Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Só kan SA glorie van 1994 herwin

Toe Suid-Afrika op 27 April 1994 sy buiging as die wêreld se jongste demokrasie gemaak het, was daar blydskap en opgewondenheid die wêreld oor.

Die land is toe beskou as ’n politieke wonderwerk en ’n voorbeeld vir die res van Afrika. En met oudpres. Nelson Mandela aan die spits, het die deure van ’n eens geslote en vyandige wêreld weer geopen.

Deesdae, met pres. Jacob Zuma aan die spits, lyk dít alles na ’n ster wat verskiet het. Mandela se visie het in ’n nagmerrie ontaard en Suid-Afrika is nie meer die wêreld se gunsteling-wonderwerk-land nie.

Freedom House, die Amerikaanse nie-regeringsorganisasie wat die stand van demokrasie wêreldwyd monitor, het Suid-Afrika in sy 2016-verslag op ’n lys van lande geplaas wat vir demokratiese agteruitgang dopgehou moet word. Zuma en sy verhouding met die Guptas is een van die redes wat aangevoer word.

In die verslag word onder meer verwys na Zuma se vele skandes, wat ondermynend vir die ANC se reputasie is en tot die ANC se terugslae in die plaaslike verkiesing van 2016 bygedra het.

Luidens die verslag is daar toenemende wêreldwye agteruitgang in die demokrasie. Nie eens Amerika word gespaar nie, en die rol van China en Rusland kom ook in die soeklig as bydraend tot die agteruitgang.

Daar word gewys op twee gevare vir die demokrasie, toenemende populisme en outokrasie. Veral populisme is stewig op die toneel en beïnvloed selfs die gevestigde Westerse demokrasieë.

Pres. Donald Trump kan beskou word as ’n nasionalistiese populis, en die besluit van Britse kiesers om die Europese Unie te verlaat, as ’n uitdrukking van nasionalistiese populisme.

In Suid-Afrika maak Julius Malema en sy EFF groot opgang en word toenemend as ’n alternatief vir die ANC en ander politieke groeperinge gesien. Maar Malema en die EFF is niks anders as bewese populiste nie.

Dit is uiteraard die kiesers se besluit of die land aan hulle toevertrou moet word, maar dink baie mooi voor daardie besluit geneem word.

Kan Suid-Afrika ooit weer die glorie van 1994 herwin?

Kan Suid-Afrika ooit weer die glorie van 1994 herwin?

Dit is moontlik, ja, maar maklik sal dit nie wees nie.

Mandela se leierskap was in 1994 die grootste faktor in die relatief suksesvolle oorgang van apartheid na demokrasie. Mandela was enig in sy soort en dit sal onregverdig wees om van iemand anders te verwag om presies soos hy te wees.

Daar word gesê dat oudpres. Thabo Mbeki dit moeilik en selfs frustrerend gevind het om Mandela se skoene te probeer volstaan. Die uitdaging is nie om nés Mandela te wees nie, maar om die waardes waarvoor hy gestaan het, sigbaar na te streef.

Ek wil wed dat Suid-Afrikaners goed sal reageer op iemand wat sigbaar daarna streef om soos Mandela te lei. Hy het goed daarin geslaag om sy retoriek bo dié van die ANC s’n te verhef.

Die ANC sou byvoorbeeld nooit op eie stoom na Orania gegaan het om tee by Betsie Verwoerd te drink nie. Mandela het en só die soort voorbeeld gestel wat baie kamerade in die ANC waarskynlik as verraad beskou het.

Dus, Cyril Ramaphosa, Nkosazana Dlamini-Zuma, Lindiwe Sisulu, Jeff Radebe, Baleka Mbete en Zweli Mkhize, julle hoef Mandela nie te herskep nie. Volg net sy voorbeeld en leer uit sy onberispelike nalatenskap.

Doen dit en gee Suid-Afrika weer ’n kans om sy naam in ere te stel sodat ons weer trots ons plek tussen die wêreld se voorste en voorbeeldigste demokrasieë kan inneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.