere meer subtiel. Soos toe sy in haar eerste verslag aan die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste ’n paar dwarsklappe gewaag het na hoe die titels van verslae in Madonsela se termyn “onnodig sensasioneel is”. Soos die een van pres. Jacob Zuma se achilleshiel – die Nkandla-verslag – wat “Secure in Comfort”genoem is.

Maar terug na Mkhwebane se debuut in Khayelitsha.

Hier het sy haar klaarblyklik by haar belofte gehou toe sy die inwoners as deel van die 16 dae lange veldtog teen geweld teen vroue en kinders toegespreek het oor die rol wat die OB se kantoor in mense se lewe kan speel. Saam met die kantoor van die OB was die SAPD, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die departement van justisie en korrektiewe dienste en die organisasie Famsa.

Die verrigtinge was die oggend eers stadig uit die blokke met bejaarde inwoners wat oënskynlik “gekaap” was op pad huis toe vanaf die betaalpunte van die agentskap vir maatskaplike sekerheid, Sassa. Dit was die einde van die maand en ouderdomspensioene word dan uitbetaal – so daar kon op die euforie van ’n voller beursie gekapitaliseer word.

Daar was wel ook werklose jongmense onder die inwoners wat later sou vertel van hul probleme met die polisiediens, gesinsgeweld en die stryd om papgeld.

Dat dit wel gepas en voordelig is om verskillende staatsinstellings te betrek by sulke gemeenskapsinteraksies is nie te betwyfel nie. Senior verteenwoordigers van die polisie kon help om vrae uit die gemeenskap te beantwoord, terwyl die gesinsadvokaat kon antwoord op die hofprosesse en die geslagskommissie kon vrae oor gesinsgeweld en die 16 dae lange veldtog beantwoord. So ’n samewerkende benadering is goed vir dienslewering en die publiek kan die grootste wenners wees.

Mkhwebane se verbintenis tot die publiek en hul belange is op die oog af duidelik. ’n Gesprek na afloop van die verrigtinge wys haar bedoelings is waarskynlik goed en sy sê (meestal) al die regte dinge. Om mense bewus te maak van die OB-kantoor en om hulle aan te por om klagtes aan te meld oor kwessies wat na aan hul harte lê, is prysenswaardig. Dit is immers wat die beskermer van die publiek behoort te doen.

Maar Mkhwebane se paaibeleid teenoor die regering krap steeds. Dit gaan ’n fyn balanseertoertjie kos tussen die vrou op straat wat jare lank sukkel met ’n ondoeltreffende polisiekantoor om haar gesinsgeweldsaak af te handel en ’n klag oor iets wat die siel van ons demokratiese bestel kan bedreig. Die einste bestel wat die reg om die einste polisiekantoor verantwoordbaar te hou, verseker.

Al twee is ewe belangrik. Dalk moet Mkhwebane dit nog vir haarself duidelik maak en ’n rukkie langer in die skadukol deurbring, want die OB-stoel gaan vir haar nog begin warm raak – en dit is nou eers die eerste maand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.