30 April 18:42
Kaapstad Verander Area

Maandag

19°C / 16°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Woensdag

22°C / 15°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

18°C / 16°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Saterdag

17°C / 16°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 81%

Menings
Suid-Afrikaners moet wys wie hulle regtig is

Suid-Afrikaners sal meer moet doen om die land te red as om net aan optogte deel te neem. En wanneer ons begin om gemeenskappe op te hef, sal ons ’n idee kry van wat ’n tipiese Suid-Afrikaner is en kan wees, skryf Koos Kombuis.

Illustrasie: Koos Kombuis

Wat is ’n Suid-Afrikaner?

Kry ’n mens iets soos ’n tipiese Suid-Afrikaner?

Ek weet ek beweeg nou gevaarlik naby aan stereotipering, maar dit is tog moontlik om te sê wat ’n tipiese Amerikaner is. Jy kan hulle in die eerste plek uitken aan hul aksent. Hulle hou van hamburgers en hulle noem tjips “fries” (soos in “fraais”).

Almal weet wat ’n tipiese Duitser is. Hulle praat Duits, drink bier en . . . wel, ja, hulle drink bier.

Australiërs boer glo met skape. Nieu-Seelanders speel almal rugby. Engelse drink vieruur in die middag tee en eet komkommer-toebroodjies. Hulle noem dit nie “tea” nie, maar “tay”.

Soos ek gesê het, dié stereotipes is nie heeltemal regverdig nie en is ook lankal nie meer geldig nie – veral nie deesdae, met grense wat al meer vloeibaar word en vlugtelinge wat besig is om die demografie van baie lande onherroeplik te verander nie. Maar die argetipes leef voort in die kollektiewe onderbewuste van die wêreld.

Nou vra ek jou met trane in my oë: is daar iets soos ’n “tipiese Suid-Afrikaner”? Al is dit net ’n argetipe of ’n urban legend?

Hoe ek ook al probeer, ek kan nie ’n prentjie optower in my kop van ’n “tipiese Suid-Afrikaner” nie.

Ek vermoed, en my geheue laat my genadiglik in die steek, dat ek ’n hele paar jaar terug ook ’n artikel geskryf het oor dieselfde onderwerp. Wat presies ek gesê het, kan ek nie onthou nie. Ek vermoed ek het vir ’n paar paragrawe lank moerse slim probeer klink en toe geëindig met iets oor ubuntu of die reënboognasie of versoening.

Maar versoening, dit besef ons nou, kom nie goedkoop nie, en die sogenaamde reënboognasie is nie net ’n tjoklitboksprentjie nie.

Ons is reeds aan die begin van ’n glybaan na nêrens.

Vandag, meer as 20 jaar ná die aanvang van demokrasie, lyk dit asof ons al hoe verder wegbeweeg van die ideale van Mandela, Kathrada en die ou strydrosse van die Struggle. Eintlik behoort ons nou al ’n baie duideliker idee te kon begin vorm van ’n moontlike eie Suid-Afrikaanse identiteit.

En ironies genoeg het ons dit wel begin regkry, maar eers in die afgelope weke, toe wit en swart saam marsjeer het teen Zuma. Die eerste treetjies na ware nasiebou het dus nie plaasgevind met die seëning van die regering nie, maar in gesamentlike protes teen ’n regering wat, soos die Bothas van ouds, toenemend die rassekaart speel.

Dit is wonderlik dat sogenaamde wit Suid-Afrikaners – ek gebruik die term “sogenaamd”, want my ideaal vir Suid-Afrika is juis dat stereotipering op grond van ras uiteindelik moet verdwyn, nie net uit ons kollektiewe bewussyn nie, maar ook uit ons identiteitsdokumente en ekonomiese beleidsrigtings! – vir die eerste keer so sterk oor ’n saak gevoel het dat hulle die gemaksones van hul huise agtergelaat het om saam met hul mede-Suid-Afrikaners hul voete plat te loop op die highways en pleine van die land.

Bravo!

As ’n besoeker van oorsee my ooit sou vra “wat is ’n tipiese Suid-Afrikaner?” – sou ek graag vir hom daardie prentjie wil wys; die prentjie van mense wat in rye en rye saam stap en saam staan vir ’n regverdige Suid-Afrika. Net soos die ellelange toue mense wat in die 90’s vir die eerste keer almal saam gaan stem het.

Dit klink na goeie nuus.

Maar daar is ook slegte nuus.

Ons sal meer moet doen, veel meer as slegs marsjeer en plakkate omhoog hou, om ons land uit die junkstatus te trek waarin ons onsself bevind weens die roekelose gulsigheid en middernagtelike gekonkel van die politici.

Ons is reeds aan die begin van ’n glybaan na nêrens. Dis asof ons al vinniger gly namate die afdraand steiler word.

Geen enkele groep of party kan die proses alleen stuit nie. Ons sal almal moet saamstaan soos nooit tevore nie. Die faksies wat gil ten gunste van rassepolarisasie is nog in die minderheid, maar hulle is baie luid. Ordelike debatte word al hoe moeiliker.

Koos Kombuis

Ons kan meer doen. Witmense het geleer marsjeer. Wanneer gaan ons swart tale aanleer? Wanneer gaan ons werkers hul eie aandele gee in plase? Wanneer gaan kerke die sale wat buiten Sondae leeg staan, oopmaak om makeshift skole te begin vir die 28 000 kinders in Gauteng en die Wes-Kaap vir wie daar met die aanvang van 2017 se skooljaar nie plek was nie?

’n Mens kan redeneer dis die regering se verantwoordelikheid, dis nie ons skuld nie. En dis waar. Maar ons het by die punt gekom waar ons moet besef, soos Solidariteit en ander besef het toe hulle self ingespring het om slaggate reg te maak, dat die regering nooit dié dinge gaan doen nie. Ons moet dit eenvoudig self doen. As ons as Suid-Afrikaners saam kan marsjeer, kan ons ook ons moue oprol en huise bou, gemeenskappe ophef, dienslewering verskaf waar die amptelike strukture in duie stort of tekort skiet.

Die dag wanneer dit begin gebeur, sal ons ’n prentjie kry van wie en wat ’n gemiddelde Suid-Afrikaner is en kan wees.

Ons mag wel vele volke wees in hierdie land, maar ons is een Suid-Afrikaanse nasie. Die tyd is reg om op te staan nie net vir wat ons wil hê nie, maar vir wie ons is.

* Kombuis is 'n afgetrede popster wat nou in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.