24 Junie 07:17
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Menings
Ons hou ’n bietjie van Cyril, maar hy lieg

Die middelklas se putatiewe messias sê Dinsdag by Cosatu se beraad dat ’n ondersoek na staatskaping noodsaaklik is, want dit sal die ANC red “en wanneer dié ondersoek voltooi is, mag staatskaping nooit, ooit weer gebeur nie”.

Cyril. ’n Lekker ou! Slím. Wel ter tale. Oog vir ’n buffel. Lyk netjies in ’n snyerspak. Hy’s net soveel meer . . . gesofistikeerd as Zuma. Hy’s net soveel meer . . . Sandton as Soshanguve.

Anders as sy prinsipaal verstaan Ramaphosa klaarblyklik enkele van die ­beginsels van die markekonomie.

As jy sy iterasie van die ANC-projek afsluk met ’n Chivas kry jy die maagkrampe nie dadelik nie. Eers môre.

Cyril verstaan dat die ANC se “nasionaal-demokratiese revolusie” na buite getemper moet word met die soeter taal van die . . . wat was dit nou weer . . . die Nasionale Ontwikkelingsplan, anders kies beleggers koers, en wie gaan die mynskagte sink en die oproepsentrums bou en die kernkragsentrales oprig (goed, seker Poetin) en die direksies se salarisse betaal sonder ponde, dollars en yuan wat met die oog op wins en stabiliteit eerder as bevrydingsdogma hier ingestoot word?

Hy verstaan dat jy rasnasionalisme in jou binnekamer kan goedpraat, maar dat jy dit nooit openlik moet propageer nie – wit mense is mos vreeslik fyngevoelig. Jy klee jou revolusionêre beleid en selfs die kwaadaardigste kwotaskemas in welluidende terme soos “ekonomiese geregtigheid” en “transformasie”.

Cyril is eerder ’n duiwel as ’n messias. Hy is egter ’n duiwel wat weet hoe om die padda te paai . . .

Hy verstaan dat regerings vlotter funksioneer indien hulle ’n mate van steun in alle gemeenskappe geniet eerder as net onder swart landelike stemvee en die stedelike regeringselite: Dat selfs sakelui, selfs astrante aktiviste, selfs die “monopolistiese” media en selfs etniese minderhede redes benodig om te glo dat hulle meer as net geduld word. Hy verstaan dat middelpuntvliedende kragte hierdie dinamiese/plofbare land kan verteer as leiers albei hul voete van die rempedale sou haal.

(Ramaphosa het ook al gewys hy verstaan hoe om swart ekonomiese bemagtiging, wat eendag lank lank gelede bemark is as armes se sprokieskip uit die hawe, te gebruik as ’n kortpad na beduidende aardse skatte.)

Maar ai, ook in Cyril se are vloei ANC-bloed en daarom is daar waarhede waarvoor hy hom ter wille van sy politieke oorlewing blind moet hou. Daar word ook van hom verwag om soms loutere snert te praat.

Soos die afgelope Dinsdag by Cosatu.

Want kommissies van ondersoek word nie in Suid-Afrika gebruik om waarhede bloot te lê nie, mnr. Rama-phosa. Kommissies word in die lewe geroep om politieke probleme op te los.

Net soos wat die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapenskandaal niemand aanspreeklik gehou het vir die miljarde wat vermors is op fregatte, vegvliegtuie en omkoopsomme nie, is die voorgenome kommissie van ondersoek na staatskaping deel van Jacob Zuma en die hiënas se oorlewingsplan eerder as ’n skans teen staatskaping.

Dit is, en die skep van sulke kommissies was in die verlede ook meestal, ’n poging om die kannetjie by die pad af te skop. Dit koop vir die skurke met wie Cyril al jare brood breek tyd.

Staatskaping kan om verskeie redes nie deur ’n kommissie van ondersoek gestuit word nie. Eerstens, omdat so ’n kommissie op Zuma se wagbeurt in die lewe geroep gaan word en Zuma sal verseker die prinsipaal is mak en die mandaat wyd of vaag of albei.

Verwag in die inleidingsparagrawe van die uiteindelike verslag (2024? 2025?) ’n terloopse verwysing na die Guptas en dan ’n polities gerieflike klemverskuiwing na witmonopoliekapitaal en apartheidsplundery en die oorkonsentrasie van groot (bleek) spelers in die ekonomie; verwag dat die Groot Handelsbanke bygesleep sal word, en die Ruperts. Dít was min of meer waarvoor die ANC-vroueliga die afgelope week gepleit het, en dít is wat die Gupta-mafiabase soek: ’n sondebok.

Tweedens sal so ’n kommissie, selfs ná die afgelope sewe dae se verbysterende onthullings oor die rol van niestaatspelers in regeringsake, nie die kultuur kan verander van ’n ANC wat in wese ondemokraties is nie.

Die ANC het nie teen apartheid geveg om dit met grondwetlike demokrasie te vervang nie. Hulle het teen apartheid geveg sodat hulle die mag kon bekom en dit uitoefen sonder inhibisie.

Dít sal die doelwit bly, selfs ná Zuma se kommissie getuies begin roep.

Cyril is eerder ’n duiwel as ’n messias. Hy is egter ’n duiwel wat weet hoe om die padda te paai terwyl hy die stoof aanskakel en die water in die pot met ’n glimlag tot by kookpunt bring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.