Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Stembus ál wat Zuma kan stuit

Pres. Jacob Zuma se pogings om beheer oor die tesourie te neem het die afgelope naweek ’n sinistere wending geneem met die bekendmaking van die eerste voorstelle wat die ANC beplan om in Junie op sy beleidskonferensie te oorweeg en waaroor ’n finale besluit op sy nasionale verkiesingskonferensie in Desember geneem sal word.

Dit sluit in ’n plan om die tesourie as ’n “strategiese magsentrum” in die presidensie te vestig. Met ander woorde, geen speletjies meer nie, maar ’n openlike kaping van die tesourie, en by implikasie die staatskas.

Vir Pravin Gordhan, die minister van finansies, beteken dit hy weet nou hy kom nie net teen die president nie maar teen die hele ANC te staan. Die vraag is of Gordhan gaan toelaat dat hy gestoot word en of hy gaan spring voordat die mes finaal in sy rug gedruk word.

Die stryd om beheer oor die tesourie kom nou al lank aan en die meeste is dit eens dat Zuma die tesourie vir allerlei gruwelike redes wil kaap.

Zuma het onlangs gesê die tesourie staan in die pad van staatsprojekte wat Gordhan reken is nie in die nasionale of openbare belang nie.

Een só ’n projek is die kernkragplan, wat miljarde rande sal kos – geld wat die land eenvoudig nie het nie, maar wat van Zuma se bondgenote skatryk kan maak.

Die ANC gebruik wollerige taal soos “strategiese magsentrum” om die meer diaboliese doelwit te verdoesel.

Die besprekingsdokumente gaan nou deur ANC-takke bespreek en vir oorweging deur die nasionale verkiesingskonferensie in Desember voorberei word.

Die nuwe verwikkelinge gaan Gor­dhan se beweegruimte aansienlik verskraal. Hy en sy kollegas in die tesourie veg ’n verbete stryd om hul werk met ’n mate van onafhanklikheid in belang van die land te doen en nie van ’n uitgesoekte en gierige elite met politieke bande nie.

Die ANC gebruik wollerige taal soos “strategiese magsentrum” om die meer diaboliese doelwit te verdoesel.

Hulle misgis hulle egter lelik as hulle reken dat niemand sal agterkom wat werklik aan die gang is nie. As enigiemand wonder wat Zuma en sy bondgenote met die nuwe mantra van “radikale ekonomiese transformasie” bedoel, behoort hulle nou te weet.

Dit beteken die oorname van die tesourie en die stroop van die staatskas.

Gordhan besef dit en weier om aandadig te wees. Hy kon dalk vir Zuma op sy eie teengestaan het, maar die beleidsvoorstelle verander die politieke dinamiek heeltemal. Hoe baklei Gor­dhan teen Zuma as hy deur besluite van die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam gerugsteun word?

Daar is dus net een manier waarop Zuma en sy trawante gestuit kan word, en dit is by die stembus. Opposisiepartye het reeds verlede jaar gewys die ANC is kwesbaar. Hulle sal eenvoudig net hul spel moet opknap om die vordering wat verlede jaar in die plaaslike verkiesings gemaak is, te verdiep. In ’n ANC-verkiesingsjaar sal die party hom waarskynlik verder in die voet skiet en kiesers vervreem. Die yster is dus rooiwarm en moet nóú gehamer word.

Die res van die ANC se beleidsplanne moet nog bekend gemaak word en dit sal waarskynlik nóg meer skietgoed verskaf om die regerende party mee te teiken. Die land se toekoms balanseer nou op ’n skraal en gevaarlike lysie en kan met die voorstelle oor die tesourie oorhel en by die afgrond afstort.

Die voorstelle gee nuwe betekenis aan hoe belangrik die verkiesing van 2019 gaan wees. Dit gaan nie meer oor of Zuma ’n goedgesinde kandidaat kan kry om hom as ANC-leier op te volg nie. Dit gaan wesenlik oor die land se toekoms. Dit is nóú die tyd vir aksie om Zuma te stuit.

Meer oor:  Zuma  |  Anc  |  Stemme  |  Stembus  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.